Franciscus en die diere
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Piet Grobler (Protea, R145*)

’n Afrikaanse kinderboek aan ’n pous opgedra? Sowaar! Die ­illustreerder (en hier ook die skrywer) Piet Grobler dra die boek aan die huidige pous op “omdat hy aan die Goedheid van die wêreld glo”.

Die storie gaan oor sint Franciscus, die beskermheilige van die diere, en in Piet se weergawe reis hy saam met Esel die wêreld vol:

“Vir baie jare reis Franciscus en Esel saam rond. Franciscus praat met al die diere en mense wat hy teëkom. Oral waar hulle verbygaan, word die wêreld ’n bietjie mooier.”

Die illustrasies is fyn en kleurryk en vertel die storie veel verder as die woorde.

Toe Esel aan die einde van sy lewe op Franciscus se skoot sy oë sluit, sê hy vir die dier: “Saam het ons die wêreld ’n bietjie mooier gemaak.” Hierdie boek sal dít ook vir kinders doen.

Eendag in ’n woeste woud
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Chris Riddell (Protea, R145*)

Chris Riddell, politieke spotprenttekenaar vir die Observer-koerant in Engeland, is ook die skepper van die hoogs vermaaklike en stapelgek Juffrou Goth-reeks.

Eendag in ’n Woeste Woud is op jonger kinders gerig en kan ’n sprokie genoem word waarvan die wiele afgeval het en toe ontspoor dit.

Dis die verhaal van Groenkappie (ja, jy kan reeds sien waarheen dit mik) wat na Raponsie se partytjie genooi is. Langs die pad kom sy natuurlik ’n wolf teë én ’n trol en ’n hartseer Ondier op soek na Skoonlief.

Hy mis haar vreeslik: “Sy gooi vir my stokke om te gaan haal en ek sit blomme in haar hare.”

So ontmoet sy byna al die karakters in die genre, natuurlik ook die Prins, in hierdie geval ’n baie moeë een: “Prinsesse! Hulle is uitputtend! Die een slaap ’n duisend jaar lank, die ander een verloor haar skoene of gaan dans elke nag tot laat.”

Dis hoe Chris die onverskrokke Groenkappie teken.

Die nagbeer
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Ana de Moraes; illustrasies: Thiago de Moraes (Human & Rousseau, R139*)

Ana en Thiago de Moraes is Brasiliane wat in Londen woon en werk – sy by die BBC en hy by ’n reklamemaatskappy.

Thiago vertel op Twitter hy het op ’n dag net lus gekry om ’n beer te teken, en om die een of ander rede moes hy ’n lig aanskakel (sien skets).

“Ons het so baie van die ou gehou dat ons ’n storie oor hom geskryf het, en baie, baie later het dit ’n boek geword.”

Die Nagbeer kom snags met die Nagbus en vreet al die nagmerries op wat kinders so bang maak.

Die Nagbeer
Die Nagbeer

Hier is ’n paar van sy lekkerste happies:

Monsters uit die Vaal­rivier / proe soos iets by ’n braaivleisvuur.
’n Gore, bose jeti / proe net soos slap spaghetti.
Die bullebak wat winde los / proe presies soos koningskos.
Rowers wat bandanas dra / proe soos piesangs saam met vla.
Siklope sonder skoene / proe soos lekker sampioene.

Die meesterrymer en limeriekfabriek Philip de Vos het weer sy verbeelding losgelaat om die De Moraes-egpaar se boek so Afrikaans soos koeksisters te maak.

Moeps die skelm
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Aaron Blabey (Protea, R145*)

Moeps is ’n mopshond wat tog te veel kan jok – en gewoonlik om die arme Worsie die worshond in die moeilikheid te laat beland.

In Moeps die Wenner, nog ’n boek in die reeks, leer hy ’n mens kan maar soms die verloorder wees, en in Moeps die Mops moet hy leer om sy ruimte met Worsie te deel.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Aaron Blabey was ’n Australiese akteur voor hy begin prenteboeke skep het. Sowat 14 miljoen van sy boeke is in druk in verskillende tale. Sy illustrasies is heerlik.

Groot beer
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Wendy Hartmann; illustrasies: Zinelda McDonald (Lapa, R135*)

Luna gaan saam met haar klas diere­tuin toe, en daar sien sy Groot Beer. Sy kry hom jammer omdat hy so alleen en doodstil sit. Toe die ander kinders verder stap, gaan sy terug en gesels saggies met hom. Sy sê sy is lief vir hom.

Toe Luna by die huis kom, hoor sy haar ma en pa baklei, en ’n rukkie later sien sy haar pa gooi ’n tas in sy kattebak en ry weg.

In die tyd wat ’n mens aflei die egskeiding is, is Groot Beer heeltyd by Luna; hy gaan saam met haar skool en parkie toe en sing haar saans aan die slaap.

’n Bietjie ligte ontsnapping vir ’n kind in hierdie situasie.

Bennie Boekwurm se mooiste sprokies (Boek 2)
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Louise Smit; illustrasies: Johann Strauss (Human & Rousseau, R145*)

Louise Smit vertel Rooikappie, Die Skoenmaker-kaboutertjies, Die Dieremusikante van Bremen, Duimelina, Die Blommekind en Sneeuwitjie en die Sewe Dwergies in haar eie woorde.

Of dalk is dit Bennie Boekwurm wat sy eie spin op die bal sit om die maatjies te vermaak wat in die tonnel­huisie kom kuier.

Dit klink net reg vir ’n ouma of oupa wat vir die kleinkinders wil lees. Hulle sal ook Johann Strauss se realistiese illustrasies geniet (wat ook verantwoordelik is vir die illustrasies in die eerste boek).

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET  DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.