Pret met wiskunde: Graad 1
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Mart Meij en die Best Books-paneel, R94*

Dié praktiese werkboek is volgens die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring-vereistes saamgestel en bied 33 oefenbladsye, 55 werkvelle en ’n volkleurspeletjie vir elke kwartaal.

Oefenbladsy 28 lyk byvoorbeeld so: Die buitelyne van die syfer 16 word gegee wat die kind moet natrek.

Dan volg ’n ry met agt kleiner 16’s wat die kind ook moet natrek. Dan kom vier somme in blokkies met getalle wat weggelaat is en die kind moet neer­skryf wat kort om by die antwoord uit te kom.
Hierna word ’n getallelyn gegee wat die kind moet gebruik om nog 12 somme uit te werk.

Op die teenoorgestelde blad is ’n inkleurprent waar die kind deur middel van berekenings net die visse mag vang wat swaarder as 10 kg weeg.

Voorin word aan onderwysers én ouers verduidelik hoe om die boek te gebruik.

Mart Meij skryf hier: “Die werkboek maak deel uit van die omvattende nuwe alles-in-een-wiskunde­program, wat ideaal geskik is vir tuisonderrig. Dit is ’n volledige program wat, afgesien van die werkboek, ook bestaan uit ’n onderwysersgids en ’n leerderboek.”

Ook beskikbaar in die reeks

Pret met wiskunde: Graad 2 en Pret met wiskunde: Graad 3. Die boeke is ook in Engels beskikbaar.

Ek kan tel
Beskikbaar by Human en Rousseau.
Beskikbaar by Human en Rousseau.

Deur Eleonora Barsotti (Human & Rousseau), R65*

Die boek is geskik vir kinders van drie jaar en ouer en leer hulle gemaklik raak met syfers deur allerhande soek-en-vind-aktiwiteite.

So word een dubbelblad byvoorbeeld aan die see gewy. Die kind moet dan onder meer vyf krewe, drie roomyse, sewe seevoëls en vier pette soek. In die stad tel hulle ses fietse, drie verkeersligte, ses paar stewels in ’n winkel­venster, ensovoorts.

Op die laaste bladsy is prentjies soos ’n telraam gerangskik om visueel te wys hoe die getalle van een tot 15 lyk.

Ook beskikbaar in die reeks

My eerste 1 000 woorde.

Op pad werk toe!
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

(Human & Rousseau, R87*)

Mnr. Hond ry bousand in sy vragmotor aan, mev. Kat bestuur ’n sementtrok en mev. Kameel ry met haar straatveër. Hulle en ander het hulp nodig om hul voertuie in te kleur en te versier.

Hier is 100 plakkers om kinders van twee tot vier jaar se fyn motoriese vaardighede te help ontwikkel.

All of these things are important to me
Uitgegee deur die Goldilocks and the Bear-stigting
Uitgegee deur die Goldilocks and the Bear-stigting.

Storie: Refiloe Moahloli; illu­s­trasies: David Griessel; weten­skaplike inhoud: Renata Schoeman (uitgegee deur die Goldilocks and the Bear-stigting; bestel by www.gb4adhd.co.za/shop/; R100 sonder afleweringsgeld)

Minstens een uit 20 Suid-Afrikaanse kinders ly aan aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), skryf prof. Renata Schoeman.

“Baie kinders word nooit gediagnoseer nie, of as hulle wel gediagnoseer word, ontvang hulle nooit optimale behandeling en ondersteuning nie weens ’n gebrek aan bewustheid en kennis van AGHS.
“Dié kinders word dikwels stout, lui of dom genoem. Byna die helfte ervaar leerprobleme en ly aan ’n swak selfbeeld, angstigheid en depressie.”

Die storietjie word in vyf van die 11 amptelike landstale vertel en moet saam met die kind gelees word.

Dit gaan oor Lien wat nie haar alfabet ken nie en net “heeldag wil galop”. Die maatjies wil nie met haar speel nie, want sy is onbeskof en selfs mamma is vies vir haar, want sy speel met Boeta pleks van gereedmaak vir skool en nou is hulle laat.

Die uiteinde van die storie behoort jong AGHS-lyers te troos, maar die eintlike nut van die boekie lê in die waardevolle hulp wat aan ouers en onderwysers gebied word.

Twee van die nuttige wenke aan ouers is om groot take in kleineres op te breek en om die 1-2-3-metode deurgaans toe te pas. Hiervolgens tel jy 1, 2, 3 met tussenposes van 5 sekondes.

As jy by 3 kom voor die kind jou opdrag uitvoer, moet daar gevolge wees. Onderwysers moet onder meer seker maak dat hulle in die kind se oë kyk wanneer hulle met hulle praat en hulle alleen in ’n bank of voor in die klas laat sit.

Ek gaan kleuterskool toe
Beskikbaar by Lapa.
Beskikbaar by Lapa.

Illustrasies: Marian Cocklico (Lapa, R140)

Die oulike hardebandboekie het verskillende aktiwiteite wat die kind kan doen, byvoorbeeld ’n karretjie wat oor die bladsy getrek kan word en ’n wiel wat aan die kant van die bladsy draai waarmee die tekening op ’n skilderesel verander kan word.

In die storie word dinge aangeraak wat die kind in die kleuterskool gaan teëkom, en onderaan elke bladsy is raad vir die ouer. So word aanbeveel dat jy kinders help om maats te maak deur speelafsprake te reël.

Laat jou kind ’n troosspeelding saamneem skooltjie toe om te help met die ontsteltenis wanneer jy hulle daar los.

Maak jou kind paraat deur die boekie ’n paar keer vir hulle te lees voor die groot dag.

Ook in die reeks

Ons kry ’n baba en Klaar met doeke.

Ek maak reg vir skool 5+ jaar
Beskikbaar by Human en Rousseau.
Beskikbaar by Human en Rousseau.

(Human & Rousseau, R96*)

Meer as 290 plakkers is in hierdie kleurryke boek ingesluit waarmee die kind allerlei aktiwiteite kan voltooi.

Benewens plakkers soos blomme en harte is daar ook plakkers in al die basiese vorms wat die kind moet leer ken: sirkels, vierkante, driehoeke, ensovoorts.

Van die plakkers is klein, wat die kind sal help om fyner te leer vat en te fokus om dit binne die lyne geplak te kry.

Kleuruitkenning word versterk deurdat van die kind gevra word om ’n seerower, dinosourus of ander prentjies volgens die kleur van die buitelyne in te kleur.

Ook beskikbaar in die reeks

Ek maak reg vir kleuterskool 2+ jaar, Ek maak reg vir kleuterskool 3+ jaar en Ek maak reg vir kleuterskool 4+ jaar.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.