'Ons kinders is bendes se kanonvoer'

“Waarvoor maak ons ons kinders groot? Om een van die dae vermoor te word? Almal in Hanover Park ken iemand wie se kind geskiet is.”

*Sheilo Matthews sit oorkant my in die kafeteria in Media24 se gebou in Kaapstad. Sy is ’n skoonmaker. Groot ligte geelbruin oë vol vrae. Haar blou kopdoek styf vasgebind – nommerpas by haar kreukelvrye uniform aan haar slanke figuur.

Die wêreld gaan staan nie stil omdat jou kind deur bendelede vermoor is nie. Die aarde draai steeds om sy as.

Haar geliefde seun, Robin, is skaars twee maande tevore op 18 Junie 2019 deur bendelede doodgeskiet. Sommer net so. Sonder enige rede. Terwyl hy onskuldig op pad kafee toe was om krag te gaan koop.

Hulle het hom geskiet net omdat hulle kon en net omdat hulle wou. Sheilo is een van talle gebroke moeders wat weer die stukke van haar lewe na die sinnelose bendegeweld op die Kaapse Vlakte moes optel.

Net eenvoudig moes voortgaan, so asof haar kinders nie daagliks in lewensgevaar leef nie. Want die wêreld gaan staan nie stil omdat jou kind deur bendelede vermoor is nie. Die aarde draai steeds om sy as.

Die getye kom en gaan steeds. En sy moet steeds daagliks daardie trein in een van die Kaap se gewelddadigste woonbuurte stad toe haal om kantore te gaan skoonmaak.

En dis iets wat sy binne ’n week na haar seun se dood gedoen het, vertel Kristin Paremoer, my uitgewer by NB-Uitgewers, verwonderd. Sheilo het ingestem om met my te gesels as Kristin met haar rustige teenwoordigheid by is.

Waar ons loop is die plek waar die gangsters my kind doodgeskiet het. Vandat die gangsters my kind doodgeskiet het, het ek nie meer getrust om te loop nie.

Sy vertrou vir Kristin by wie sy al soveel kere haar hart uitgestort het as die hartseer soos ’n klip op haar bors kom lê.

Sheilo is op Knysna gebore maar sy was ’n baba toe sy saam met haar gesin Kaap toe verhuis het. Sy het as kind in Bonteheuwel en Heideveld gewoon. Later is sy Hanover Park toe.

Sy werk al die afgelope vyf jaar by Media24.

“Die mense is vriendelik en ek werk lekker hier maar ek moet elke dag met die trein inkom stad toe. Die treine is orraait maar nadat hulle my seun doodgeskiet het, wou ek nie meer na die trein toe loop nie. Waar ons loop is die plek waar die gangsters my kind doodgeskiet het. Vandat die gangsters my kind doodgeskiet het, het ek nie meer getrust om te loop nie.”

Sheilo kom buitengewoon kalm voor as sy ’n netjiese stapel koerantuitknipsels aan my oorhandig waarin verslag oor die moord op haar seun gedoen is. Maar haar vriendelike amper-glimlag verdoesel dalk net die storm in haar hart.

Robin, die middelkind, was ’n stemmige seun vir wie mens met alles kon trust. Hy was ook reguit en het altyd gesê hoe hy oor iets gevoel het.

Foto’s van ’n jong man met ’n innemende glimlag en ’n oop gesig kyk van die koerantblaaie af na jou terug. Hy is sy ma se ewebeeld. ’n Mooie kind.

Sy het drie kinders, vertel Sheilo rustig. Die oudste een, Michael, is 30, Robin was 21, maar hy sou die Dinsdag na ons onderhoud 22 geword het, en die jongste enetjie Larna, is maar agt jaar oud. Ja, die kinders is ver uitmekaar gebore, kopknik sy.

“Eintlik wou ek na my oudste kind se geboorte nie meer kinders hê nie,” vertel sy reguit. Want trou wou sy nie trou nie.

“Robin, die middelkind, was ’n stemmige seun vir wie mens met alles kon trust. Hy was ook reguit en het altyd gesê hoe hy oor iets gevoel het. Hy was ’n open person. Baie mense het nie daarvan gehou nie.

Daar is iets tussen trots en verlange in haar stem as sy vertel: “Hy het nog my plek gepaint ook.”

“Hy het by my gebly, nes die ander twee. Ag, hy was ’n lieflike kind.” Haar gedagtes is vol herinneringe.

“Hy het af en toe by ’n winkel met antieke meubels gewerk. Hulle het hom maar altyd laat weet wanneer hy vir hulle moes kom werk het. Dan het hy die meubels afgeskaaf. Hy was goed met sy hande.”

Daar is iets tussen trots en verlange in haar stem as sy vertel: “Hy het nog my plek gepaint ook.”

Mens wonder of dit dalk ’n ma se instink was wanneer sy vertel: “Met die skietery van onse jong kinders het ek vir hom gesê hy moet maar liewers ’n rukkie by sy ouma (my ma) in Heideveld gaan bly. Dis baie veiliger daar as in Hanover Park.

“Hy het toe ’n rukkie by sy ouma gaan woon maar toe kom hy terug. Die girlfriend was pregnant. Jy weet mos hoe dit is.”

Dan praat sy oor daardie onheilsdag.

DAARDIE DAG

Haar helder kykers vertroebel as sy oor dáárdie dag praat dat haar seun van haar af weggeruk is. Sy lewe so gewetenloos gesteel is. En hare in ’n oogwink verander het.

“My oudste seun het gewerk. Robin was by die huis. Ek het altyd aanhoudend gebid, ‘Here, wees asseblief saam met hom. Loop waar hy gaan.’ Ek weet hoe dit in Hanover Park is. Die kinders is nêrens safe nie.

Because hy het niemand gepla nie. Hoekom moes hulle hóm doodmaak?

“Hy het elke keer vir my gesê, ‘Mommy, I don’t feel like running anymore. I am not a gangster. Why must I run?’

Maar in hierdie jaar het hy ook vir my gesê: ‘Mommy, you better put us in a burial.’”

“En,” vertel Sheilo moedig verder, “dieselfde dag dat hy oorlede is, sê hy nog vir sy vriende: ‘Die Here gaan my nie wegneem voordat hy nie al my sondes vergewe het nie.’”

Haar gesig word strak. “En net daarna skiet hulle hom dood.”

“En ek sê vir jou as ek op daardie oomblik daar was sou ek agter die gangsters aan gehardloop het. Because hy het niemand gepla nie. Hoekom moes hulle hóm doodmaak?

“My kind het daardie dag winkel toe geloop om te gaan krag koop. Sy pa het hom gestuur.”

Hy is mos ’n kind en hy gaan mos nie vir sy pa sê ‘Dadda I can’t go out because they are going to shoot’ nie.

Sy gaan sonder aarseling voort.

“Hy het nog nie even by die winkel uitgekom nie toe ’n meisietjie hom en sy vriende wat saam met hom geloop het, waarsku dat daar ’n skietery gaan wees.

“Maar,” vertel sy vol begrip, “hy is mos ’n kind en hy gaan mos nie vir sy pa sê, ‘Dadda I can’t go out because they are going to shoot’ nie.”

Wat daarna gevolg het, is dit wat aan haar kind heldestatus besorg het.

“Toe stoot hy sy twee vriende uit die pad uit en hý vat die bullet.”

Haar kind het die hoogste offer aan sy vriende gebring.

Selfs as sy van die moord op haar seun praat, bly Sheilo se stem kalm. Gelykmatig.

“So sy vriend sou eintlik vandag ‘uit’ gewees het en nie hy nie. Sy girlfriend het nog vir die vriend gesê ‘Ryan, Robin het jou lewe gesave.’

“Maar hoekom,” vra sy verslae, “kon hy nie vir sý part (haar kind s’n) getuig nie?”

Daai gangsters sort ’n ding vinnig uit. Hulle is net ’n pad van ons af en dan is daar ’n ander gang drie patte van ons af.


Sheilo vertel verder: “Die vriend sou ’n witness gewees het maar toe is hy te bang om te getuig. Hy het vir die polisie gesê wie dit is, ensovoorts, maar toe hulle hom nou die dag kom haal, toe kruip hy weg want aan die einde van die dag kom die gangsters vir hom.

“Ja, elke keer hol hy net weg. Nou loop my kind se moordenaar vry.”

Ontnugter

Maar dan besef sy, “Daai gangsters sort ’n ding vinnig uit. Hulle is net ’n pad van ons af en dan is daar ’n ander gang drie patte van ons af. Hulle is seker bang hy split op hulle.”

Dink sy haar kind kon ’n voorgevoel gehad het?

“Ek dink hy hét ’n voorgevoel gehad want ek kry mos somtyds waarskuwingsdrome. Ek het bietjie van ’n sesde sintuig.”

Haar stem is die ene erns. Sy het hom van hierdie drome vertel. Sy sou vir hom sê: “Remember I had a dream.You had the same clothes on that you’ve got on now.”

Dan noem sy net dat hy inkom en dat sy die deur sluit en hom waarsku. Nes in haar drome. Net so, benadruk sy.

“Dit het my aan die einde van die dag baie uitgeput want my drome kom waar.”

Jonk soos wat hy was, het Robin swaar tye beleef.

“Hy was al twee keer in ’n accident. Die een keer was hy 19. Ek het vir hom geloop en soek. Toe lê hy in die Groote Schuur-hospitaal met ’n gebreekte collarbone. Hy het ook ’n kopbesering opgedoen.

Sy meisie se broers het Robin gereeld aangerand. Enige tyd word sy kop geskop. Enige tyd van die dag maak hulle hom seer. Ek het so gehuil in my hart.

“Dit het gebeur toe hy van my ma-hulle op pad terug was. Dan loop jy mos van Heideveld af. Dis toe dat ’n gangster ’n ander gangster gewaar het. Robin het hulle opgemerk en toe hy die kar sien, spring hy uit die pad maar dis toe te laat en die kar tref hom.

“Hy het net twee dae lank in Groote Schuur gelê toe die dokter vir hom sê: ‘You must go for another operation.’ Maar die operasie is nooit uitgevoer nie want ’n ander spesialis het gesê die been sal weer aangroei.”

Sy liefdeslewe was ook nie ’n droom nie.

“Sy meisie se broers het Robin gereeld aangerand. Enige tyd word sy kop geskop. Enige tyd van die dag maak hulle hom seer. Ek het so gehuil in my hart. Robin het later gesê: ‘I am sick and tired of this.’

“Toe hy eendag van die werk af kom was hy weer dik deur die ander geslaat. Hulle is knorrige mense. Hulle vat advantage van hom. Hy is nie ’n bakleierige mens nie.

“Hy het gely en ek dink die Here het dit gesien. Die Here het hom sy lyding aangetrek. Dis seker ook hoekom hy weg  is. Dit was seker ook maar net die beste want hy het te veel seergekry.”

* Name van mense en bendes is verander om veiligheidsredes.

Carla van der Spuy se nuutste boek, Gangster.
Carla van der Spuy se nuutste boek, Gangster.
  • ’n Uittreksel uit Gangster deur Carla van der Spuy. Gangster is beskikbaar by NB Uitgewers (R265).
Meer oor Carla van der Spuy

Carla is ’n vryskutjoernalis wat reeds verskeie niefiksie boeke die lig laat sien het, waaronder:

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe