In sy vierde roman, Losprys, skryf Martin Steyn so gemaklik dat jy op ’n spanningstroom meegesleur word wat jou eers op die laaste bladsy uitspoeg. Ons vra hom ’n paar vrae.

Hoekom het jou ma met die gee van die woordeboek in matriek al na jou as ’n toekomstige skrywer verwys?

Ek het eers in die hoërskool regtig begin lees toe ek Stephen King ontdek. Om in sy wêrelde weg te raak was een ding; om in my eie een weg te raak was onweerstaanbaar.

My ma het al die jare geglo dit kan gebeur, en in matriek het sy vir my my eerste Concise Oxford Dictionary gegee.

Twee jaar gelede het sy vir my die HAT6 gegee met die inskripsie: “Die voorspelling in jou vorige woordeboek is nou vinnig besig om bewaarheid te word.”

Hoe slyp jy jou skryftalent?

Ek het onlangs ’n boek van Bear Grylls gelees, en hy sê ’n gemaksone is eintlik ’n gemaksput, en sodra jy besef jy is in een, moet jy begin uitklouter. Dit skep daardie belangrike gevoel van senuagtige opgewondenheid; dis wat ’n mens skerp hou.

Verder is dit net om aandag te gee aan styl en woorde. Met Losprys het ek hard probeer om geykte beskrywings te vermy.

Partykeer verg dit ’n paar uur se staar, maar wanneer dit werk, verskaf iets soos “Die lewe het sy gesig goedkoop behandel, te veel buite in die son gelos” vir my ’n kinderlike plesier, veral omdat die woorde gewoonlik van nêrens af kom.

Watter skrywers is jou rolmodelle?

Daar is verskeie skrywers wat ek bewonder, soos Deborah Steinmair vir haar unieke aweregse stories en Tolkien vir sy vermoë om ’n wêreld en veral ’n geskiedenis te bou. Maar ek het net een rolmodel, en dis King.

Ek het nou einde 2018 weer Firestarter gelees, en dit was soos om my gunstelingtrui aan te trek.

Die kwessie van al jou karakters wat Afrikaans praat in Losprys al is hulle nie Afrikaans nie, is interessant. Hoekom dink jy is dit vir ons problematies? Daar gaan tog nie in ’n Sweedse of Franse roman soveel Engelse dialoog wees nie, of hoe?

Kort nadat Losprys verskyn het, het ’n leser vir my ’n e-pos gestuur en gesê hy is bly al die dialoog is Afrikaans, want dis hoe hy dit wil lees; as hy Engels wil lees, sal hy ’n Engelse boek lees.

So dis miskien hoofsaaklik net vir my wat dit pla.

Ek hoor die Engelssprekende karakters in Engels praat, en dis hoe ek dit skryf (ek vertaal dit eers wanneer ek die manuskrip instuur), so dit voel vir my vreemd wanneer Lubambo of Zap nou Afrikaans praat, laat staan nog die Amerikaanse Gordons.

En daar gaan ’n bietjie van hul persoonlikheid verlore. Die alternatief is egter dat meer as die helfte van die dialoog Engels word. Is dit dan nog regtig ’n Afrikaanse boek?

Waar kom jy aan die idee vir Losprys?

Omtrent 15 jaar gelede het ek van ’n ontvoering in Die Burger gelees: ’n Nederlandse seun wat ’n week of so vir ’n losprys aangehou is. Ek het die storie gevolg, ook die hofsaak die volgende jaar.

Dit was vir my interessant, want nie net was daar gyselaarsonderhandelaars betrokke nie; omdat die gesin ryk was en ’n groot huis gehad het, het die onderhandelaars fisiek by hulle ingetrek.

Is die feit dat arm kinders wat verdwyn nie met soveel oorgawe deur die polisie gesoek word as bevoorregte kinders nie, iets wat jou na aan die hart lê?

Ek sal nie sê die polisie soek hulle noodwendig met minder oorgawe nie, maar sekere sake word hoëprofielsake en ander nie. ’n Hoëprofielsaak kry per definisie meer aandag in die media en in die polisiehiërargie, en dus word meer hulpbronne beskikbaar gestel om dit op te los.

Oor die algemeen kry ’n saak ’n hoë profiel omdat dit skokkend is of omdat daar bekende of ryk partye betrokke is.

Dis maar net hoe ons wêreld werk. Dis nie asof Joost van der Westhuizen die enigste mens is wat motorneuronsiekte gekry het nie, maar hy was Joost; daarom was die storie gereeld in die media. En dis daardie ding wat my pla.

As ’n bekende sangeres dink haar kinders is weg, is daar die volgende dag ’n volkleurartikel op bladsy 3, al was hulle eintlik net by hul pa.

Intussen trek ’n tienermeisie van die Kaapse Vlakte se verdwyning eindelik aandag en ons kry ’n berig op bladsy 6, waar daar ook vyf ander kinders genoem word wat al maande lank vermis word, met sulke klein foto’s waarmee ’n mens hulle skaars sal kan uitken.

Ek blameer nie die media nie, want dis ’n stelsel, en ons is almal deel daarvan. Baie mense wil lees oor Joost en popsangeresse. Maar soos een karakter in Losprys opmerk, die vermiste kinders waai soos Pick n Pay-sakke op die Kaapse Vlakte rond.

Adolessente anoreksie en ’n volwasse vrou wat haar nog sny, kom ter sprake. Hoekom haal jy hierdie twee kwessies by?

Sielkundige probleme en hanteringsmeganismes interesseer my baie. Dis ’n manier om diepte aan karakters te gee, maar ek dink ook dis belangrik om daaroor te skryf. Dit gaan al beter, maar sielkundige probleme dra steeds swaar aan stigma.

Baie mense leef met depressie, angs, eetsteurings, ensovoorts en steek dit agter ’n masker van normaliteit weg. Daar is baie vroue en mans wat hulle sny om hul gevoelens te hanteer en benewens benerige meisies ook seuns wat obsessief oefen en hul voedselinname beperk.

Hoe meer dinge in die openbaar kom, hoe groter raak die kans dat iemand daaroor sal praat en hulp kry. Soos toe die metropolisie onlangs by ’n skool oor molestering gaan praat het en die kinders toe sê daar is ’n onderwyser wat dit aan hulle doen.

Wie is jou gunstelingkarakter in Losprys?

Ek het Losper baie geniet – sy persoonlikheid, sy manier van praat. Die karakters was oor die algemeen maar taamlik nukkerig, soos tieners wat net in hul kamer wil sit en musiek luister en nie deel van die gesinsaktiwiteite wil wees nie.

Maar Losper het op die toneel gekom en net gedomineer. Ek kon skaars met die tik byhou wanneer hy praat, en hy praat aanmekaar.

Ek het ’n sterk spesmaas hy was eintlik besig met ’n oudisie vir ’n boek van sy eie.