Op die potjie, gou!

Deur Sally Lloyd-Jones; illustrasies: Anita Jeram (Human & Rousseau, R150)

Mamma of pappa sal vir jou moet lees sodat jy kan uitvind wie die maatjie is wat nog op die potjie moet kom sit.

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en ek ken al die stories. Hier in my tonnelhuisie diep onder die grond het ek rakke en rakke vol storie­boeke.

O, ek het lekker gelag toe ek die potjieboek lees, maatjies! Kan jy dink hoe ’n klomp diertjies lyk wat almal ’n groooot nood het?

Daar’s hasie wat knyp-knyp loop, ’n raasbekhondjie, ’n kangaroe wat ál vinniger wip, ’n dodo op ’n drafstap, ’n vriendelike padda, varkies wat so otjie-potjie-poe dans en nog baie ander diere.

Eindelik is almal by hul potjies en hulle gaan sit – ook net betyds.

Maar o aarde, iemand is nie daar nie! Wie kan dit wees?

O goue blaar, my storie is klaar.

Mamma of pappa sal vir jou moet lees sodat jy kan uitvind wie die maatjie is wat nog op die potjie moet kom sit.

– Bennie Boekwurm

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en ek ken al die stories.
Wen!

Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar van Op die Potjie, Gou! wen.

  • SMS jou antwoord, naam, van en adres voor 8 November om 17:00 na 35407**.
  • VRAAG: Wie is op ’n drafstap?



Die Verlore Pikkewyn – ’n Paul & Vlekkie-verhaal

Deur Claire Freedman; illustrasies: Kate Hindley (Protea Boekhuis, R155*)

Paul en Rosa en die hondjie Vlekkie is beste maats en hulle doen alles saam.

Paul en Rosa en die hondjie Vlekkie is beste maats en hulle doen alles saam. Hulle hou baie van vanielje-­aarbei-kougom-roomys.

Eendag gaan maak hulle weer ’n draai by die dieretuin en hier sien hulle ’n hartseer pikkewyntjie wat huis toe verlang. Hulle gaan kuier die volgende dag weer vir Piep, maar hy is weg. Hulle gaan soek hom, maar toe hulle hom kry, raak hy weer weg, dié keer saam met Vlekkie.

Kate Hindley se lieflike illustrasies is vol besonderhede wat kinders lank aan die kyk sal hou.


Hoe om ’n haas te vang

Deur Claire Freedman; illustrasies: Monika Filipina (Lapa, R125*)

Ja, dis die Nare Ou Wolf wat aan sy wolfmaters wenke wil gee oor hoe om ’n haas vir die pot te vang.

Vir honger wolwe is dié boek ’n wenner,
en dit is boonop geskryf deur ’n kenner!
Hou jy van haasbredie en haas­pastei?
Kom leer hoe om ’n haas in die hande te kry!
Met my maklike wenke wys ek jou hoe
om binnekort heerlike hasies te proe!

Ja, dis die Nare Ou Wolf wat aan sy wolfmaters wenke wil gee oor hoe om ’n haas vir die pot te vang.

Al sy pogings misluk so klaaglik, hy word ’n vegetariër.

’n Kinderboek wat in rym geskryf is, kan in sy vertaalde vorm heel­temal misluk. Maar die skrywer Jaco Jacobs skryf ’n Afrikaanse teks (want dis meer as net vertaal) wat sappiger as enige haaspastei is.

Die kinders sal dit beslis vir soetkoek insluk.

Claire Freedman-feite

Sy is op 16 uit die skool, het ’n sekretaresse geword en later in die Londense winkel Harrods gewerk.

Nadat sy 15 jaar gelede by ’n skryf­groep aangesluit het (waartoe sy nog behoort), het sy groot sukses begin behaal met kinderboeke, onder meer die Underpants-reeks.

  • Die woorde wat sy die meeste misbruik: “Dis die laaste rok/T-hemp/skoene wat ek dié maand koop.”
  • Waaroor is sy die meeste spyt? “Baie dinge, maar ’n mens kan tog nie die horlosie terugdraai nie.”
  • Die talent wat sy die graagste sou wou hê? “Ek wens ek kon my eie boeke illustreer.”
  • Haar grootste grief? “Ek het twee: hondepoef en rommel.”
  • As jy raad in een sin aan nuwe skrywers kon gee? “Lees die genre waarin jy graag wil skryf.”

Bron: clairefreedman.co.uk

* Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.


As jy ’n skrywer, illustreerder, ontwerper of boekeredakteur is, kan jy aansoek doen om boeke te help skep.

Voltooi ’n kinderboek binne een dag

Vir die 12de keer gaan 50 kreatiewe mense bymekaarkom en in spanne saamwerk om nege splinternuwe, oorspronklike Afrika-storieboeke binne 12 uur te skep.

Dis nie al nie. Wanneer die boeke klaar is, word dit op die internet gelaai, waar enigiemand dit mag aflaai en op gewone papier uitdruk of as ’n behoorlike boek laat druk en net soveel eksemplare as wat hulle wil aan kinders kan uitdeel. Alles gratis.

Book Dash is ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk wat die platform geskep het waar beroepsmense een dag lank vrywillig hul dienste lewer sodat daar aan die einde van daardie dag nuwe boeke vir klein kinders is. Ná die 12 uur se kreatiewe aktiwiteit is al wat oorbly die koste om die boeke te druk.

Sedert 2014 het Book Dash al 108 oorspronklike storieboeke uitgegee.

Hiervan is tot nou sowat 400 000 gedruk en onder minderbevoorregte kinders in Suid-Afrika versprei. Dit word ook in verskeie van ons 11 lands­tale vertaal, Afrikaans ingesluit.

Hoe kan jy help?
  • Lees saam met jou kind of leerders die boeke by bookdash.org of op die gratis Book Dash-app.
  • Skenk geld (gaan na “donate” op die webtuiste).
    Maatskappye wat geld wil skenk vir drukkoste, ontvang ’n artikel 18a-belastingsertifikaat.
  • As jy ’n skrywer, illustreerder, ontwerper of boekeredakteur is, kan jy aansoek doen om boeke te help skep. 

Besoek bookdash.org vir nog inligting.