’n Uittreksel uit Man op ’n fiets êrens heen
Frederik de Jager, Foto: Douw Steyn
Frederik de Jager, Foto: Douw Steyn

Deur Frederik de Jager (Graffiti, R200)

As ’n mens jare lank ander skrywers – onder andere Etienne van Heerden, Deon Meyer, Marlene van Niekerk, Karin Brynard en Antjie Krog – se manuskripte blink poets, kan daardie kritiese oog jou seker aan bande lê wanneer jy self skryf.

Ja, sê Frederik de Jager, wie se eerste boek, Man op ’n fiets êrens heen, pas verskyn het. Hy is ook ’n ouduitgewer en mede-eienaar van The Talking Table op Lesbos in Griekeland, waar hulle onder meer skryfskole aanbied.

“Daardie interne redakteur vreet my sinne op so vinnig soos wat ek hulle geskryf kry,” vertel hy.

Sy skryfstukke het voorheen in Vrouekeur verskyn en is dus in rubriekvorm – wat spesifieke eise aan ’n skrywer stel.

“Dié vorm is so wyd soos die spektrum persoonlikhede van rubriekskrywers. Vir my was die kort formaat van 750 woorde ’n groot hulp en dissipline om by die kern te hou en op ’n klinkende slot af te probeer skryf. Dis eers agterna dat van die goed vir my baster na kortverhale gelyk het.”

’n Rubriekskrywer skryf vanuit hul eie lewe en loop dus die gevaar dat dit te “ekkerig” raak. Frederik sê hy meen sy stukke is nie juis “te ek-bevange” nie. “Ek het in die rubrieke deurgaans probeer om met aandag te kyk, nie na my nie, maar na die onder­skeie ‘mense onderweg’ waar hulle my pad gekruis het.”

Our longing for Greece is comforted by the wonderful food we learned to cook there. From our beloved Lesbos more...

Posted by The Talking Table on Tuesday, 30 March 2021

Moenie vra of die rubrieke vingeroefeninge vir ’n roman was nie! “Ek vrees daardie vraag. Hierdie boek het ek reggekry net omdat ek met die lewering van rubriekstukke nie geweet het ek skryf aan ’n boek nie. Maar wie wil nie ’n roman skryf nie? As ek sou moet gaan Sit Om ’n Roman Te Skryf, sal julle my weldra iewers in die heuwels moet gaan soek.”

Ek vra hom na sy gunsteling in die boek.

“Jy vra ’n hen om een uit 55 eiers te kies! In ‘Draaijakkals’ huur ’n gladdekuif-, latlyf-, breëkraag-mechanic die spaarkamer in my eerste huisie. Hy werk aan my kar vir huurgeld. Die kar slaan aan die brand.

“Ek dink hy gee my een van my lekkerste slotreëls – ‘Going like a Boeing’ (wanneer die Golfie amper in ligte laaie staan) – omdat ek heimlik hou van so ’n karakter: ’n glibberige ventjie, ja, maar gefokus op oorlewing, en vermaaklik op die manier wat dit vermaaklik is om ’n jakkals vol planne in die veld dop te hou.”

’n Uittreksel uit Man op ’n fiets êrens heen

Beskikbaar by graffiti.co.za
Beskikbaar by graffiti.co.za

Die vraaglose geloof

As ek my hier-en-nou meet aan my komvandaan, voel dit partykeer of daar so min ooreenkomste is dat ek moet wonder of ek een en dieselfde mens is. Die kern van wat ’n mens glo jou self is, is volgens sielkundiges nouliks een aaneengeskakelde kontinuum van jou begin tot jou einde.

Is ons weinig meer as ’n voortgesette sameflansing van herinnerings vervaardig deur ’n onbetroubare geheue?

Vat nou vir my. As ek voortgevaar het op die koers wat ek so ywerig gekies het in my jeug, was ek nou sendeling iewers op die aardbol. Ek sit wel iewers ver op aarde, maar wat ek nou doen, vra meer verantwoordelikheid vir die liggaam en die intellek as vir die siel. Dalk is dit alles een.

Maar toe ek ’n opgeskote knaap was, was ek elke Sondagmiddag op my fiets, op pad sendingwerk toe. “Sendingwerk” het begin by die huis van oom Eric Myburgh.

Hy was ’n ronde mannetjie met ’n snorretjie. Hy moes sy broek kort-kort optrek. Sy skoene was gepoets. Hy was nie geleerd nie. Maar sy hart was goud en hy was diep besield. Trou en enkeld was hy in sy toewyding aan die sending.

Miskien was oom Eric ’n uitsondering. Dalk was hy nie hierdie losse konstruk van gemoedsinhoude wat ons ander volgens die sielkundiges is nie. Tien teen een was hy in sy kern so verdig van sy passie vir die Here dat daar iets solieds was wat ander mense makeer.

Hy het met sy eie geld ’n minibus gaan koop, al had hy dit nie breed nie. Hy versamel ons Sondae eers by sy huis. Hy doen ’n gebed en ons sing koortjies. Ek is op die trekklavier. Die liefde van Jesus is wonderbaar. In times like these. My cup is full and running over.

Die oom gee ons traktaatjies om uit te deel. Die krag van gebed wetenskaplik bewys. Die weg tot saligheid in drie stappe. Agterop is die adres van die drukkers. Ek skryf aan hulle en ’n paar weke later kom die bruinpapierpakkie met die pos. My eie traktaatjies! Gedruk op vaal newsprint met tekeninge uit die jare vyftig. Die boodskap het immers nie verouder nie, reg?

By die bruin woonbuurt aangekom, staan die poele modderwater tussen die sinkhuise wat dieper in tussen die portjacksonbosse uitslaan. Ek dra my hoë platformskoene wat soos seekoeitjies op plinte aan my voete sit. Gesteld op my cool, so met my bellbottom-­broek, my rock star look. Liggies vies vir die modder stap ek uit die Hi-Ace.

Op stoele in die son sit mense versuf. Het jy al van die Here gehoor, vra kind aan volwassene. Dit ruik nie aangenaam nie. Alles menslik dam hier op. Gee ’n traktaatjie en loop aan, want die gesig van die mens wat daar sit, toon geen beweging van die Gees nie. Elders tref jy dit gelukkiger: iemand op die bloutrein. Jy kan die spiritus aan hom ruik. Hy is op so ’n spoed dat hy alles wat jy sê in sy dolle vaart meesleur.

Et Spiritus Sancti.

Op ’n droë kol het iemand die kinders versamel. Ek speel, hulle sing. Since the Lord saved me I’m as happy assa bee, my cup is full of running over.

Blyste van alles is hulle oor die traktaatjie wat elkeen gekry het.

Ons het geen idee gehad waarvan ons die mense moes gaan red nie. Ons het sekerlik nie die evangelie verstaan nie, nog minder die politiek. En die maatskaplike nood reg in ons gesig was so onuitspreeklik dat ons dit teenoor onsself verswyg het. Maar volgende Sondag was ons weer daar, omdat oom Eric daar is en hy ons weer uitvat.

Ek sien hom om die hoek van sy huis aankom, plukkend aan sy belt, op vol spoed kombi toe. Ons gaan vir Jesus werk, julle. Die enkele onbreekbare draad, die eenduidige opregtheid, die vraaglose geloof.