Vier susters

Deur Gerda Taljaard (Penguin, R314*)

Gerda Taljaard. Foto: Joanne Olivier
Gerda Taljaard. Foto: Joanne Olivier

“My ouma Griet was ’n bobaas­storieverteller. Wanneer sy oor haar kindertyd op die plaas Wysfontein vertel het, het ons kinders ons ingeleef in al die gebeure en karakters wat sy met verskillende stemtone en gesigsuitdrukkings opgetower het.”

So vertel Gerda Taljaard waar sy kom aan die storie vir Vier susters, haar jongste roman.

“Sy het dikwels oor haar susters vertel, van Kattie en Pieta en Grieta en Anna. Anna was my ouma se Sotho-­suster; sy was altyd ten volle deel van die huishouding en van die staaltjies wat my ouma vertel het. Ek dra al jare lank die storie oor vier susters in my rond, maar ek was eers onlangs gereed om dit neer te skryf, dalk omdat baie dinge daaromtrent pynlik is.”

Die plaas Broedersdraai is die gemene deler in Vier susters, wat rondom 1945 afspeel – maar moet geen tradisionele plaasroman verwag nie. Die drama in die lewe van Beatrice, Kietie, Sophié en Ivy bereik ’n hoogtepunt met die aankoms van Domenico Valente, ’n Italiaanse krygsgevangene, op die plaas.

Ek vra Gerda hoe sy dit reggekry het om die vier vroue te teken sodat hulle nie dieselfde lyk en klink nie; of sy hulle vooraf dalk werklik op papier geteken het.

“Ek kan nie teken nie, maar ek is sterk visueel ingestel. En ek hou daarvan om mense dop te hou. Ek is self een van vier susters, en het my nog altyd verwonder aan hoe uiteenlopend ons persoonlikhede is, selfs al is ons bloedsusters. Elkeen van die susters in my boek het baie helder voor my kom staan, elkeen met haar eie geaardheid, giere en geite. Ek het eers elkeen se storie apart vertel, en dit toe afgewissel deur te spoeg en te plak.”

Sy vertel sy moes heelwat navorsing oor die era doen waarin die boek afspeel, en Albert Blake se Wit terroriste en Hermann Giliomee se Die Afrikaners was ’n onuitputlike bron van inligting oor die Ossewabrandwag.

“Die lekkerste navorsing was die deel oor die vroueterroriste wat vir die Stormjaers opgetree het. Hulle het dinamiet aangery, die Rooi­lissies verlei en met ammunisie gesmokkel. Hulle was onverskrokke, avontuurlustig en militant.”

Een van Gerda se mans­karakters is die grillerige dog interessante fotograaf wat Beatrice verlei, en ek vra of hy op ’n ware mens geskoei is.

“Gelukkig nie. Maar sy soort het my pad al ’n keer of wat gekruis: talentvol, narsisties en so sjarmant soos die dood. Maak aanvanklik ’n vreeslike bohaai oor jou, tot jy jou feilbare menslikheid wys, dan word jy soos ’n warm patat laat staan.”

Ek vra haar hoe goed of sleg sy reageer op ’n redakteur wat veranderings aan haar manu­skrip voorstel.

“Nie altyd goed nie! Ek raak besitlik oor my darlings en kan nie maklik laat gaan nie, maar as jy ’n uitstekende redakteur soos
Marietjie van Rooyen het, is dit makliker.”

In Vrye Weekblad noem die resensent Deborah Steinmair Vier susters “ ’n sterk feministiese teks, vol bloed, erotiek en ironie”.

Hiermee is Gerda erg in haar skik: “Sterk feministies is dit beslis, al was dit nie noodwendig my bedoeling nie. Ek wou maar net die storie van vier sterk, onafhanklike en soms gevaarlike vroue vertel, wat hulle nie deur die patriargie laat boelie nie.”

’n Uittreksel uit ‘Vier Susters’

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Die grammofoonplaat het lankal ophou speel, maar draai steeds sissend en effens wiebelend om en om.

Beatrice verwag dat ’n stem uit die koperluidspreker sal kom. Boas se stem. Of haar ma s’n. ’n Swaar, slepende stem wat op een of ander manier in die plaat ingegroef is. Of dalk Felix Kögler se geaffekteerde stem wat een van die briewe voorlees wat hy destyds aan haar geskryf het. Jy is my Jane Morris, my Proserpina – die godin van die voorjaar . . .

Hoe is dit moontlik dat sy die verlede in soveel detail kan onthou, maar dat sy nie ’n behoorlike greep op die hede kan kry nie?

Sy is siek van die liefde en sy kan allermins soos die vrou in Hooglied gelawe word deur rosyne en appels. Die briewe wat Felix Kögler aan haar skryf, laat haar snags wakker lê. Sy woorde brand haar deur die papier en is werkliker as sy aanraking. Daar is drif in die krul van sy s en afwagting in die reuk van ink.

Snags droom sy van hom, drome wat geen Christenmens behoort te droom nie. Sy skryf terug, en die woorde vloei uit haar soos bloed.

Een aand skryf sy: Kom haal my. Jou briewe is alles, maar nie genoeg nie.

Naweke word sy Felix Kögler se minnares. Haar ouers verkeer onder die indruk sy kuier by ’n vriendin, of dat sy by ’n korfbalkamp is.

Ook toe sy die daaropvolgende jaar Johannesburg toe gaan om musiek te studeer, kom besoek hy haar waar sy by ’n ouer neef loseer, ’n “verwyfde alleenloper”, soos haar pa na hom verwys, wat Beatrice laat kom en gaan soos sy wil.

By die konservatorium is sy onbewus van manstudente se aandag; haar begeerte is na Felix Kögler alleen, en haar lewe draai net om daardie oomblik wanneer sy grys Steyr by haar neef se huis stilhou. Eers dan kan sy wéés, kry die vaagheid van haar bestaan vastigheid en word sy duidelik omlyn soos ’n foto wat perfek belig word.

Haar studies ly skipbreuk, nie net oor haar verliefdheid nie, maar ook omdat sy oorweldig voel deur die stad, deur die hoeveelheid leerwerk en deur die ander studente wat soveel beter is as sy.

In die kleindorpse kosskool was sy iemand, ’n mooi en talentvolle leerling; nou is sy net een van vele studente. Haar dosente is skepties oor haar klavierspel en een gaan selfs so ver om haar te vra of sy nie eerder die Hawaiiese kitaar wil oorweeg nie.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.