Vir ’n lang oomblik staar die tienermeisie stilswyend na die klein silwerkleurige vliegtuig voor haar. Haar gedagtes sweef duidelik êrens ver van hier, hoog bo die uitgestrekte vasteland van Afrika.

Dan is Megan Werner (19) eensklaps weer terug in die hede hier langs die aanloopbaan van die Lanseria-lughawe, noord van Johannesburg.

“Ek kry elke keer hoendervleis wanneer ek die vliegtuig sien,” vertel sy half verskonend.

"Dit was een van die grootste oomblikke in my lewe.”

Dis nou al amper twee jaar sedert sy en vier jong mede-vlieëniers van Kaapstad na Kaïro in Egipte gevlieg het met die klein Sling 4-vliegtuig wat hulle self aanmekaargesit het.

’n Ongelooflike vlug van 24 000 km ver, oor agt lande, in 31 dae. 

Afgesien van 'n moeilike twee jaar waarin Megan We
Afgesien van 'n moeilike twee jaar waarin Megan Werner 'n groot verlies moes verwerk, is die jong vrou steeds hoopvol en bly dit haar droom om kommersieel te vlieg. Foto: Papi Morake

“Mense het gesê ons gaan dit nie regkry nie, maar ons het hulle verkeerd bewys,” voeg sy by, maar word dan weer stil. Want haar vlieënier-pa, wat elke kilometer van die groot avontuur in ’n tweede vliegtuig meegemaak het om haar te ondersteun, is nie vandag hier om haar herinnerings te deel nie. 

Des Werner (49) en sy medevlieënier, Werner Froneman, is op hul terugvlug van Kaïro in die tweede vliegtuig dood toe hulle oor Tanzanië neergestort het.

“Ek  mis hom elke dag, maar ek het geleer om met die hartseer saam te leef,” vertel sy nou.

Maar al is haar pa dood net toe sy haar droom bewaarheid het, het sy nie toegelaat dat die hartseer óf die afgelope jaar se inperking haar vlerke knip nie.

Megan se pogings om genoeg vliegure te kry om soos haar pa ’n kommersiële vlieënier te word, is nou wel tydelik deur die pandemie ontspoor, maar sy het pas ’n boek, As jy droom, oor hul groot Afrika-lugavontuur geskryf in samewerking met die TV-nuusleser Daniëlla van Heerden.

“Ek weet my pa sou besonder trots gewees het op my. Hy sou my ’n high five gegee het as hy die boek gesien het. Hy was mal daaroor om vir my high fives te gee wanneer ek iets bereik het.”

Die boek is vir haar meer as ’n ware avontuurverhaal. Dis ook ’n intieme huldeblyk aan haar pa, en ’n voortsetting van die U-Dream Global-projek wat hulle saam begin het.

Allow your passion to become your purpose, and it will one day become your profession ??????‍???? ??: @...

Posted by U Dream Global on Sunday, 20 September 2020

“Ek en my pa wou met dié projek jong mense help om groot te droom, hul doelwitte na te jaag, en daardeur kennis en vaardighede te kry.”

Die eerste skof van hul gesamentlike droom was die bou van die vliegtuig, waarby ’n uiteenlopende groep van 20 tieners betrokke was, en die vlug daarmee na Kaïro.

Met die boek wil Megan nou hul gesamentlike projek lewend hou, al pak sy hierdie skof dan nou sonder haar pa aan.

“Dit moet vir ander ’n voorbeeld wees dat jy enigiets kan bereik as jy hard werk en in jouself glo. Daar gaan struikelblokke wees, maar as jy hard werk, sal jy jou doel bereik. Jy gaan lê nie, jy staan op en baklei.” 

Die boek is deels ook ’n liefdesverhaal, vertel Megan.

“Ek het verlief geraak op een van my medevlieëniers, en daar is ’n lekker gedeelte in die boek waar daar spanning is tussen die twee wanneer ons mekaar wil soen, maar dit gebeur net nie . . .”

Die “romantiese held” is Driaan van den Heever, wat die stuurkajuit van die Sling-4 met haar gedeel het tydens die lang dae in die lug. Ver bo Afrika met sy natuurlike wonders het ’n verhouding tussen hulle ontwikkel. Maar intussen het hul paadjies weer geskei, vertel Megan sonder om daaroor uit te brei.

Daar is die afgelope maande ’n nuwe man in haar lewe: Travis Misdorp (22), ’n lewensredder van Durban. Sy het onlangs Durban toe getrek om by hom te wees, maar kuier tans in Johannesburg by haar ma, Belinda, terwyl sy haar boek bemark.

Megan se ousus, Cindy (23), woon en werk in Krugersdorp. 

Megan sê een van die hooftemas in haar boek is selfliefde.

“Alles begin by jou. Jy moet liefde vir jouself hê om liefde vir ander te hê. In die tyd toe ek my pa verloor het, het ek baie gesukkel om myself lief te hê. Dit was ook in daardie tyd dat ek ’n liefdesteleurstelling gehad het. Maar ek het opgestaan en my kop hoog gehou.” 

En natuurlik het sy die boek aan haar pa opgedra.

“Dit bevat my laaste mooi herinnerings saam met my pa.” 

Megan saam met haar pa, Des. Des het twee jaar gel
Megan saam met haar pa, Des. Des het twee jaar gelede met hul vliegterugkeer van Kairo in Tanzanië verongeluk. Foto: Verskaf

Ná hul aankoms in Kaïro het die tieners die Sling-4 vir eers daar gelaat en is hulle met ’n kommersiële vlug na Malawi om ’n bietjie daar te gaan uitspan. Haar pa-hulle sou met die ondersteuningsvliegtuig agterna vlieg. Maar die dag voor sy dood het hy laat weet die vliegtuig ervaar oliedrukprobleme en hy gaan in Uganda land om aandag te gee daaraan.

Hulle sou ook daar oornag. Daardie aand het pa en dogter op WhatsApp gesels. “Love you, daddy, be safe,” was haar afskeidswoorde. Dit was hul laaste gesprek voor sy dood. 

“Dit is vir my belangrik dat lesers van die boek besef jy moet die mense in jou lewe waardeer, want jy weet nie hoe lank hulle nog met jou gaan wees nie,” sê sy. 

“Dit is steeds vir my ’n groot proses om met my pa se dood saam te leef. Ek het dit nog nie heeltemal verwerk nie. Ek leer nog om deur die pyn te werk."

Die leemte in haar ma, Belinda, se lewe is ook groot.

“Die hartseer word minder soos die tyd aanstap, maar die verlange gaan nooit weg nie,” sê Belinda. “Ek weet net hy sou baie trots gewees het op sy twee dogters.”

Megan se groot droom is om soos haar pa ’n kommersiële vlieënier te word.

“Ek is die naaste aan hom as ek in ’n vliegtuig hoog bo die wolke sweef,” verduidelik sy. 

Sy spits haar voltyds daarop toe om haar droom te verwesenlik, maar die strenger vlakke van die inperking het haar tydelik op die grond gehou. 

Megan het saam met die joernalis Daniëlla van Heer
Megan het saam met die joernalis Daniëlla van Heerden 'n jeugboek geskryf. Sy wil ander met die boek inspireer. Foto: Papi Morake

“Dit was vir my erg om nie te kon vlieg nie. Dit het veroorsaak dat ek vir ’n hele paar maande glad nie in die lug kon kom om my ure te doen nie. Met die oorgang na vlak drie het dit makliker gegaan; ek kon weer begin vlieg.” 

Sy het reeds 50 van die 100 vliegure wat vereis word vir haar opgradering van ’n privaat vlieglisensie na ’n kommersiële lisensie. Sy het ook al ses van die 10 teoretiese vakke suksesvol voltooi. 

Hoewel sy deesdae in Durban woon, is Lanseria die Slinger-4 se permanente tuiste.

“Ek jeuk om dit te vlieg,” sê sy eensklaps, en bied aan om Huisgenoot se span die lug in te neem.

Sy begin bel vir ’n radio-kopstuk wat sy kan leen sodat sy met die beheertoring kan kommunikeer, maar helaas is geen van haar vlieëniersvriende op die lughaweperseel nie.

“Ek kan nie vir te lank stil sit en nie in die stuurkajuit wees nie,” verduidelik sy met ’n laggie.

“Ek kan nie dink om iets anders met my lewe te doen nie.” En elke keer is dit asof haar pa langs haar in die stuurkajuit is.

“Ons het altyd voor skool gaan vlieg. Net ek en my pa. Dan sien jy hoe die son oor die horison opkom. Dit was baie spesiaal. Hy het my geleer om my drome na te jaag en hy sou wou hê ek moet doen wat my gelukkig maak. Ek weet hy glimlag daar van bo af vir my.”

Beskikbaar by panmacmillan.co.za
Beskikbaar by panmacmillan.co.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe