Die Bybel – Nuwe Testament

(Jonathan Ball, R144 by uitgesoekte supermarkte landwyd of bestel by Johan: 021-406-4962 of johan.terblanche@media24.com)

Daar is nie ’n meer bekostigbare en kosbare Kersgeskenk vir die lede van jou selgroep as dié nie: Vir die eerste keer in Suid-Afrika kan jy nou die Nuwe Testament in tydskrifformaat lees.

Die leerstellinge van Christus wat al eeue lank oorvertel word, word nou modern uitgegee in ’n groot sagteband met talle kleurfoto’s van onder meer Suid-Afrikaanse landskappe en Suid-Afrikaners wat aanbid.

Dis ’n pragtige boek wat ook tuis sal lyk op jou koffietafel en nader getrek kan word om net ’n paragraaf hier en daar te lees soos wat ’n mens sou proe-proe aan ’n tydskrif. Dit het die eerste keer in 2015 in Nederland verskyn.

Vir die Afrikaanse weergawe is die 1983-vertaling van die Bybel gebruik.

In Mamelodi Het ek My God Gevind

Deur Nico Smith (Lux Verbi, R185*)

Nico Smith was ’n NG predikant wat in 1982 na Mamelodi beroep is. Hy het dit aanvaar en saam met sy vrou, Ellen, ’n kinderpsigiater, hul gerieflike lewe op Stellenbosch agtergelaat en eers in Meyerspark, Pretoria, gaan woon.

Gou het hulle besef hulle sal tussen hul gemeentelede in Mamelodi moet gaan woon. Dit is waar die titel vandaan kom, asook die ondertitel: “My lewe in die township en hoe dit my geloof verander het.”

Prof. Smith skryf hoe hy en Ellen op ’n besoek aan Amerika ’n lesing bygewoon het van Henri Nouwen, ’n priester wat sy Harvard-professoraat prysgegee het om in ’n tehuis vir verstandelik gestremdes te gaan werk.

Hy het gepraat oor identifisering met die lydendes in die wêreld wat min beteken as jy nie bereid is om deel van hul leefwêreld te word nie. Jy moet onder hulle gaan woon, want “dan eers sal jy verstaan wat dit beteken om te ly, om verdruk te word, om deur ander aan jou lot oorgelaat te word”.

’n Nuwe generasie wat nie weet wie prof. Smith is of wat apartheid was nie, kan gerus die boek lees.

Sy oudste dogter, Maretha Laubscher, skryf in haar nawoord oor sy groot begrafnis in 2010: “Die ironie het my nie ontgaan nie. Die veiligheidspolisie, wat my ouers se lewe jare lank moeilik gemaak het, doen die geleide na my pa se begrafnis.”

’n Lewe voor God

Deur Stephan Joubert (Lux Verbi, R195*)

“Ek het nog nie baie in die kerk gehoor dat die Here met enigiets hier op aarde tevrede is nie. Ook nie met die kerk nie. Voel jy ook elke keer wanneer jy uit die kerk stap dat jy weer in die leeukuil saam met ’n klomp kwaai Daniëls was?”

Dan is Sef. 3:17 soos ’n stroom koel water, skryf Stephan Joubert: Die Here jou God . . . is vol vreugde oor jou. Stephan se 366 dagstukkies help jou prakties Christen wees.

Deur water & vuur

Deur Karin Combrinck (Lux Verbi, R215*)

Die verskynsel van mishandelde mans bly een van die samelewing se donker geheime. “Geen man wil immers as ’n piepbalie uitgekryt word nie.”

Dis ’n spanningsroman met ’n Christelike inslag.

Jennifer, wat van haar man en en haar God vervreem is, keer terug van ’n navorsingsreis oorsee en verneem dan dat haar bejaarde pa spoorloos verdwyn het.

In haar poging om al die stukke van die legkaart te laat pas besef sy hoe onklaar haar eie legkaart is.

’n Tuin vir Tessa

Deur Helena Hugo (Lux Verbi, R145*)

“Twee maande later val die bus se wiele af. Die bank blaas in Altus se nek en die datum vir die veiling word vasgestel: 15 September.”

Tessa, Altus en hul twee seuns lei ’n rykmanslewe: argiteksontwerpte huis in Gauteng, strandhuis op Hermanus, twee inwonende huiswerkers en spogvoertuie.

Dan verloor hulle alles behalwe die klere in hul kaste deur die toedoen van Altus se ou vriend en sakevennoot. Die vrees en verleentheid maak dit vir Tessa onmoontlik om hulp te vra by hul gemeente en gebedsvriende.

Ons kyk na die donkiemaan

Deur Jeanne Henning Els (CLF, R190; bestel by order@clf.co.za)

“Sommige oomblikke maak vir altyd nes binne my. Omdat ek op daardie tydstip besonder bly was, dankbaar, miskien hartseer. Dalk was ek verskrik en verward.”

Die joernalis Jeanne Henning Els het bekend geword vir haar eerste boek, Ligdans – Depressievegters Se Verhale van Hoop, in 2009.

In haar nuutste een skryf sy kort stukkies waarin kosbare, hartseer, nostalgiese of vreugdevolle oomblikke vasgevang word. Dit spreek van iemand wat die lewe fyn dophou en die dinge wat nie noodwendig gesê word nie op papier vasvang.

  • *Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. 
  • Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing. 
Wen

Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar van die tydskrif wen.

SMS jou antwoord, naam en adres voor 29 November om 17:00 na 35407*.

Lyk die nuwe Bybel soos ’n boek of ’n tydskrif?

*Elke sms kos R1,50.

Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die boeke binne 'n redelike tyd.