Grensgeval

DEUR MARITA VAN DER VYVER (PENGUIN, R280)

“Die vrou sit op ’n houtvloer, gemaklik kruisbeen, want ná drie ­dekades van joga kan sy haar bene so grasieus soos skoenlapper­vlerke oopvou sodat albei knieë aan die vloer raak, ondanks haar silwer­wit hare en die groewe op haar gesig. En sy huil, hierdie vrou, geluidloos.”

Theresa Marais kyk vir die eerste keer wat werklik in ’n ou skoenboks is wat behoort het aan haar oorlede eksman, Theo. Sy het meer as 20 jaar tevore van hom weg­gestap toe dit onuithoudbaar geword het om saam met hom onder een dak te woon.

Theo het die laaste byna 20 jaar van sy lewe in ’n ­inrigting deurgebring nadat van sy skerp verstand nog net psigose oorgebly het.

Op die deksel staan geskryf “Army 1975/76” en binne-in is ­vergeelde briewe en foto’s. Maar ook ’n brief wat sy sien uitsteek onder ’n stapeltjie onthougoed – dit het ’n Kubaanse adres op en ’n ligbruin vlek wat net bloed kan wees.

Theresa kan nie wegkom van die drang dat sy Angel Perez Gonzalez se brief moet gaan af­­lewer nie, en sy vertrek op ’n reis na Kuba, waar haar pad kruis met onder andere die teruggetrokke taxibestuurder Ruben en sy vriende.

As Marita effens moeg lyk wanneer sy vir die onderhoud oor haar nuutste roman, Grensgeval, opdaag, is dit omdat sy net nadat sy uit Frankryk aangekom het vir haar boek­bekendstellingstoer eers op ’n kort, interessante reis was.

Sy het met haar boek Al wat ek weet ’n paar skole besoek, onder meer Melkbosstrand en Elsies­rivier in die Kaap en het toe by Ashton en Barrydale in die Suid-Kaap geëindig. In dié jeugroman gee die 15-­jarige Gabriel uiting aan sy emosies deur praatpoësie, en dis juis wat Marita leerders aanmoedig om ook te doen.

Beskikbaar by takealot.com

“Ek dink die meeste skoolkinders het dit in hulle om rympies te skryf, maar hulle is doodbang vir Afrikaanse gedigte en opstelle. Maar as jy hulle inspireer om net te skryf sonder om aan spelling en suiwerheid en rym te dink, dan skrýf hulle en ­hulle perform daardie vers voor die hele skool.”

Hoekom Kuba?

Sy vertel sy het Kuba toe gegaan omdat sy altyd geweet het as sy oor die Grens­oorlog skryf, sal sy daar moet uitkom.

“Ek wou spesifiek skryf oor die geheime deel van die Grens­oorlog wat in Angola afgespeel het en die Kubane wat ook daar was. Dit was vir my so fassinerend dat hierdie jong soldate net soos die Suid-Afrikaners ­gestuur is na ’n derde land waar die meeste nog nooit was nie.

“Hulle was dienspligtiges wat om ideologiese redes moes gaan ­baklei – die Kubane selfs op ’n vreemde vasteland ver van hulle.”

Sy het ’n toergroep saamgeneem – “want ek het mos in die tweede deel van my lewe as ’n toerleier ontpop!” – en omdat hulle geweet het sy is besig met ’n boek, was hulle ook op die uitkyk na brokkies inligting.

“Twee van die vroue het my byvoorbeeld kom vertel van ’n taxi­bestuurder wie se broer ook in die oorlog was. Dit het vir ons almal duidelik geword hoe groot die ding van die Angolese oorlog ook daar is met mense wat beseer is.”

Kuba was vir Marita ’n oorrompelende ervaring, en die boek loop oor van ryk kleure en geure.

“Ek het gedink die ou motors is ’n toeristeding en het nie verwag dat die mense in die werklikheid met hulle rondry nie. Dit het kompleet gevoel of ek in ’n fliek uit die 1950’s is. Ek is nie ’n karmeisie nie, maar hier het ek gekyk en foto’s geneem.”

’n Pragtige Plymouth Fury uit 1958 is dan ook ’n “karakter” in die boek.

Sy wou altyd eendag oor die Grensoorlog skryf omdat sy toe ’n skoolmeisie was en saam met ander vroue afgesny was van die werklikheid. Sy skryf al in 1999 in haar roman Wegkomkans oor ’n vrou wat so ’n boek wil skryf, want “dis so ’n macho ding”.

“Selfs met die onlangse vlaag boeke oor die onderwerp was dit weer mans aan die woord. Ek wou dit graag uit ’n vrou se oogpunt skryf.

“Tydens daardie oorlog was ek ’n skoolmeisie. Van my skoolmaats en universiteitsliefdes is stukkend geskiet aan die grens. Jy as vrou, ma of dogter sit eintlik met stukkende mans wat terugkom sonder dat jy verstaan. Hulle kon nie daaroor praat nie. Die skade wat ek in Kuba gesien het, is net so groot.”

Tussen hierdie gegewe deur vleg sy Theresa se storie van somer­vakansies op Stilbaai as tiener tot nou waar sy nie meer haar hare kleur “om soos Goue­lokkies te lyk nie” en in Kuba reis waar sy verder as ooit uit haar gemaksone beweeg.

Dis hier waar sy Ruben ontmoet.

“Ek het ’n man in een van daardie mooi motors sien ry met wit ­klere aan en ’n panama­hoed op die kop, en net daar is ­Ruben gebore.”

Hy is een van Marita se guns­telinge. Theresa s’n ook.

Vyf dinge wat Marita ­die afgelope jaar verstom het
  • Om ’n besige straat in Ho Tsji Minh­stad in Viëtnam oor te steek en lewend anderkant uit te kom.
  • Die klank van reën op die dak in die Kaap.
  • Gretha Thunberg (16), die Sweedse ­klimaatsaktivis.
  • Dat ek nog ’n roman klaargeskryf het, ondanks alles.
  • Hoe mense kan aanhou om hoër mure te bou om honger mense weg te hou.



Somer-vakansie op Stilbaai 1975

Beskikbaar by Penguin Random House
Beskikbaar by Penguin Random House
In dié uittreksel uit Marita van der Vyver se jongste ­roman, Grensgeval, herleef die hoofkarakter, Theresa, in ’n terugflits haar eerste vakansieromanse.

In Desember 1975 het haar gesin en Lynette se gesin saam vakansie gehou in ’n ou huis wat op lang bene soos ’n reier hoog op die rivieroewer gestaan het, en Lynette het ’n hele nuwe wêreld van skemerkelkies en seks vir haar oopgemaak.

Nie “regte” seks nie. Hulle het nie “al die pad” gegaan nie. Theresa het skaars ’n kwart van die pad gegaan, maar as jy eers op daardie pad begin stap het, kon jy nie sommer omdraai nie. Jou kop en jou lyf wou nie meer dieselfde taal praat nie.

Jou kop het geweet wat jy behóórt te doen en jou lyf het geweet wat jy eintlik wíl doen. En die Black Russians het dit net nog moeiliker gemaak om na jou kop te luister.

Lynette en Theresa se pa’s was studentevriende wat albei onderwysers geword het. Die gesin Raubenheimer het in Pretoria gaan woon, in ’n huis in die wel­gestelde oostelike voorstede, en het die gesin Marais eintlik nog net somer­vakansies gesien.

Daardie Desember van 1975 was die eerste keer dat die twee gesinne saam ’n huis gehuur het, die eerste en die enigste keer, want dit was eintlik te duur vir Theresa se ouers. Die volgende jaar het Lynette se pa sy eie strandhuis elders gekoop.

Vóór Kersfees het Theresa haarself nog as ’n plattelandse muis beskou, veral langs ’n ouer en meer gesofistikeerde stadsmeisie soos Lynette, en sy was gretig om Lynette se leiding in alles te volg.

Van hoe om haar naels te verf (helderblou, dit was daardie vakansie hulle albei se geliefde kleur) en hoe om ’n sigaret op ’n sexy manier aan te steek (vingers stokstyf om die glansende blou naels behoorlik te wys), tot hoe om te dans.

In Pretoria het hulle daardie jaar met sulke stywe bene gedans, wat vir Theresa baie snaaks was tot Lynette haar oortuig het dis die nuutste dansgier wat van oorsee oorgewaai het. Sy het selfs haar Preto­riaanse vriendin se spraakpatroon en taalgebruik probeer naboots.

Lynette het Afrikôns geprôt, met baie Engelse woorde ingegooi, en die Engelse woorde is ­almal op die Engelse manier uitgespreek. Lynette sou byvoorbeeld dramaties verklaar: “Ek is so dephwessed vandag”, terwyl Theresa, indien sy daaraan sou gedink het om in die middel van die opwindendste vakansie van haar lewe neerslagtig te raak, sou sê: “Ek is de­prressed.” Maar sy het vinnig geleer.

Die aand toe sy haar eerste cocktail proe, sit die twee meisies in die sitkamer van die Stilbaai Hotel, naby die ingang van die Ladies Bar. Hulle is uitgedos in halternektops om soveel moontlik sonbruin skouers en rug te wys, en hulle hare hang lank en blink oor hulle kaal skouers.

Theresa spot dat ­hulle soos ­Betty en Veronica in die Archie-­comics lyk. Sy beskou haarself as die besadiger blonde Betty, terwyl Lynette natuurlik die waaghalsiger donkerkop is.

Lynette hou van hierdie vergelyking: “Môr Archie is nie my soort ou nie,” sê sy met ’n skalkse laggie. “Sy rooi hôre is nie vir my sexy nie.”

Betty en Veronica word ook in die strokiesprente beskryf as “best friends and worst enemies”, onthou Theresa, maar sy sal liewers nie vir Lynette daaraan herinner nie.

“Ag, ek dink ou ­Archie is nogal bakgat,” waag sy. Lynette klap haar tong ongeduldig teen haar verhemelte, en Theresa besef sy het al weer ’n fout begaan.

“Bakgat” is ’n woord wat Lynette verbied het. Dis uitgedink deur grootmense wat nie kan verdra dat Afrikaanse kids hulle praattaal met soveel Engelse woorde peper nie, beweer Ly­nette, nou skep hulle simpel woorde soos bakgat en doedie. Of aster vir ’n meisie pleks van ’n blom.

“I ask you,” sê Lynette gereeld en rol haar oë melodramaties. “Wat wil jy hê moet ek sê?” vra Theresa net om aspris te wees. “Archie is nogal groovy?”

Lynette stik in haar skemerkelkie van verontwaardiging. “Het jy in die sixties vasgehôk?” Theresa luister na die ge­rinkel van ys in haar lang glas, amper leeg gedrink, haar kop heerlik lig.

Van waar hulle sit, het hulle ’n goeie uitsig op die voordeur van die hotel (as daar nuwe ­talent instap, sal hulle dit eerste opmerk), asook op die lywe wat rondom die toonbank in die Ladies Bar saamdrom.

Sommige van die aantreklikste ouens is klaarblyklik studente, baie begeerlik vir Lynette, maar te oud en te ervare vir ’n sestienjarige skoolmeisie wat voorgee dat sy veel meer weet as wat sy eintlik weet.

“Nee, ons mik vir die ouens wat pas matriek geskryf het,” verduidelik sy. Dis maklik om hulle uit te ken, want hulle hare is nog kort soos skoolseuns s’n – en dit gaan binnekort veel korter geskeer word sodra hulle begin diensplig doen – maar nou kuier hulle met die uitbundigheid van jong mans wat vir die eerste keer in hulle lewe oud genoeg is om in ’n kroeg toegelaat te word.

Hulle drink met ’n soort desperaatheid, so lyk dit vir Theresa, dalk omdat hulle besef hoe min tyd hulle oor het voordat hulle army toe moet gaan.

’n Bewuswording van hulle eie sterflikheid, dis hoe Theresa dit jare later sou beskryf, hoewel die meeste van hierdie jong mans seker eers aan die grens sou besef hoe sterflik hulle is.

Die aand van haar kennismaking met skemerkelkies dink sy nie aan die toekoms nie. Altans nie verder as later vanaand nie. As hulle ’n tweede Black Russian gedrink het, sal hulle na die Seemeeu-diskoteek op die oorkantse oewer van die rivier stap.

Dalk sal ’n groep van See-en-Sandmenseredders met wie hulle op die strand geflankeer het, saam met hulle stap. Of nog beter, dalk kan hulle ’n lift kry by ’n paar jong branderryers met hulle eie kombi. En dan lê daar ’n hele aand van opwinding in die diskoteek voor.
 
Die fluoorligte wat jou wit onderklere en die wit van jou oë en jou tande beklemtoon, die flikkerende gekleurde ligte wat so rukkerig oor jou lyf gegooi word terwyl jy op harde rock dans: “Smoke on the Water”, “Locomotive Breath”, “Stairway to Heaven”, die stadiger dansmusiek teen die einde van die aand, “Whiter ­Shade of Pale”, “Nights in White Satin”, “Let It Be”, en die asemlose afwagting en die wonder, wonder, wonder wie jou gaan vra vir die volgende close dance.

“Ons sit hier soos twee voëlkykers op soek na ’n skôrs voël,” sê Lynette en begin hulpeloos giggel, haar hand voor haar mond gedruk, haar oë binne oomblikke so betraand dat haar maskara afspoel.

Theresa lag saam, on­seker of sy die grap gevang het, meer omdat Lynette vir haar so snaaks lyk met die swart kringe onder haar oë gesmeer. Dis tog nie moontlik dat haar vriendin ná ’n enkele Black Russian aangeklam kan raak nie? Volgens Lynette drink sy in Pretoria gereeld cocktails met vodka en rum.

Lynette hou op met lag, so onverwags soos sy uitgebars het, en staar verwonderd na die voordeur. Theresa volg Ly­nette se blik en sien ’n lang silwer Jaguar wat in die straat voor die hotel stilgehou het. ’n Swart chauffeur sit agter die stuur. Altans, sy aanvaar hy moet ’n chauffeur wees, al dra hy nie ’n uniform of ’n pet op sy kop soos die chauffeurs in oorsese flieks nie.

Daar is niemand langs hom op die passasiersitplek nie, net drie tienerseuns op die agtersitplek wat laggend uit die motor klim. Jonk genoeg om nog op skool te wees, maar met hare wat te lank vir skoolseuns is. Windverwaaide hare in verskillende skakerings van blond, van witblond tot donker goudblond.

Al drie se gesigte is sonbruin, ook in verskillende skakerings, en al drie se tande skitter spierwit wanneer hulle lag. Seker so sestien of sewentien jaar oud, skat Theresa toe hulle by die hoteldeur instap en nuuskierig om hulle rondkyk, soos koloniale ontdekkingsreisigers in donker Afrika.

“Engelse ouens,” prewel Lynette oorstelp. “Ryk Engelse ouens.” Toe Theresa weer na haar vriendin kyk, het sy reeds ’n spieëltjie uit haar handsak gepluk.

Sy spoeg ’n tissue nat en vryf vinnig daarmee onder haar oë om van die swart smeersels ontslae te raak. G’n Afrikaanse skool sal sulke takhare toelaat nie. En daar is nie veel Engelse vakansiegangers op Stilbaai nie, ’n feit wat Lynette reeds betreur het omdat sy vreeslik graag Engels sou wou gewees het.

Daar is altyd ’n paar wilde Engelse branderplank­ryers wat by Die Punt anderkant die hawe in hulle kombi’s slaap en dagga rook, maar hulle is te oud en te ervare vir die twee skoolmeisies. En hier stap drie aantreklike Engelse seunskinders by die hotel in – afgelaai deur ’n chauffeur in ’n Jaguar, can you believe it? – en kom sit naby die meisies. G’n wonder Lynette klink skielik so asemloos opgewonde soos die voëlkykers met wie sy pas nog gespot het nie.

“Nou moet ons ons kôrte reg speel,” fluister Lynette. “Follow my lead.”

“What are you girls drinking?” vra die langste van die drie, die een met die breedste skouers en die meeste selfvertroue. Seker die een wie se pa die Jaguar besit. Kyk nou maar na haar en Lynette, kyk wie het die meeste selfvertroue, raai wie se pa is die rykste.

“Black Russians,” antwoord Lynette kamma verveeld. “Maar ons was op die punt om te loop.” Sy praat haar mooiste Pretoria-Engels.

“Nooit, julle kan nie nou loop nie,” grinnik die kortste en blondste een van die drie. Sy gladde witblonde kuif hang laag oor oë wat ondeund blink.

“Dinge gaan nou eers interessant begin raak.”

“Sê wie?” vra Lynette so hardegat soos Theresa haar nog nooit gesien het nie. Theresa vee onmiddellik haar idiotiese grynslag uit en probeer ook hardegat lyk. Follow my lead, het Lynette mos gesê.

“As ons vir julle nog Black Russians koop, sal julle bietjie langer bly?” vra die voorbok. Lynette kyk hom uit die hoogte aan. Theresa staar verstom na Lynette wat so goed kan toneelspeel.

“Asseblief?”

“Wel,” sê Lynette asof dit ’n baie moeilike besluit is.

“Ons ken nie hierdie dorp nie,” sê die een met die witblonde kuif en die stout oë. “Wil julle ons nie bietjie vertel hoe dinge hier werk nie?”

“Wel.” Lynette kyk na Theresa. “Ons kan seker nog ’n Black Russian drink?” “Natuurlik kan ons nog ’n Black Russian drink,” beaam Theresa dadelik.

Sy wou eintlik meer hard to get speel, soos haar vriendin, maar haar hart ­hamer en haar kop draai terwyl sy na die derde lid van die driemanskap kyk, die skaam outjie wat tot dusver nie ’n woord gesê het nie, die een met die skraalste lyf en die lieflikste gesig.

Fynbesnede neus, rosige blos op die wange, so ’n goue donserigheid om die mond. Nie een van die plattelandse skoolseuns op wie sy die afgelope jaar ’n crush gehad het, het haar nog ooit so asemloos lighoofdig laat voel nie. Nie eens die kunsonderwyser met sy sensitiewe vingers nie. Dít moet wees wat “halsoorkop verlief” beteken.

Daarna sou sy dikwels wonder hoeveel die alkohol in haar eerste mengeldrankie bygedra het tot hierdie gevoel dat sy halsoorkop aan die tuimel is, sonder enige vrees, soos ’n sweefstokkunstenaar wat weet dat iemand haar gaan vang.

Skaamteloos het sy na Leonard met die goue dons om die mond gestaar, en hy het teruggestaar, en sy het gewéét dat sy later die aand in die Seemeeu met hom sou dans. Aan wat alles ná die dansery kon gebeur, wou sy eerder nie dink nie.

Dit was nie vrees wat haar gekeer het om verder te dink nie, bloot ’n gebrek aan verbeelding. Soos ’n ruimtereisiger wat hom nie kan verbeel hoe dit sou wees om op die maan te land nie. Die tienerjarige Theresa was op pad na ’n plek waar sy nog nooit was nie. Die donker kant van die maan.

Hoe vreemd dat sy vier dekades moes wag, tot sy een aand stoksielalleen op ’n hotelstoep in Havana sit, om die oorweldigende emosie van haar eerste vakansieromanse te herleef.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.