Hans gee Herklaas horings
Rudie van Rensburg. Foto: Brenda Veldtman
Rudie van Rensburg. Foto: Brenda Veldtman

Deur Rudie van Rensburg (Queillerie, R184*)

Waar kry ’n mens ’n 92-jarige hoofkarakter soos Hans van Kraaienburg?

“My ma (nou 96) het op 92 nog haar eie motor bestuur en haar fiks gehou op haar oefenfiets. Sy is steeds hups, helder van verstand en bly nog in haar meenthuis. Ek glo dus daar is nog baie ander ‘Hanse’ onder ons land se bejaardes wat vinnig genoeg is om uit hul slip-ons te stap.”

So verduidelik Rudie van Rensburg die held in Hans gee Herklaas horings wat sy buiging in Hans steek die Rubicon oor gemaak het.

Nog ’n verkwiklike karakter is Wilhelmina, die vrou van een van die driemanskap wat teen Hermanus se grondbaron te staan kom. Haar kop raas al ’n geruime tyd en sy sê onstuitbaar die toentertydse Handelshuis se ware op; ou­tydse bra’s, pille en dies meer.

“Danksy my pa wat ou koerante en tydskrifte versamel het, kon ek publikasies van hoofsaaklik tussen die 1930’s en ’60’s vir advertensies deursoek. Daar was ’n fantastiese verskeidenheid wonderkure en vergange verbruikersartikels om van te kies,” sê Rudie.

Vasie nooi Hans om weg te breek Hermanus toe. Hier raak hulle betrokke by Herklaas se stryd teen die grondbaron, Grond Graaff­water, wat sy geboutjie in die hart van Hermanus wil koop om die hoogste gebou in Suider-­Afrika te bou. Grond en sy vrou, Bernadette, eet en drink van die boonste rak, om van haar klere, grimering en toebehore nie te praat nie.

“Ja, die Graaffwater-egpaar se gejag na rykdom, aansien en weeldevertoon het my die geleentheid gegee om baie sports met hulle te hê. Veral Bernadette se beheptheid met haute cuisine, mode, antieke argitektuur en alles wat Frans is as kulturele hoogmerk, het my taak vergemaklik. Haar obsessie met die bekendstellingsaand van hul beplande nuwe hotel het ook sommer gewys wie die broek dra.”

Grond se pruik en oranje gelaat laat jou onvermydelik aan ’n sekere Amerikaner dink. Was hy Rudie se inspirasie vir hierdie grondbaron?

“Daardie Amerikaner was beslis die ‘rolmodel’ op wie ek Grond se karakter geskoei het. Al verskil tussen die twee is dat ek vermoed Grond is effens slimmer, maar dalk net-net minder uitgeslape.”

Rudie moet gedruk word om ’n gunstelingkarakter uit te sonder.

“Dis moeilik, maar Boel, een van Grond se bel­hamels, het my groot plesier verskaf met sy Pekinees-voorkoms, ooreenstemmende snorkgeluidjies en vrees vir water. Die mannetjie wat die Onthullings-Alliansie se kantoor beman, se sameswerings­teorieë het my ook groot pret verskaf. Hy regverdig amper ’n boek op sy eie.”

Intussen sal ons tevrede wees met boek drie waarin Hans die held is.

Drie dinge wat Rudie verstom

Dat die Cheetahs weer aan die agterspeen moes suip deur uit die Pro16-reeks geskop te word.

Ons vorige president se talent om die gereg heeltyd te systap.

Dat sekere beskaafde lande se inwoners steeds weier om ge­durende die covid-19-pandemie maskers te dra.

’n Uittreksel
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Hans besef hy het ’n sloot in die oggend geslaap toe hy eers tienuur wakker word. Tromslae baljaar ritmies teen sy slape toe hy uit die bed opstaan. Als Vasie se skuld, want dié ken mos geen einde nie. Die paar snapsies van gistermiddag het toe nie daar ­geëindig nie. Teen laataand het hy, Vasie en Herklaas soveel raas­water ingehad dat hulle skoon vergeet het om te eet.

Dit ten spyte van die kerrie­bredie wat Wilhelmina berei het. Sien ’n mens haar agter die kos­potte, sou jy nie weet haar klawers is vals nie, soos Vasie dit stel. In haar kombuis is sy volgens Herklaas ’n raakvatter van formaat. Maar haar bredie het gisteraand aan die agterspeen gesuip, terwyl hulle in die voor­kamer met die voorspene besig was.

Hans strompel in die gang af en loer by Vasie se kamer in. Dié is nie meer in sy kooi nie.

Hans wend hom na die bad­kamer, waar hy stort en sy ander ablusies afhandel. Hy trek weer gister se ligbruin kortbroek-safari­pak aan. Môre sal hy die bloue dra. Hy moet suinig met sy klere omgaan, want hy het net genoeg vir ’n paar dae ingepak.

In die kombuis is Wilhelmina besig om skottelgoed te was. Van­oggend het sy ’n lang, wye rok aan wat uit die Voortrekkers se tyd moet dateer. Sy verstar toe sy Hans sien.

Dadelik verorber haar intense blik hom weer soos gister. “Ouma Meelbol is opbouende voedsel vir die tengerige kind,” sing sy. “Gebruik Epidermol vir kitsverligting van atleetvoet.”

Hans mompel dat dit na goeie raad klink en maak hom vinnig uit die voete. Hierdie bleek vrou gee hom die horries. Saam met háár wil hy nie alleen in ’n vertrek vasgekeer wees nie.

Hy kry Vasie en Herklaas in die voorkamer. Vasie loop rusteloos heen en weer en Herklaas sit ineengekrimp in sy gemakstoel.

“Dit gaan maar dunnetjies met my ou neef,” sê Vasie.

“Ja, hake-krukke,” kerm Herklaas se stemmetjie.

“Wingerdgriep?” vra Hans.

Vasie lag. “Nee, dit het ons al drie seker vanoggend onder lede, maar daar’s ’n ánder sakie wat Herklaas se maagseer teister.”

Hans gaan sit op die bank, sak so diep daarin weg dat hy nie oor sy kniekoppe kan kyk nie. “Nou laat ek hoor.”

* Teen dié prys beskikbaar by graffitiboeke.co.za. Aflewering landwyd – as jy meer as R500 bestee, is dit gratis per koerier; Bestellings minder as R500 kos R89.