Dis die storie van 10 vriende wat 10 jaar lank ’n wegkomkans aangryp om mekaar vir ’n naweek êrens te ontmoet. Dit speel af in die tyd van die 1980’s se politieke onrus en die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Wegkomkans het in 1999 die eerste keer verskyn en is in 2006 en nou weer heruitgegee. Die boek het sonder om enige pryse te wen – anders as die meeste van Marita van der Vyver se ander boeke – stil-stil ikoniese status bereik.

“Dit was altyd vir my ’n spesiale boek. Dit is ook die dikste een wat ek ooit geskryf het,” sê sy.

Marita vertel dit het haar 13 jaar geneem, en sy het selfs haar eie wegkomkans gereël deur vir ’n jaar Frankryk toe te gaan om die boek te voltooi. (Dit was tussen 1996 en 1997 waartydens sy toe haar toekomstige man, Alain Claisse, ontmoet het.)

Foto: Verskaf

“Elke keer wanneer ek deur die jare in Suid-Afrika gekom het, het mense vir my gesê die boek is uit druk en hulle wil dit vir iemand present gee, ook dat hul eie boek gaar gelees is.

Toe kom ek agter sommige mense lees dit elke jaar; party het selfs briewe geskryf waarin hulle vertel hulle hou sulke Wegkomkans-naweke.”

Sal die boek ook in die smaak van ’n nuwe generasie val, byna twee dekades later? Ja, sê Marita.

“As ’n mens die tegnologie en politieke omstandighede wegvat, bly verstommend baie dinge waaroor hulle wroeg wat nog dieselfde is. Wegkomkans is die storie van jongerige stedelinge wat wroeg oor hul plek in Suid-Afrika, vriendskap en verhoudings, mense wat doodgaan en ouer word. Dis tog dinge wat universeel en tydloos is.”

Sy oorweeg nou vir die eerste keer ’n opvolg vir Wegkomkans.

“Ek noem die voorlopige titel spottenderwys Nog ’n Kans of Laaste Kans!”

‘Tien karakters opsoek na ’n skrywer'  

Yvette is ’n kinderboekillustreerder wat gewoonlik in bont rokke en swart balletskoene gesien word.

Sy word van “selftevrede naïwiteit” verdink, maar is in werklikheid “ ’n vrou met ’n innerlike bron van vrede” wat aan haar en die mense om haar troos gee.

Adriaan is ’n skilder met hande wat eerder by ’n ploegskaar as ’n kwas pas en ’n kwesbare mond wat “die uitdagende uitdrukking op sy gesig weerspreek. Soos ’n seerplek bokant sy ken.”

Paul is ’n prokureur en baie mooi man, “die soort teen wie enige ordentlike ma haar dogter sou waarsku omdat hy darem net te veel na ’n Italiaanse model lyk”.

Liane is Paul se vrou en “so lieflik soos Helena van Troje moes gewees het”.

Sy is ’n dekorstilis wat haar vasberadenheid en haar liefde vir luukses by haar konsentrasiekamp-ouma geërf het.

Max is ’n struggle-prokureur (wat deur sy vriende oor sy ryk ouerhuis gespot word).

Hy is al die jare heimlik verlief op iemand in die vriendekring.

Bobby is die jongste lid van die vriendekring en heelhuids by die struggle betrokke.

Mila is ’n joernalis en feminis, maar van die soort wat haar lieflike bene skeer en haar nog liefliker borste nie wegsteek nie.

Ralph “was nog altyd op die toneel”, Mila se toneel – sy skoolvriend Stuart het hom egter voorgespring, maar dié het gesterf kort nadat hulle getroud is.

Emma is ’n skrywer wat uitgeken word aan haar bos rooi hare wat óf soos “ ’n ongesnoeide heining” om haar kop staan óf in ’n slordige bolla pal oor een oor afsak.

Philip is in ’n stormagtige verhouding met Emma, en hy meen “die huwelik is die enigste avontuur wat vir die middelklas oorbly”.

Hy sal eerder die Himalaja gaan uitklim, want dis minder gevaarlik.

’n E-pos aan Marita

Boeke
Foto: Verskaf

Jana Cloete van Table View het vir Marita van hul wegkomkanse vertel. (Sy sit op die foto in die middel met haar baba.)

“Hi, Marita, ek wil dankie sê vir jou en jou boek wegkomkans. Daai boek het ons 15 jaar gelede geïnspireer om jaarliks op ons eie wegkomkans te gaan.

Ons was al op baie plekke, met fantastiese stories en slegte herinneringe natuurlik ook, heartache.  Ons was net 19 toe, so dit was wild.

“Single mense het intussen getrou. couples het opgebreek. Babies came along. ’n Paar mense het uit die kas gebliksem. Party mense het te veel weed gerook.

Ander te veel gedrink. Ander te veel koffie. “Die eerste een was op Nieu-Bethesda. Marathonsessies, poker en black jack gespeel op Victoriabaai en ons het gejam op Janis Joplin se Piece of my heart.

By Cannon Rocks het ’n paar van ons in duine verdwaal. op Eersterivier het ons van duine af gebons en verslons rugby gaan kyk by die grênd gholfklub.

Op nature’s valley het ons in ’n huis gebly wat gespook het. “Dan was daar ook die weird shoppie op sedgefield wat verwronge Barbie-poppe verkoop het. Op Riebeek-Kasteel het ons opgedress vir die aand in die Royal Hotel.

Die keer op Prins Albert was dit die eerste wegkomkans met ’n baba by.

op Arniston toe Wynand 30 word, toe pomp ons die party een nag lékker en dans op Abba, toe kom James die kombuis ingehardloop – ons is beroof! “En so gaan ons voort. sommige partners kom en gaan.

Enkele vriende ook, maar wat altyd bly, is die musiek, die samesyn, die whiskey en wyn, die lag en die bietjie pyn, die mooi memories.

“Dankie, marita, vir daai. Ons het hard geleer die lewe is nie soos storieboeke nie – dis nie op papier nie, dis real. So real dat dit eintlik op papier hoort. Dankie vir die padkaart. “Next stop: Overberg.”