Na ’n plaas in Afrika
Irma Joubert. Foto: Estie du Plessis
Irma Joubert. Foto: Estie du Plessis

Deur Irma Joubert (LAPA ­Uitgewers, R249*)

Eendag lank gelede vlieg ’n man met ’n klein vliegtuig uit Duitsland Skotland toe. Net sy vrou weet van die geheime vlug en dat hy met ’n hertog wil gaan onderhandel oor vrede met Duitsland.

Toe sy brandstof laataand opraak, spring hy uit en land met sy valskerm nie te ver van sy bestemming af nie. Hier word hy egter in hegtenis geneem, en hy bring die res van sy lewe in die tronk deur tot hy hom op 93 hang.

Hy is een van vele interessante karakters in Irma Joubert se jongste roman, Na ’n plaas in Afrika, maar hy kom nie uit haar ryk verbeelding nie. Hy is Rudolph Hess, tweede in bevel ná Hitler, wat ná hierdie vreemde daad sy dae in die Spandau-tronk geslyt het.

Irma verduidelik waar haar fassinasie met hom vandaan kom:

“Ek dink ek weet van altyd af van Rudolf Hess en was nog altyd geïnteresseerd in hom. Hoekom op aarde sou hy so iets probeer doen? Was dit ’n deeglik deurdagte en beplande ­besluit? Ek moes ook ’n soort brug bou tussen my twee hoofkarakters: Charles in Skotland en Oswald von Stein in Duitsland.

“Charles het nie om dowe neute spesifiek in Eaglesham beland nie. Dis die plek in Skotland waar Hess in 1941 sy noodlanding gedoen het.”

Sy vertel Charles se storie kom uit haar grootwordjare.

“My pa het geboer en het gereeld jong aspirantboere en landboustudente as bestuurders op die plaas gehad. Dis hoe oom Allan Heath by ons beland het. Hy is gedurende die Tweede Wêreldoorlog as klein seuntjie na sy bejaarde tante op ’n Skotse dorpie ontruim en het daar grootgeword.

“Ná die oorlog was daar vir jong mense min werk­geleenthede op ’n plattelandse dorp en sy tante stuur hom toe na sy niggie (haar dogter) in Swaziland. Sy ideaal was om te boer en so reageer hy op ’n koerant­advertensie en begin by my pa werk.

“Hy het baie gou Afrikaans en Noord-Sotho vlot leer praat en is eindelik getroud met my pa se oudste suster.

“Hierdie is natuurlik nie oom Allan se storie nie; dis Charles se storie. Maar dis ’n te lekker storie om nie oor te vertel nie!”
Charles, die “pret­lustige klein rooikop op soek na avontuur”, is een van haar gunstelingkarakters.

“Hy is ’n liefdevolle seun met ’n ryk verbeelding. Hy is ’n flukse werker, maar al doen hy sy beste, wag die moeilikheid net om die volgende draai. Ek dink die manier waarop hy sy probleme hanteer, is die ding wat die diepste in my hart in­gekruip het.”

Soos altyd het Irma deeglik navorsing gedoen vir haar roman. Sy het Eaglesham besoek vir Charles se storie (die een hoofverhaal), op die dorpie rondgeloop en onderhoude gevoer met van die ouer inwoners.

“In hul argief het ek wonderlike primêre bronne opgespoor. Dit is ook waar baie van my inligting oor veral die landing van Hess vandaan kom.

“Vir die tweede hoofverhaal, Oswald von Stein as krygsgevangene in Siberië, het ek taamlik swaar gesteun op ’n boek deur Adelbert Holl: After Stalingrad – Seven Years As a Soviet Prisoner of War.

Dis die boekstawing van die skrywer se eie ervarings as Russiese krygsgevangene. Alles wat dus in die kampe in my boek plaasvind, is gegrond op ware gebeure – soms net effens versag, want ek skryf nie ’n gruverhaal nie. En natuurlik het ek weer [Heinz] Konsalik se Skerwe van die ysterkruis en Die snydokter van Stalingrad uit my laerskooldae gelees.”

Na ’n plaas in Afrika is die derde in Irma se oorlogstrilogie. Sy verduidelik hoe hulle op mekaar volg:

Immer wes, die verhaal van Hildegard von Stein, is geskryf uit ’n Duitse perspektief. Dit sluit albei wêreldoorloë en ook heerlike Namibiese geskiedenis in. Daarin leer ons ook haar stiefseun, Oswald, en haar dogtertjie, Esther, ken. Toe Hildegard en Esther op die boot na Suider-­Afrika kom, ontmoet die leser die kaaskop Mentje en die rooinek ­Charles, boeke 2 en 3 se hoofkarakters.

Mentje, kind van Pas-Opkamp, gee die Nederlandse ervaring van die Tweede Wêreldoorlog. Mentje beleef die Nazi-verskrikking in ’n ondergrondse skuilplek vir Jode en later die Slag van Arnhem.

Op die boot na die suide beloof Mentje, Esther en Charles mekaar dat hulle in kontak sal bly en 10 jaar later, dus in 1956, ’n reünie sal hou.

“En dis die groot lekkerte in Na ’n plaas in Afrika, hierdie herontmoeting met al die bekende karakters uit die vorige boeke.”

Vyf dinge wat Irma verstom
  1. Dat sekere lesers dink hulle het die reg om boeke (in PDF-­formaat) gratis of teen minimale bedrae van die internet af te laai of van groepe te ontvang. Dis suiwer diefstal, geld steel van die skrywers en uitgewers, gepleeg deur Afrikaanse lesers wat in party gevalle hulself Christene noem. Dít skok my.
  2. Dat dit dieselfde voel om by leeskringe in Suid-Afrika, Nederland en Duitsland te praat. ’n Leser is ’n spesifieke soort mens, wêreldwyd – behalwe die diewe.
  3. Dat mense steeds soveel in die Tweede Wêreldoorlog belangstel, al was dit 80 jaar gelede.
  4. Dat die Liewe ­Vader my bly seën met stories in my kop – onverdiende genade.
  5. Dat karakters vir my lewend bly, selfs Izak Katz uit 2005 of die Duitse wesie Gretl, dapper Pérsomi, opstandige Katrien, almal. Ek hou net daardie verleidster Annabel so ver moontlik uit my huis. Ek sweer sy sal ook boeke steel.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.