HAAS DAS SE NUUSKAS – Episode 5

Deur louise smit; illustrasies: Vian OELOFSEN (Human & Rousseau , R129*)

Foto: Haas Das se Nuuskas

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en ek ken al die stories. Hier in my tonnelhuisie diep onder die grond het ek rakke en rakke vol storie­boeke.

O, ek wens julle was nou die dag in Diereland, want dit was amper soos karnaval. So vertel Haas Das van die dag toe die wêreldkampioen, Kongo Kangaroe, teen Die Gemaskerde Wonder kom stoei het.

Al die diere het in hul troppe aangekom, tot oompie Bulletjie Wildebees met sy kalbassie vol maroelasap. 

Maar net toe die wenner aangekondig word, begin Tjeep-Tjeep onophoudelik te piep. Al die diere is sommer vies vir die voël wat so lawaai, maar toe sien Gaffie Kameelperd met sy lang nek wat fout is.

Ag, maatjies, en toe’s dit ’n vreeslike ding wat daar aankom . . .

O goue blaar, my storie is klaar. Mamma of pappa sal vir jou moet lees wat verder gebeur het. – Bennie Boekwurm

Wen

Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar van Haas Das Se Nuuskas – Episode 5 wen. SMS jou antwoord, naam, van en adres voor 11 Oktober om 17:00 na 35407**. Wie het die lang nek?

KATTEKWAAD

Deur SUSAN ONGANSIE; illustrasies: LINKI LUTZ (Lapa, R138*)

Foto: Kattekwaad

Ook in die kattewêreld is daar die randfigure, dikwels uitgestoot weens hul eie onaanvaarbare gedrag.

Gelukkig het elke gemeenskap ook sy simpatiekes wat die verstotelinge terugverwelkom in die boesem, waar alles lekker en liefdevol is.

So kruis die pad van die katjie Mietsie, wat op soek is na haar speelmaatjie Maans, met dié van twee straatkatte.

Jors en Mors is twee stryende, blasende, sissende kwaadkatte wat oorgehaal is om te boelie: “Wat soek ’n oulike ou huiskatjie soos jy hier in die straat?” vra hulle dreigend toe hulle Mietsie teëkom.

Maar daar is darem ’n gelukkige einde ná al die drama wat in lieflike illustrasies weergegee word.

Tirannosourus Sot 

Deur JULIA DONALDSON; illustrasies: DAVID ROBERTS (Protea, R150*)

Foto: Tirannousourus Sot

Hoera vir water en vir riete en vir gras.

Hoera vir waterblommetjies, want dis ­lekker om te plas!

Dis die lewensleuse van die vegetariese platbekdinosourusse.

Hoera vir jag en oorlog! Hoera vir binnegoed!

Hoera vir moord en derms en vir ­dinosourusbloed!

Dis die strydkreet van die tirannosourusse wat oorkant die water woon en die dino’s se lewe versuur, veral toe die verkeerde eier die dag in die verkeerde nes beland en moeder T te dom is om uit te werk wie haar kind is en wie nie.

Nogmaals ’n heerlike rymvertaling deur Philip de Vos.

WIE’S JY, MNR. SLYM?

Deur zanri kritzinger; illustrasies: stephen wallace (Tafelberg, R135*) 

Foto: Wie's jy, Mnr.Slym?

’n Eensame seuntjie, Morné, het geen maatjies nie. Hy sit alleen onder ’n boom, want niemand wil met hom speel nie.

Maar op die eerste skooldag van die nuwe jaar hoor die vreemde vriende van Verbeeldingskool van die ongelukkige kind. Toe gee hul juffrou hulle ’n opdrag: Hulle moet ’n mensmaatjie se verbeeldingsvriend wees.

Mnr. Slym is die een wat Morné se maat moet wees, maar o wee, Morné stel glad nie belang nie. Mnr. Slym het die wildste toertjies uitgehaal, maar niks wou werk nie. 

Toe maak mnr. Slym ’n slim plan . . .

Wen

Drie lesers kan elk ’n eksemplaar van Wie’s Jy, Mnr Slym? (met ’n resep vir die donsigste, rekkerigste” slym) wen. Hierby ingesluit is ’n boekmerk, geskenkpapier en ’n Mnr. Slym-borsspeldjie. 

SMS jou antwoord, naam, van en adres voor 11 Oktober om 17:00 na 35407*.
VRAAG: Wat is die eensame seuntjie se naam?

DIE SLYMBOEK – ALLES WAT JY MOET WEET OM DIE PERFEKTE SLYM TE MAAK!

Deur DORLING KINDERSLEY (Lapa, R120)

Foto: Die Slymboek

“Honderde jare gelede het die beroemde wetenskaplike sir Isaac Newton beskryf hoe vloeistowwe optree. Slym soos dié word ’n nie-Newtoniaanse vloeistof genoem omdat dit nie aan sy reëls voldoen nie!”

As jy dit probeer slaan, sal dit soos ’n vaste stof optree en sal jou kneukels seerkry, maar as jy jou vinger saggies indruk, voel dit soos ’n vloeistof.

Benewens hierdie basiese slym kry jy meer as 30 ander resepte, byvoorbeeld vir slym wat rek of skuim of deurskynend is of kraak. 

Hier is ook ’n resep vir regte wondergom, monsterslym en gekleurde slym – en, les bes, kammasnot. Jy kan selfs ’n happie vat van heerlike sjokoladeslym.

Daar is ook interessante brokkies wetenskap, soos waarom knetterlekkergoed so op jou tong ontplof.

Elke resep het stap-vir-stap-aan­wysings en volkleurfoto’s.

DiNO POEF ’n PLANEET!

Deur TOM FLETCHER en DOUGIE POYNTER; illustrasies: GARRY PARSONS; ­vertaling: Kobus geldenhuys 
(Human & Rousseau, R130)

Foto: Dino poef ’n planeet.

Soos ’n poef-aangedrewe vuurpyl los Dino ’n poefbom. 

Dirkman spring op sy rug en kyk wat alles agter uitkom. 

Dino poef die straalpistole en gamma-reaktor en robot – alles wat Nasa se slimkoppe gemaak het, stink nou vreeslik vrot!

Dis ’n boek vir seuntjies van ’n sekere ouderdom met ’n skatologiese fassinasie en diegene wat dit nooit ontgroei nie. 

  • Elke sms kos R1,50. die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die boeke binne ’n redelike tyd. 
BESKIKBAAR teen dié pryse BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.