Die slaghuis

Deur Cas Wepener. Beskikbaar by takealot.com

Marietta verhuis in 1997 saam met haar oud­brigadierman na ’n slaperige dorpie in die Oos-Kaap. Twintig jaar later vat die ander vroulike hoofkarakter, Kylie, oor en is dit nou glashelder duidelik die duiwels draai in die werklikheid hier onder rond. Die skaduwees van die verlede val ver en lank . . .

Die slaghuis se skrywer, Cas Wepener, professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch, beantwoord ons vrae.

Weet jy of daar al in Afrikaans ’n erotiese toneel in ’n slaghuis afgespeel het?

Gits, nee, maar myns insiens is dit ’n baie voor die hand liggende ruimte vir ’n erotiese toneel. Daar is natuurlik enkele voorwaardes, soos dat dit ’n keurige slaghuis moet wees, ’n plek waar die blokman omgee vir sy produk, met klante wat op ’n diep vlak sy kuns kan waardeer en verstaan dat ’n mooi stuk vleis al vyf sintuie moet bevredig.

Met hierdie antwoord weet jy nou ook dat ek van Generasie X is en nie ’n veganistiese Millenniër nie. Noudat ek daaraan dink, behoort daar ’n ouderdomsperk op die omslag te wees, nie soseer vir sekstonele nie, maar vir vleistonele.

Benewens dat jy haarfyn beskryf hoe die slagter ’n karkas opsaag, is daar ook verskeie heerlike vleisgeregte. (Net van die beeshart en skaap­tongetjies weet ek nie so mooi nie . . .)

Kos en versoening lê lepel. In versoeningsrituele in Afrika is daar dikwels die offer, die gesamentlike ete en die kan bier wat in die kring omgestuur word. Selfs in die kerk was en is versoening ’n voorvereiste om by die tafel te mag aansit.

In ons eie land het een van die breuklyne in 1857 gekom met die sogenaamde swakheid van sommige, te wete dat wit mense nie kans gesien het om by dieselfde nagmaalstafel as swart en bruin mense aan te sit nie.

Kos word dikwels as taboe ingespan – wat mag en wat mag nie geëet word nie; wie mag saam met wie eet en wie word uitgesluit. ’n Fyn waarneming van eetgewoontes verklap baie oor wie die mense is. Dit is by uitstek met ons kos wat ons grense trek en uitsluit en dieselfde kos wat grense help afbreek en oorsteek.

“Peertjiemootjie” is ’n pragtige woord wat voorkom op die laaste bladsye waar die vrou noukeurig ’n gereg vir haar man voorberei. Die onpragtige, grieselige ondertone besorg aan jou die prys vir subtielste, spannendste slot in jare. Het jy al peertjies geslag?

As kind moes ek help om baie bokke en skape te kastreer, maar dit was met ander tegnieke en ek het dit waarna jy vra net beleef wanneer dit nodig was om ’n klophings te maak.

Dit moet gedoen word wanneer ’n fout begaan is, met ander woorde ’n skaaplam het die uitverkie­sing oorleef, mag dus ram word en is nie tot kapaterskap gedoem nie.

Dan verander die boer egter van plan omdat die lam ná ’n tyd blyk nie aan die vereistes vir teelram te voldoen nie en moet hy in ’n later stadium dus gesny word. Dit het ek wel beleef. Is dit nie wat met baie mans in ons land ook gebeur het nie?

In een stadium uitverkorenes, maar is helaas met die verloop van tyd tot klophingsskap gedoem. En ja, die woord peertjiemootjie, dit klink so lekker, want dit proe so lekker.

Die titel Die slaghuis roep onwillekeurig en sonder dat daar noodwendig enige verband is Slaughterhouse-Five van Kurt Vonnegut op. Sou jy egter wel kon sê Die slaghuis is ook ’n anti-oorlog-roman in die sin dat die gevolge wys die koste is altyd te hoog? (Bygesê, in Die slaghuis is dit die nieamptelike oorlog van apartheidsvergrype.)

Ek dink so, ja. In ’n nuwe publikasie word daar na apartheid verwys as ’n “slow disaster”, dus ’n ramp waarvan die nasleep steeds gevoel word.

Dit is soos kolonialiteit as die nasleep van kolonialisme, die feit dat iets steeds soos suurdeeg bly werk en in ons strukture en denke aanwesig bly, al is dit formeel nie meer wet nie.

Dit is een ding om ’n wet te skrap; dit is ’n ander saak om ’n kop of hart te dekoloniseer. Ek dink Die slaghuis wonder ook of ons die koste van die oorlog of stadige ramp wat apartheid was al be­reken het.

Waar kom jy aan hierdie storie? Dit verskil hemelsbreed van jou vorige, baie stil roman, Johanna.

As jy my vra, dan weet ek nie, en as jy my nie vra nie, dan weet ek.

My stories word altyd vanuit ’n misterieuse plek binne my gebore, en wanneer ek skryf, weet ek nie wat die sin gaan wees wat volg op die een wat ek besig is om te skryf nie.

En aan die ander kant, wanneer ek stil sit en koffie drink en dink aan my eie lewe: wat ek beleef het as kind wat in die 1970’s en ’80’s grootgeword het, in die weermag, 1994 en daarna, deur RhodesMustFall en alles wat ons as Suid-Afrikaners steeds saam deurmaak, dan is dit vir my weer glashelder waar ek aan die storie van Die Slaghuis kom – dit sit in my lyf en die helfte is nog nie vertel nie.

Hierdie dinge het Cas verstom
  • Drie dinge wat my verstom het, was Gisela ­Ullyatt se Die waarheid oor duiwe. Dit is woorde wat ek in die grendeltyd nodig gehad het.
  • Heelwat kommentaar in die sosiale media en op artikels in koerante het my ook verstom en was weer woorde waarsonder ek goedskiks sou kon klaarkom.
  • Ook hoe maskers ons eerliker maak, want ons lag eerstens met ons oë en nie ons monde nie.
  • Twee dinge wat my nie verstom het nie, was hoe veerkragtig ons studente te midde van enorme uitdagings is en dat Johan Myburg se Uittogboek die Hertzogprys gewen het.