Harry Kalmer se In ’n Land sonder Voëls is in my handbagasie op pad na Griekeland.

Op Athene se lughawe gaan soek ek ’n rak met klassieke werke in Grieks in die Waterstones-boekwinkel. Ek sit Harry se boek tussen hulle, neem ’n foto en stuur dit vir hom in ’n WhatsApp.

Hy groet my met die Griekse “yassou” en ’n emoji van ’n sjampanjebottel.

Tien dae voor sy dood stuur ek dié e-pos aan sy goeie vriendin Marita van der Vyver. Dis uit ’n artikel in die Britse koerant The Guardian oor die skrywer Adrian McKinty wat ’n Uber-bestuurder geword het en op die punt was om die gesinshuis te verloor.

Die agent Shane Salerno kom tot sy redding en hy beding vir Adrian ’n skryf- en rolprentkontrak vir sy nuutste roman, The Chain.

Salerno is aan die woord (my vertaling)

“Adrian het nie ’n produkprobleem gehad nie. Die produk was deurgaans uitstekend, maar 20 jaar lank het uitgewers hom in die steek gelaat.

“Geen publisiteit, bemarking of boektoere nie. Hy het nul ondersteuning gekry.

“Nadat ek alles ondersoek het, het ek sterk gevoel daardie uitgewers het ’n kampioen-renperd op stal gehou.”

Harry het as nisskrywer ’n kultusaanhang gehad, maar nes ek het Marita geglo hierdie “kampioenrenperd” het nooit die wye blootstelling gekry wat hy verdien het nie.

Sy ’n Duisend Stories oor Johannesburg, wat deur baie lesers as sy beste roman beskou word, het byvoorbeeld sonder enige bekendstelling in 2014 stilweg op boek-winkelrakke verskyn.

Dit is eers in Engels raakgesien toe A Thousand Tales of Johannesburg in 2018 met die Sunday Times Barry Ronge-literêre prys bekroon is.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Unieke stem

Dit sou nie onvanpas wees as die Afrikaans nou herdruk word vir ’n nuwe lesersgehoor wat met die geweldige publisiteit ná sy dood vir die eerste maal van Harry gehoor het nie.

Sy unieke stem, taal en onderwerpe was ver verwyder van sy tydgenote wat die afgelope drie dekades sukses behaal het in die klein Afrikaanse letterkunde. Sekerlik kan daar nadoods vir hom ook ordentlik plek gemaak word.

Ek lees In ’n Land sonder Voëls klaar, en net toe ek op die punt is om my vrae aan hom te e-pos, laat weet sy uitgewer my die familie sê: “Geen media meer nie.”

My laaste WhatsApp aan hom was: “Hier’s nog baie voëls op Lesbos, Harry. En skoenlappers.”

Ek kon sien hy het dit gelees, maar hy het nie meer geantwoord nie.

Harry se biografie in sy eie woorde
  • Ek het as ’n tegniese vertaler by die ou Vervoerdiens se taalburo begin.
  • Ek skryf al sedert die 1980’s. Deesdae deel ek my vaardighede met ander deur onderwys en opleiding. Ek het baie ervaring en kennis om te deel.
  • As kopieskrywer het ek meer as 40 plaaslike en internasionale advertensiepryse gewen. (Harry was met sy dood die fakulteitshoof van Creative Brand Com­munication op die AAA-adver­tensieskool se Johannesburg-kampus.)
    Ek het uitgebreide kennis van finansiële vertaling en het vir al die groot banke in Suid-Afrika werk gedoen.
  • Ek het meer as 120 uur vir TV geskryf, onder meer vir Isidingo, Binnelanders en vyf dramas vir kykNET.
  • Ek het 24 toneelstukke en 11 fiksieboeke agter my naam. (Die bekendstes is X-Ray Visagie en die Vingers van God, Die Man met die Dertien Kinders, Briewe aan ’n Rooi Dak, En die Lekkerste Deel van Dood Wees, en Vlieger.)
  • Van my literêre werk is ook in Amerika, Duitsland, Brittanje en Nederland uitgegee.
  • My teaterpryse sluit in die Dalro Dawie Malan-prys vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse drama, die Vita Potpourri-prys, die AngloGold Ashanti-prys, die Standard Bank Silver Ovation-prys en die Adelaide Tambo-prys vir menseregte in die teater.
In ’n Land Sonder Voëls
Elna het Harry se boek op ’n rak met klassieke wer
Elna het Harry se boek op ’n rak met klassieke werke in Grieks in die Waterstones-boekwinkel gesit, afgeneem en vir hom gestuur. Foto: Elna van der Merwe

Deur Harry Kalmer (Penguin, R199*)

Verbeel jou ’n wêreld waar die barre Brandvlei in die Noord-Kaap ’n groen lushof is waar 50 000 luukse wooneenhede amper 150 000 “yskoue, dank­bare” Amerikaners en Kanadese huisves. Upington het 56 nuwe gholflandgoedere waar amper 200 000 inkommers bly. Suid-Afrika het nou die meeste ryk mense ter wêreld.

Dit het alles gebeur toe die mense wat dit kon bekostig suid begin vlug het nadat die Noordelike Halfrond se vyfde yssomer veroorsaak het dat ystsoenami’s die wêreldstede byna weekliks tref en die grond so verys is dat niks meer kan groei nie.

Ná die Chaos (min of meer die tyd waarin ons nou leef) volg die Wending en die mensdom stem vir ’n ekonokrasie – dit was veronderstel om ’n tyd van wêreldvrede en voorspoed in te lui.

“Die enigstes wat nog arm was, was die hippies en kunstenaars, skrywers, joga-instrukteurs, pottebakkers, musikante. Dié wat verkies het om arm te wees.”

Maar dr. Adam Barnard se oë begin oopgaan vir die werklikheid terwyl hy in die letterlike sin besig is om sy sig te verloor. Sy vrou, Sybille, en hul dogter, Jemima, het hy reeds verloor – op uiteenlopende en vreemde maniere.

Harry kyk vooruit na ’n wêreld wat geknak word deur klimaatsverandering – waar geen voëls meer is nie, slaan plae soos muskiete en paddas toe – en deur ’n totalitêre bestel.

Die boek het verskyn enkele weke voor hy op 26 Julie 2019 op 62 weens kanker gesterf het. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.