Toring van Jasmyn
Derick van der Walt. Foto: Skinner
Derick van der Walt. Foto: Skinner

Deur Derick van der Walt (Tafelberg, R169*)

Dan hoor jy die oorverdowende slag. Vir ’n paar sekondes daarna is dit stil. Dan ruik en sien jy die rook en die vlamme wat by die restaurant se vensters uitpeul. Jy sien ook die sambrele wat aan flarde die wêreld vol lê op die binneplein, tafels en stoele omgekeer, borde en glase stukkend op die plein se stene.

Jy hoor die gekerm en die geskree om hulp, sien die straaltjies bloed wat stadig spinnerakke oor die mooi keistene vorm.

Eenkant lê ’n spierwit voet sonder die res van die lyf, ’n goue sandaal nog in po­sisie, die naels bloedrooi geverf.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Oomblikke tevore was dit ’n gewone dag in Istanbul met vroue in burkas wat hul gang gaan op oorvol sypaadjies en toeriste wat in restaurante kuier. ’n Groepie blonde jong mense lag en gesels, ruik aan skottels vol gedroogde tiemie, ment en paprika en vat aan rye en rye materiale wat aan pale voor stalletjies hang.

Dan kom die oorverdowende slag . . .

Nina en haar jonger broer, Markus, gaan saam met hul pa Istanbul toe op een van sy sakereise. By hulle is ook ’n skoolvriend, Neil, oor wie hulle hulle blykbaar moet “ontferm”.

In die eksotiese stad raak hulle betrokke by Sahib, ’n ou wat ’n stalletjie by die speserymark het, en sy suster, Meryam. Deur hulle beleef hulle meer as net die gewone toeristedinge, maar die avontuur loop skeef toe Nina wegraak. Wie sou haar wou ontvoer?

Derick van der Walt het met Toring van Jasmyn die tweede keer die goue Sanlam-­prys vir Jeuglektuur gewen. (Die vorige keer was in 2009 vir Lien se lankstaan­skoene.) Hy is ’n joernalis in Pretoria wat kor­poratiewe publikasies vir ?kliënte vervaardig.

“Dis nogal eienaardig dat ek eers 12 jaar gelede kreatief begin skryf het,” sê hy.

Derick beantwoord twee van ons vrae:

Wat was die prikkel vir Toring van Jasmyn?

Party mense lag in die mou en ander lag openlik as ek vir hulle sê ek het die storie gedroom. Ek lag saam; dis natuurlik weird verby. Maar ek hét daai droom gedroom.

Hoe bly jy in voeling met jou jong teikenmark se wêreld?

Sommige skrywers glo dat ’n mens in die sosiale media moet rondhang om te weet wat in jongelinge (en ander mense) se kop gebeur. Ek dink dis onnodig. Ek skryf bloot oor gewone mense en hul menslike dinge. Die ouderdom van die lesers en die karakters is nie vir my belangrik nie.

Ons het die eerste keer ’n televisie­stel gekry toe ek in matriek was. My oor­lede pa (’n sobere polisieman) het gedink televisie is ’n mors van tyd. Hy het gesê mense wat televisie kyk, is te dom om te lees en te arm om uit te gaan.

Maar toe lê ons kinders elke aand voor die bure se televisie en is nooit by die huis nie. Ek dink hy het ons gemis.

Ek lê laag in die sosiale media. My ordentlike pa se kritiek geld hier ook, glo ek.

Sindikaat
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Annerle Barnard (Tafelberg, R169*)

Paul vee die sweet van sy voorkop af. Hy klink soos ’n histeriese ou tante. Een wat in die middel van die nag ’n T-rex met ’n dodelike stert op die ouetehuis se troon ontdek. Sy stem wil-wil breek. As hulle bloot net biltong oor die grens gesmokkel het, enige tyd. Shanana! Maar wapens? Nie eens hý is so gek nie.

Wat Paul se moermeter heeltemal in die rooi rev, is dat Bossie nie eens die moeite doen om te reageer nie. Die man lyk of hy nie ’n hartklop het nie. Al wat Bossie blykbaar nié tussen die bagasie versteek het nie, is ’n Israeliese vegvliegtuig. En hy vra hulle moet ontspan wanneer hulle deur die grenspos gaan?

Bossie word deur Paul se pa betaal om hom en twee van sy vriende, Adriaan en Karlien, met “vakansie” Zambië en Zimbabwe toe te neem.

Die rede is dat Paul vroeër in die jaar iets gesien het wat hy nie moes nie en doodsdreigemente ontvang het van ’n gewetenlose sindikaat. Bloemfontein het vir hom te gevaarlik geword en nou beleef hy ’n Afrika-avontuur wat dreig om handuit te ruk. Kan ’n mens niemand dan meer vertrou nie?

Annerle Barnard het vir Sindikaat ’n silwer- Sanlam-prys vir Jeuglektuur gewen.

Elf dae in ?Oxford
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Elizabeth Wasserman (Tafelberg, R159*)

Voordat Lya by haar derde storieboek van die somer­vakansie kon uitkom en skaars nadat sy die laaste seisoen van die nuutste Amerikaanse snert­soppie op Netflix gekyk het en te veel geëet het oor Kersfees en haar dood verveel het by ?’n Nuwe­jaarsbraai saam met haar ma en haar pa en haar nare tannie Agatha, is dit tyd om na Engeland te vertrek.

Lya gaan by haar slim suster kuier wat aan Oxford studeer, en as sy dalk bang was vir nog verveling, verdwyn die moontlikheid toe sy haar voete op Heathrow neersit.

Sy word net daar by ’n avontuur betrek toe sy haar suster se nuwe programmatuur teen ’n skelm professor moet help beskerm. En sy moet ’n verlore dagboek van die skrywer Lewis Carroll uit die biblioteek gaan steel. Die hele storie begin soos iets uit Alice in Wonderland klink.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.