Karaktermoord 

Deur Carina Diedericks-Hugo (Penguin, R230)

DINK JY AL DIE JEUGBOEKE WAT JY GESKRYF HET, HET JOU DIE BEDREWE SKRYWER GEMAAK WAT JY NOU IS MET KARAKTERMOORD?

Ek weet nie of ek al ’n bedrewe skrywer is nie. Dit het beslis gehelp. 

Enige boek (en ook die boekproses) is ’n goeie leerskool. 

Jy leer skryf, en dit beteken lang ure met net jou skootrekenaar as geselskap. Tot die verhaal vorm kry en jou karakters se persoonlikhede sterker en sterker word. 

Maar dis eensaam; jy sit nie langs ’n kaggelvuur met ’n glas rooiwyn en kry daardie gloeilamp­oomblikke nie. 

“Inspirasie” bestaan nie. Dis harde werk van skryf en skryf en dan veral oorskryf en oorskryf. 

By elke redakteur het ek meer en meer geleer van storiestrukture, dialoog, karakterisering en hoe om kritiek nie persoonlik op te neem nie.

JY NEEM NOU DIE KROON AF BY WILNA ADRIAANSE WAT IN DUBBELSPEL VOLGENS MY VAN DIE PRIKKELENDSTE SENSUELE TONELE IN ONLANGSE AFRIKAANS GESKRYF HET. MET DIE TONEEL TUSSEN DAWID EN ANNA IN DIE DRUIWEKUIP WORD JY NOU DIE KONINGIN VAN (PUBLISEERBARE) EROTIKA. EN DÍT BOONOP IN NET NEGE REËLS.

Ek bloos nou kwaai. Ek dink die verhaal het dit vereis. 

En Anna se persoonlikheid en hoe sy haar minnaars paljas, sou nie sin gemaak het as sy hulle nie seksueel uitgedaag het nie. 

Ek was onseker of ek dit moet doen en of dit gaan werk, maar het diep asemgehaal en ingespring. 

Ek het glo al ’n hele klomp mense tot in hul sokkies geskok, maar dit is die risiko wat ’n mens loop om grense te probeer verskuif.

EEN VAN DIE ONBELANGRIKSTE KARAKTERS IN JOU BOEK IS EEN VAN MY GUNSTELINGE. VERTEL ’N BIETJIE MEER VAN POP.

Ons het almal al ’n Pop in ons lewe gehad, meermale ’n sekretaresse of haarkapster of die tannie in die kantoor by die skool. 

Sy neig maar ’n bietjie na die kommin kant, maar het ’n hart van goud. 

Sy bestee baie aandag en tyd aan haar voorkoms: Die grimering is swaar en die jeans styf (wat sy maar kan dra, want sy bring baie tyd in die gim deur). 

Ek het haar ingebring omdat ek graag vir haar kêrel, speurder Stefaans, ’n ste­wige basis wou gee wat hom ’n lewe buite sy misdaadsake kan bied. 

Ek wou nie die stereotiepe platgeslane polisiemankarakter met die drankprobleem herhaal nie. 

Dit was eintlik ’n voorstel van een van die keurders van die boek. En dit is hoekom ’n mens fyn moet luister wanneer keurders en redakteurs raad gee.

IS DAAR ENIGE VAN JOU TAAMLIK BOOSAARDIGE KARAKTERS MET WIE JY MEER EMPATIE HET AS MET VAN DIE ANDER KARAKTERS?

Ek is eintlik vrek bang vir die hele spul. Hulle het eintlik amper almal ’n verskriklike geskiedenis wat hulle gevorm het tot die bose mense wat hulle is. Daarmee het ek empatie. 

Met karakters soos Anna se domineepa en die wynmaker Dawid het ek wel nie. 

Ek dink dis omdat ek voel hulle het ’n bose kringloop begin en dat die mense naaste aan hulle gaan ly. 

Wie is Anna?

Anna, die beeldskone digteres (weliswaar dood vir die grootste deel van die boek), is die middelpunt van verskeie mans se lewe. 

Elkeen van hulle het rede tot kommer toe dit bekend word sy gaan haar dagboeke vir publikasie aan ’n tydskrif gee.

Anna deur die oë van speurder Stefaans

“Anna is mooi op ’n gevaarlike manier. Hare swarter as ’n Karoonag, amandelvormige blou oë wat selfs van die foto af regdeur jou kyk. Hy kan nie besluit of dit die hartseerste of kranksinnigste paar oë is wat hy al gesien het nie. Miskien albei. Sy glimlag breed, maar dit strek nie tot by haar oë nie. Tog is dit hipnoties, al weet jy baie goed jy gaan jou gat sien nadat jy haar gevry het. Hy kan sien hoekom sy mense so mal maak. Mans én vroue. Mans wil haar hê. Vroue wil soos sy wees. Oudste storie in die boek. Jy wil eintlik net jou kop skud en wegstap, want dit spel moeilikheid met ’n hoofletter M en as dit nie jou sirkus is nie, is dit nie jou sirkus nie.” 

Maar dis wel Stefaans se sir­kus. Onder andere syne.

Die uitgewer Malan Sinclair se 16 jaar van waansin

“Anna het sy hele lewe oorheers. Meer as enigiets was dit die seks. Sy het haarself met soveel oorgawe aan hom gegee, net om ná die tyd belangeloos weg te draai om in haar dagboek te begin skryf. Obsessief in haar dagboek te skryf.”

Vier dinge oor Carina

Wat weet mense nie van jou nie? 

“Ek was 10 jaar oud toe ek ’n roomyseetkompetisie in Umhlanga gewen het. Ek het hoërskoolkinders uitgestof. Dis hoe lief ek vir roomys is.”

Jou geliefkoosde skrywer?

“Die lys is lank. Stella Blakemore is hoog op die lys, saam met onder andere André P. Brink, Jonas Jonasson, Ian Rankin, Czeslaw Milosz, Wislawa Szymborska, J.K. Rowling, Marita van der Vyver en Etienne van Heerden.” 

Geliefste wyn

“Ek is absoluut mal oor vonkelwyn, verkieslik Le Lude of Silverthorn. Dis hoekom my bynaam Borrelflerrie is.”

Een teleurstelling wat jy beleef het 

“O, daar was al baie. Grotes en kleineres. Dié wat in jou kop vashaak en dié wat jy genadiglik al vergeet het. Dit wissel, van my egskeiding tot die feit dat ek op skool onderhoofmeisie en nie hoofmeisie was nie.”