Ek maak reg vir kleuterskool 4+ jaar

(Human & Rousseau, R95*)

Dié boek met sy kleurryke prente bevat ook meer as 260 plakkers in allerhande vorms. Jy kry hier byvoorbeeld ’n brandweerman wat die kind moet inkleur volgens die kleure van die outjie se buitelyne.

Op die bladsy langsaan is ’n groot brandweerwa waarop plakkers van spesifieke vorms geplak moet word. Sulke dubbelbladtemas word dwarsdeur die boek herhaal, byvoorbeeld reënboog en sneeuman, boer en skuur, en ruspes en goggas.

Die reeks is ontwerp om kinders die vaardighede te help ontwikkel wat hulle voor en in die kleuterskool nodig het. Die plakkers haal maklik af en leer ook die kind om fyn te vat en te mik met die plakslag.

Ook beskikbaar in die reeks: Ek Maak Reg vir Kleuterskool 2+ Jaar, Ek Maak Reg vir Kleuterskool 3+ Jaar en Ek Maak Reg vir Skool 5+ jaar.

Voorskoolse aktiwiteitsboeke

Deur Mart Meij, Amorie van Staden en Rina Erasmus; illustrasies: Astrid Castle (Best Books)

Dis belangrik om ’n kind pal aan te moedig in alles wat hulle aanpak, want dan pluk jy die vrugte.

“Jy het nog nooit so ’n slim, handige en oplettende kind gesien nie,” sê Mart Meij, samesteller van die aktiwiteitsboeke vir voor-skoolse kinders.

“Maar oppas,” waarsku sy, “as die kind nie probeer nie of nie saamwerk nie, vind eers uit waarom nie, stel die probleem reg, en prys dán eers die samewerking.”

Die Nuwe Alles-In-Een Voorskoolse Aktiwiteitsboek 2 (R105*) sluit aan by die 40 temas wat in die Alles-In-Een Handleiding vir Voorskoolse Aktiwiteite (R425*)en Alles-In-Een Voorskoolse Aktiwiteitsboek 1 (R86*) gedek word. Die handleiding bied lesse vir elke weekdag. 

Mart verduidelik op wie die boeke gemik is: “Die tematiese aktiwiteite, wat by die ontwikkelingsvlak en belangstellingsveld van kinders van 18 maande tot vyf jaar pas, kan in die kleuterskool of crèche en deur die dagmoeder of kleuterskoolonderwyser gebruik word, en ook deur die ouer wat die kind self tuis versorg.

 “Die aktiwiteite ontwikkel elke kind se kreatiwiteit en handvaardigheid. As hulle eindelik die kleurryke, voltooide produk in hul hande hou, kan hulle ’n gevoel van prestasie ervaar.” 
In die eerste aktiwiteitsboek word op die agterkant van die bladsy wat gebruik moet word stap vir stap gewys hoe om die aktiwiteit aan te pak.

In die tweede aktiwiteitsboek word die leiding as uithaalbare boek aangebied vir maklike gebruik. Die aanwysings toon duidelik aan wat die verskil in benadering is by peuters, kleuters en kinders op pad na gr. R. 

En ná al die harde werk moet daar natuurlik skoongemaak word.“As die kind ná die aktiwiteit help opruim, word ’n sin vir verantwoordelikheid terselfdertyd gekweek,” verduidelik Mart.

“Onthou dat hierdie kinders nog regtig klein is. Moenie te veel verwag nie en doen die meeste van die opruiming maar self. Prys die hulp wat die kind gee.”

Die boeke, wat ook in Engels beskikbaar is, is gegrond op die vereistes van die Nasionale Kurrikulumraamwerk vir voorskoolse kinders.

Die mooiste klassieke sprokies

Oorvertel deur Stefania Leonardi Hartley; vertaler: Kobus Geldenhuys (Human & Rousseau, R169*)

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en ek ken al die stories. Hier in my tonnelhuisie diep onder die grond het ek rakke en rakke vol storieboeke.

In dié lekker dik sprokiesboek is 11 klassieke sprokies – dit beteken dit word al jare en jare in baie lande en baie tale deur grootmense aan kinders vertel. Hier is Sneeuwitjie en die Dwergies, Robin Hood, Bambi, Peter Pan en nog ander.

My gunsteling is Alice in Wonderland met al daardie snaakse karakters wat sy ontmoet, soos die vet ou ruspe wat op ’n sampioen lê en rook. Waar het jy nou al ooit gehoor van ’n ruspe wat rook?

Of van speelkaarte wat wit rose rooi verf omdat die Koningin van Harte nie wittes wil hê nie?

Ek hou ook baie van die tekeninge, want hulle is so ’n bietjie outyds en laat dink my aan die dae baie lank gelede toe my mamma nog vir my gelees het. Laat iemand die stories vir jou lees sodat jy kan verstaan hoekom kindertjies nog al die jare so baie hiervan hou.

– Bennie Boekwurm

Ontwikkelingsprobleme

Voorskoolse kinders uit die deursneehuishouding is oor die algemeen verstommend ingelig en selfversekerd omdat hulle so aan televisie en programme op tablette en selfone blootgestel is.

Daar is egter wel sekere ontwikkelingsprobleme wat opvoeders rapporteer, verduidelik Mart:

  • Kleuterskole meld dat baie kinders nie boeke ken nie, hoewel hulle selfone en tablette baie vaardig hanteer. Dit is dus goed dat die kind besef die aktiwiteite word uit ’n boek gedoen en dat hulle die genot ervaar om met papier, gom en skêre te werk.
  • Heelwat kinders is deesdae tassensitief en gril vir gras en sand en as hulle gom en verf aan hul hande kry. Moedig die kind aan om met die hande en vingers te verf en gom te smeer, soos dit in die aktiwiteisboek aanbeveel word. Waar toepaslik, laat die kind self die vere, skaafsels of sand hanteer en moenie dit vir hulle doen nie.
  • Daar is kleuters wat liewer met selfone en tablette wil speel of TV wil kyk as om met maatjies te speel. Deur die kinders in groepverband aan die aktiwiteite in die boek te laat werk en hulpmiddels te laat deel leer hulle om te sosialiseer en te deel. 
Wen

Vyf lesers kan ’n sprokiesboek wen. SMS jou antwoord, naam en adres voor 20 Desember om 17:00 na 35407**.

Hoeveel sprokies is in die boek?

** Elke sms kos R1,50. die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die boeke.