Ingrid Jonker – ’n Biografie

Deur Petrovna Metelerkamp (Penguin, R300*)

Dis haar derde boek oor Ingrid Jonker.

Die eerste, Ingrid Jonker – Beeld van ’n Digterslewe, het in 2003 verskyn. Dit was ’n koffietafelboek met foto’s, briewe, aanhalings en herinnerings sonder die vertelstem van ’n biograaf.

Petrovna Metelerkamp sê sy het nog nie genoeg van Ingrid geweet om ’n volledige biografie te skryf nie. Dié boek is bygewerk en in Engels uitgegee as Ingrid Jonker – A Poet’s Life.

Het jy ’n bietjie van ’n fiksasie met Ingrid?

“Ek was bereid om baie hard te werk om reg aan Ingrid te laat geskied. Skinderstories, onwaarhede en sensasionele berigte oor haar was volop tot ek met navorsing begin het – en oor haar begin skryf het.

“Dit was in 1994 nadat pres. Nelson Mandela haar gedig Die Kind in die parlement voorgelees het. Ek is nou tevrede dat sy reg verstaan kan word. Ingrid verteenwoordig aspekte van ons almal; dit is wat haar ’n universele figuur maak.”

Petrovna Metelerkamp, skrywer van Ingrid Jonker – ’n Biografie (Penguin, R300*) Foto: Tania van Niekerk

Wat is nuut in hierdie boek?

“Dié boek bevat nuwe inligting. Ek het onder meer toegang gekry tot Ingrid se dagboeke, haar minnaar Jack Cope se dagboeke, haar ander minnaar André Brink se briewe, en mense wat nie voorheen oor haar wou praat nie.

"Wat ook nuut is, is dat dit ’n volledige biografie is.

"Daar is ’n skrywer aan die woord; Ingrid se lewensloop word soos ’n storie vertel.”

As jy Ingrid in 30 woorde moes opsom:

“Ek dink Ingrid Jonker was ’n begaafde idealis. Sy het geleef vir haar digkuns. Sy was passievol; daarom kwesbaar.

"Ek vind lesers identifiseer intens met haar ervarings.”

Wie dink jy was die groot liefde van haar lewe?

“Ek het nie twyfel dat Jack Cope haar groot liefde was nie. Dit is ’n tragedie, want Ingrid was eweneens die liefde van sy lewe.”

Jy skryf oor die vele kere dat Ingrid haar “sleg gedra”. Waarom sou sy so geneig gewees het hiertoe?

“Ek het interessante inligting versamel oor die effek wat medikasie op Ingrid gehad het.

"Dit, of die verkeerde gebruik daarvan, het dikwels veroorsaak dat sy onbeheersd opgetree het of erg geaffekteer is deur min alkohol.”

Hoe sou jy André Brink se rol en sy invloed en impak in haar lewe beskryf?

“André was kortstondig ’n lig in Ingrid se lewe.

“Ongelukkig het hy nie dieselfde idee van ’n liefdesverhouding gehad as sy nie. Dit het haar baie skade berokken.

“Dit wil nie sê hy was verantwoordelik vir haar dood nie.

“Die einde was veel meer gekompliseerd as dit. Dit is hartverskeurend.”

UIT DIE ARGIEF

DIE ROOIKOP EN DIE REDAKTEUR EN ANDER STORIES

1955-1959

DEUR ANDRÉ P. BRINK (Human & Rousseau, R240*)

Selfs André P. Brink moes oefen om te skryf voor hy romans kon skryf wat in meer as 30 tale vertaal is.

Een van sy geliefde vingeroefeninge was liefdesverhale vir tydskrifte. Hierdie bundel is ’n keur van sulke verhale van hom wat tussen 1955 en 1959 in Die Huisgenoot en Die Brandwag verskyn het.

Dit is goed om te onthou die later veelbekroonde skrywer was in 1955 net 20 jaar oud. Die verhale spreek van ’n onskuldige tyd toe ’n ou en ’n meisie nog weke lank kon uitgaan voor daar eers “ ’n soentjie gesteel is” (as dit wel gebeur het, is dit nie in ’n fatsoenlike tydskrif gerapporteer nie).

Die heldinne is pragtig en fyn, en interessant genoeg nes Brink se vrouehoofkarakters later, lyk of tree hulle op soos dogtertjies.

In Pygmalion ontdek ’n besoekende pianis op die platteland ’n meisie met ‘n wonderskone sopraanstem: Sy lyk “soos ’n kind daar op die rots; ’n klein pragtige dogtertjie”.

In Stryd in die Storm, waar drie mense op ’n eiland in die Seinerivier teen ’n storm skuil, slaap die meisie Heléne teen die skurk se skouer.

“Haar hare is effentjies deurmekaar, laat haar met die onskuld van ’n dogtertjie vertoon.”

Soos dit toentertydse tydskrifverhale betaam, is die mans toegerus met sterk lywe waarteen die meisies hulle kan aanvly.

Die 12 verhale sal baie genot bring aan veral ouer lesers.

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.