Leef lig
Beskikbaar by Lux Verbi
Beskikbaar by Lux Verbi

Deur Jaco Strydom (R200)

“Suid-Afrika is nie arm aan die boodskap van die evangelie nie. Jy kan die meeste mense in die nag wakker maak en hulle sal jou vertel dat Christene glo Jesus het vir ons sonde gesterf. Daar is ’n kerk om elke hoek en draai.

“Christenmusiek, teologiese boeke, Jesus-plakkate, -plakkers, -pette, -T-hemde en -skoenveters verkoop goed. There’s money in Jesus. Maar die Christengetuienis is arm aan die uitlewing van die mees basiese dinge waaroor Jesus die heel meeste gepraat het. Dis nie dat hierdie mees basiese dinge heeltemal ontbreek nie; dis net dat dit dikwels eerder af en toe geleef word en dat dit uitsonderings is.

Jaco Strydom. Foto: Instagram@jacostrydom
Jaco Strydom. Foto: Instagram@jacostrydom

“Gewoontes gaan oor dit wat ons gereeld doen, die meeste van die tyd, al kry ons dit soms verkeerd.”

Dis oor dié gewoontes waaroor Jaco Strydom se boek, Leef lig: Vyf gewoontes van die vroeë kerk en wat dit vir ons vandag beteken, gaan. Dié  gewoontes is tyd in afsondering vir gebed, om lig te reis, in eenheid te leef, goed te wees vir jou vyande en om te gee vir die wêreld.

Jaco is die leier van Echo-jeugontwikkeling (’n organisasie sonder winsoogmerk met onder meer 13 huise vir jong mense in nood). Hy is as predikant deeltyds tot die Villieria-gemeente in Pretoria verbind.

In sy hoofstuk “Leef lig” skryf hy onder meer: “Om vandag kerk te wees het jy minstens vyf of ses van die volgende dinge nodig: ’n kerkgebou of ouditorium, teologiese opleiding, ’n koster, belydenisskrifte, ’n kerkreg, ’n saakgelastigde, ’n jaarlikse ringsitting, ’n kalender, ’n Bybel, ’n webwerf, konsistorie, klankstelsel, pastorie, letterbord, sinodale kommissies, liturgiese handleidings, dataprojektor, ’n klomp geld, orkes, beligting, kontrakte, allerhande komitees, ’n preekstoel, ’n toring met ’n hoender op . . .”

Dit veroorsaak dikwels dat die kerk dan te groot word “om in die donker krake van ’n stukkende samelewing in te pas” en besig is met ander vrae eerder as om hom met ’n stukkende wêreld te bemoei.

Jesus vir almal: die gay-gesprek in die kerk
Beskikbaar by Lux Verbi
Beskikbaar by Lux Verbi

Deur Neels Jackson (R210)

Neels Jackson skryf dat hy in die drie dekades wat hy hom hoofsaaklik op kerk­sake toegespits het, die geleentheid gehad het om met talle gay mense te gesels.

“Ek kon hul lewensverhale hoor en ek kon hul geloofsworstelings hoor. Nêrens anders in die kerk het ek soveel pyn gesien en gehoor soos in die verhale van gay mense in die kerk nie.”

Neels Jackson. Foto verskaf
Neels Jackson. Foto verskaf

Hy sê die NG Kerk waarvan hy en sy gesin lidmate is, is verdeeld, “dalk dieper verdeeld as ooit tevore. En dit oor gay verhoudings.”

Neels wil met sy boek ’n bydrae lewer om van die kerk ’n vriendeliker plek vir gay gelowiges te maak. Hy bespreek onder meer die Bybelverse wat steeds aangehaal word deur mense wat dink dis sonde om gay te wees.

Hy plaas byvoorbeeld Romeine 1 vers 26-27 in die konteks van ’n groter argument van Paulus en kom tot dié gevolgtrekking: “Ek kon nie meer verstaan hoe mense hierdie teks kan gebruik om liefdevolle gay verhoudings te veroordeel nie.”

Soldaat
Beskikbaar by Lux Verbi
Beskikbaar by Lux Verbi

Deur Reynardt Hugo (R220)

“Dit het alles met ’n angsaanval begin. ’n Baie ernstige angsaanval.

“Ek het die vorige aand saam met vriende in Pretoria gekuier. Ek was dronk. Baie dronk. Ek kan die begin van die aand onthou, maar die res het uit my geheue vervaag. Ek weet ons het tot in die vroeë oggendure gekuier en ek het uiteindelik op my vriend se bank uitgepass.

Reynardt Hugo. Foto: Verskaf
Reynardt Hugo. Foto: Verskaf

“Ek moes die volgende oggend opstaan, want ek het my jongste stiefbroer belowe ek sal sy eerste atletiekbyeenkoms by die hoërskool bywoon.”

Reynardt Hugo, oftewel die geliefde dokter Tertius Jonker van Binnelanders en voormalige lid van die popgroep Adam, se pad het vir ’n paar jaar geloop soos dit dikwels met jong akteurs gebeur wanneer roem na hul kop gaan. Dit klink amper soos ’n cliché – dagga, drank, seks – maar dit is die dinge waaraan Reynardt hom vergryp het voor hy op sy knieë gedwing is.

Hy skryf baie eerlik oor die pad wat hy geloop het, en hoe dit begin het omdat hy moeg was om voor te gee hy is “soet”.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

“Drank was ’n uitkoms, maar drank het my lewe oorgeneem. Drank is verwoestend. Daar het nog nooit iets goeds gekom van te veel drank nie. Dit verwoes verhoudings. Dit verwoes huwelike. Dit verwoes lewens.”

Oor sy inkeer: “Dit is nou langer as vier jaar dat ek my hart vir die Here gegee het en ek leer nog elke dag hoe om as sy soldaat te leef.”