Die kleinste ramp denkbaar
Francois Smith. Foto: Mlungisi Louw
Francois Smith. Foto: Mlungisi Louw

Deur Francois Smith (Tafelberg, R269*)

Dr. Gustav van Aardt is in sy middel 50’s toe hy besluit om ná 27 jaar die dorp te verlaat waar hy groot­geword het. Die plan is om sy praktyk te verkoop en te kyk of hy in die buiteland kan werk kry as ’n locum.

So begin Die kleinste ramp denkbaar en loop dan terug na die Vrydag, Saterdag en Sondag wat veroorsaak het dat hy die Vrystaatse stof van sy voete wou skud.

Francois Smith, wat in 2014 met Kamphoer gedebuteer het, beantwoord ons vrae.

Waar kom hierdie verhaal vandaan?

Ek wou iets skryf oor die ontdekking van ’n diepverborge geheim van die lewe in hierdie land. Wat is hierdie geheim en hoe kom ’n mens daarby uit?

Ek het die kiemsel van die storie gekry in ’n besoek van my ’n jaar of 10 gelede aan ’n eksentrieke plattelandse dokter, ’n man met ’n belangstelling in die teologie en die filosofie – een wat dus baie maklik besorg sou kon raak oor die geheim van ’n bestaan wat in die teken staan van vernietiging en ondergang.

Die verhaal speel af op ’n Vrydag, Saterdag en Sondag. Is dit makliker vir ’n skrywer as hy volgens so ’n struktuur skryf?

Hierdie struktuur het met die skryf gekom; ek het dit nie vooraf bedink en die verhaal daarin probeer pas nie. Die logika daarvan het algaande duideliker geword, die openbaring wat in die bestek van drie dae voltrek word.

Leer jy jou skryfkunsstudente (aan die Universiteit van die Vrystaat) om hulself uit ’n storie te hou?

Nee, allermins! Wat eerder ’n beginsel is, is dat studente volledig deel van hul storie moet word in die sin dat jy jou heeltemal in jou karakters se skoene moet kan plaas en deur die karakter se oë moet kan kyk. Jy moet dus eerder baie goed weet hoe jy kyk en hoe jou karakter kyk en bewus wees van die verskille.

Hoeveel van jou is in dr. van Aardt?

’n Ruk lank wás ek Van Aardt. Ek moes hy word, hom voor my sien, sy stem hoor. Natuurlik is daar voortdurend my eie ervarings en fantasieë wat meepraat, en die uitdaging is om jou innig genoeg en lank genoeg in ’n bepaalde fiktiewe toneel te plaas sodat jy heeltemal Van Aardt word. Niks van wat Van Aardt in daardie drie dae beleef het, het ooit self met my gebeur nie, maar die problematiek kom natuurlik van my eie ervarings en vrae en bemoeienisse.

Aan watter karakter het jy die graagste geskryf?

Dis ’n moeilike ene! Alles en almal word so volledig vanuit Van Aardt se perspektief gesien, en watse fantasiebenewelde perspektief is dit nie! Ek dink die Kubaanse dokter was nogal vir my ’n lekker kennismaking omdat ek glad nie so iemand ken nie. Die laaste Kubaan wat ek teëgekom het, was in die fotoboekie Grensvegter.  

Dink jy jou boek praat 13 jaar later met Eben Venter se Horrelpoot, veral vanweë die Vrystaatse konneksie en die verval?

Ek het met die skryf daarvan nooit spesifiek aan Horrelpoot gedink nie, maar ek kan die verband goed insien, veral daardie laaste byna eindelose reis na die plaashek toe.

Ek lees ook dat mense die spore van Thomas Mann se Die dood in Venesië hierin sien, met die teenwoordigheid van Mahler daarin en die hoofkarakter se bewussyn wat reik na ’n sinlike, haas dekadente skans teen die dood. Maar niks hiervan het ek bedink nie, en ek raai maar dat al hierdie werke deel is van die groot kollektiewe onbewuste waaruit alle stories kom.

Drie dinge wat Francois in 2020 verstom het
  • Dat daar lank drie 5 L-bottels pynappelbier in my kombuis gestaan het.
  • Dat ook mans ’n warmwatersak nodig het.
  • Dat staatskapers nie masker dra nie.

’n Uittreksel uit Die kleinste ramp denkbaar

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Van Aardt en Teise kry die vet polisieman regop. “So, Thys, jou arm van voor af onder sy oksel in.” So dra-sleep hulle die stomende sak vleis rugkant eerste weg van die bank af. Die man is f*n swaar. Sal hulle dit maak tot op die ondersoekbed?
Luna maak die deur voor hulle oop. Sy skuif een van die stoele voor sy lessenaar effens uit die pad uit sodat hulle die wye boog kan maak om die polisieman se agterstewe op die bed te kry.

Van Aardt druk hom agteroor sodat hy lê; Teise lig sy bene op die bed. Hulle staan tru, die borskaste deinend van die inspanning. ’n Ruk staan hulle so en staar na die donker logge lyf op die doktersbed, dan dam Van Aardt die pa­siënt se regter­skoen by, beduie vir Teise na die ander ene.

“Ons moet hom uit sy klere kry, die temperatuur afbring.” Hy begin aan die stewels se veters woel.

Thys pluk die ander stewel uit en daarmee saam kom die kakiekleurige kous halfpad af sodat dit soos ’n pap penis oor die tone druip.

“Die kous ook, Thys, alles, ons moet gou spring, anders kry hierdie perd brein­skade.”

Hy wikkel die stewel af, probeer om nie die droëperskestank van voete in te asem nie, pluk die deurweekte sokkie af. Hy skakel die hoë staanwaaier aan en verstel die kop sodat die lugstroom vol op die bed gerig is. Hy begin die belt losmaak, ’n dun ene van blinkbruin kunsleer, net-net lank genoeg.

Die ou moes onlangs so dik geword het – hy het sweerlik nie die belt so kort gekoop nie. Die broek se knip kan skaars hou teen die buik se drukking en om dit los te kry, moet hy sy hand indruk teen die warm, peulende deeg van die maagvel. Knip los, gulp oop, nou moet hulle hierdie broek van onder uittrek, elkeen aan ’n pyp.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.