Maggie Laubser – ’n Venster Op Altyd Lig

Deur Muller Ballot

(Sun Press. Beskikbaar in Afrikaans en Engels. Bestel by mulbal@tiscali.co.za of 028-316-1703. R400 sonder koerierkoste.)

“Dit is met huiwering dat ek aan die versoek van die redakteur van die Huisgenoot voldoen om oor myself en my werk te skryf. Dit is nie maklik om oor iets te skryf wat so persoonlik is nie, en ek voel dat my skilderye reeds daar is om vir my te getuig.”

So skryf Maggie Laubser in die uitgawe van 18 Augustus 1939. Sy eindig haar artikel met ’n ligte klap na sommige kunskritici wat “nie in staat is om die publiek beter voorligting te gee nie.

“Min mense dink vir hulself, veral waar dit die skilderkuns betref. Hulle aanvaar liewer die opinie van die pers. Dis baie jammer. My raad aan almal wat geïnteresseerd is in die skilderkuns, is om baie en met liefde na die natuur te kyk. Die rykheid van kleur in die eenvoudigste en mees alledaagse dinge sal u gou opval.”

Maggie Laubser (rondom 1915-1917) as ’n student aan die Slade School of Fine Art in Londen.

Haar invalshoek was na aanleiding van verbasende vrae wat mense haar vra: Hoekom skilder sy eende (dit hoort in ’n kinderkamer), hoekom flaminkies (wat heeltemal onnatuurlik lyk), katte saam met blomme en Indiërvroue?

Haar antwoord op hierdie vier vrae was: “Dan sal ek altyd ’n kind wees. Omdat ek van eende hou, móét ek hulle skilder.” “Die kunstenaar kan alleen konsentreer op wat vir hom die skoonste aspek is. Wat is dan ‘natuurlik’ en wat nie?”

“Dit is nie die kat en die blom wat van betekenis is nie, maar die lyne en kleurkombinasies wat hulle verskaf.”

’n Selfportret (1920) waarin sy die invloede van Van Gogh en Cézanne haar eie maak.

“Die vryheid in die drag van die Indiërvroue en die pragtige kleure van die sari’s teen die blouswart hare is vir my ongelooflik mooi.”

Hier is sewe artikels waarin Maggie self aan die woord is, en tesame met die hoofstukke waarin die skilder se lewe van begin tot einde gedokumenteer word, kry jy ’n helder blik op haar ontwikkeling en die dinge wat haar beïnvloed het.

Die kunsgeskiedeniskenner prof. Muller Ballot het sewe jaar gewerk aan hierdie besonderse boek oor die ekspressionistiese skilder (1886-1973) wat die eerste vrou was wat die erepenning vir skilderkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het.

A Feast From Nature – Food Culture Of The First Humans On Planet Earth

Deur Renata Coetzee (African Sun Media, R650. Bestel by Sun-e-Shop.)

Vroeg in die boek is ’n foto van ’n Groot Pragkewer oftewel die Giant Bullet Beetle, en as jy verder wil gaan, Sternocera sp. Hy is egter nie hier omdat hy bewonder word nie, maar omdat hy geëet is – as ’n kosbare bron van proteïen.

Want die oorspronklike dieet van ons voormense was bitter eenvoudig: Vrugte, bessies, neute, insekte en kewers was so rou-rou genoeg om die maag van die mens versadig te maak.

“Die ‘kombuis’ was dus in die mond en die tande het die gereedskap verskaf om die kos te berei,” haal dr. Renata Coetzee die paleoantropoloog prof. Phillip Tobias aan. By hierdie eenvoudige eetwyse van die mens begin sy haar fassinerende boek oor die koskultuur van die eerste mense op ons planeet.

Ek sit op my boekrak ook met haar Spys en Drank oor die begin van die Afrikaanse kultuur wat al in 1977 verskyn het.

Die moerwortel. Sy wortels is gedroog, fyngestamp, met water en heuning gemeng en laat staan om te gis.

Dit is dus duidelik dat sy dekades lank al oor kos navorsing gedoen het, en in haar nuutste raak sy onder meer ook aan argeologie, paleontologie, botanie en genetika.

Ek was gelukkig om daar te wees toe die boek kort voor haar dood in 2018 op Stellenbosch bekendgestel is, en die teenwoordigheid van kosghoeroes soos Peter Veldsman was net nog ’n bewys van hoe hoog haar navorsing aangeslaan word.

Renata het onderhoude gevoer met vele bejaarde Khoi-Khoin-vroue en -mans oor hul kosbronne en -gebruike.

Van die vertellings word net so weergegee, byvoorbeeld oor die klipspringer vir middagete: “Kook, kook jy hom net soos enige wild. Wille knoffel, wille uie, pepertjie, soutjie. Stamp fyn met stampstok en goi daai sagteveltjie by. Kom vertel my weer waarlangs jy beter geëet het.”

Die koekemakranka. Die Khoi-Khoin-kinders het die blommetjies in die somer vir hul ma’s gepluk.

Dis nou as jy daai klipspringertjie aangekeer kon kry: “Weet jy hoe rapats is die bok se tjind as hy op die klipperse hol. Dit lyk enemal of hy dans. Tog te bekwaam. Vang sil ’n hond hom nie vang as hy op die klipperse is nie.”

Dis ’n kosbare geskiedenisboek met sowat 250 foto’s en meer as 80 illustrasies van eetbare inheemse plante sowel as kaarte en Khoi-tradisies.

Wat dié boek waardevoller maak as net ’n mooi koffietafelaanwins, is dat dit ingespan kan word – in ons tyd van voedselskaarste – om inheemse plante met voedings- en landboupotensiaal verder te ontwikkel vir die vervaardiging van kos.

Foto's: Verskaf