Nuwe Alles-In-Een Pret Met Spel

Saamgestel deur Mart Meij (Best Books, R86* elk)

Al drie boeke in hierdie reeks voldoen aan KABV-vereistes, verskaf werkvelle ter inskerping van dit wat geleer is en gee stap-vir-stap-riglyne vir die onderwyser of ouer oor hoe om die speletjies aan te bied.

Graad 1

  • Die boek bevat woord- en klankspeletjies en werkvelle.
  • Meer as 30 kaart-, bord- en bewegingspeletjies wat die voorgeskrewe klanke, sig- en spelwoorde op ’n prettige manier inoefen.
  • Ontwikkel groot motoriese vaardighede.
  • Gee in die besonder aandag aan die leer van die verskillende klanke en die lees en skryf van woorde wat dié klanke bevat. Die eerste 110 hoëfrekwensie-sigwoorde word geoefen.

Graad 2

  • Die eerste maklike spelreëls.
  • Altesaam 40 kaart-, bord- en bewegingspeletjies. SHersien eers die klanke van graad 1 met ’n aantal speletjies; daarna word die klanke vir graad 2 speel-speel ontdek.
  • Leer die eerste 200 hoëfrekwensie-sigwoorde en maklike spelreëls.

Graad 3

  • Ontdek spelreëls met prettige speletjies
  • Sowat 50 kaart-, bord- en bewegingspeletjies vir die voorgeskrewe klanke asook sig- en spelwoorde.
  • Hierin word die klanke en spelling van graad 1 en 2 eers hersien; daarna word lettergreepverdeling, meervoude, verkleinwoorde en spelreëls behandel wat vir graad 3 voorgeskryf is.
  • Die vlot herkenning en skryf van die voorgeskrewe 300 sigwoorde word geoefen.

Ek Maak Reg Vir Kleuterskool

Human & Rousseau, R95* elk

Hierdie aktiwiteitsboeke deur Ballon Media in België is ontwerp om kinders te help om die vaardighede wat hulle voor en in die kleuterskool leer verder te ontwikkel.

Die selfklewende plakkers kan maklik afgehaal word, en die vorm en grootte pas by die ouderdom van die kind.

Onderaan die bladsy word gewys watter plakkers op die wit vorms geplak moet word, en daar is ook groot prente wat ingekleur kan word.

  • 2+ jaar bevat meer as 140 plakkers.
  • 3+ jaar bevat meer as 150 plakkers.
  • 4+ jaar bevat meer as 260 plakkers.
  • 5+ jaar bevat meer as 290 plakkers.

Ek plak en speel

Ballon Media, R60* elk

In dié reeks is twee boeke vir tweejariges en twee vir driejariges. Elk bevat prettige aktiwiteite en 40 selfklewende plakkers.

Die wonderwêreld van my liggaam

Deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen (Lapa, R116*)

Jy dink jy’s ’n masjien vol spiere en bene, maar die waarheid is 60% van jou liggaam bestaan uit water. Iets wat wel baie gespierd is, is jou gesig, met 43 spiere. (En watter soort niere het ’n robot? Skarniere. Maar dis net ’n grappie – een van die vele in die boek.)

Hier is 48 bladsye met feite en aktiwiteite oor die mens se wonderlike liggaam.

Die kleurfoto’s en -illustrasies maak dat ’n mens alles baie makliker verstaan, byvoorbeeld dat jou bloed 55% uit plasma bestaan.

Die res is rooibloedselle en min – maar baie belangrike – witbloedselle en bloedplaatjies. Om dit in kleur geïllustreer te sien maak dit soveel makliker om te verstaan en te onthou.

Daar is 14 ander titels in die Hoezit!-reeks, onder meer oor die ruimte, reptiele, amfibieë en babadiere.

Elkeen is ’n goeie hulpbron vir skoolprojekte of sommer net om agies se nuuskierigheid te voed.

Kieme: Bose Bakterieë, Woeste Virusse en Vieslike Fungusse

Deur Steve Mould (Lapa, R165*)

Dink jy nie ook dis snaaks dat die skrywer van hierdie boek se van ’n fungus is nie? (Net so snaaks soos Nancy Gardiner wat ’n beroemde Suid-Afrikaanse tuinskrywer is.)

Maar alle lawwigheid op ’n stokkie, Steve Mould se boek sal al jou vrae – ook dié waaraan jy nie in jou wildste drome gedink het nie – oor dié onsigbare goedjies beantwoord.

Hier is net ’n paar van die feite wat ’n mens se kop oopblaas:

  • As jy gekrimp het tot so groot soos ’n bakterie, sou ’n ryskorrel vir jou groter as ’n berg gelyk het.
  • Omtrent die helfte van jou poefie se gewig is bakterieë. Siesa! (Dan wil jy seker ook nie weet wat bakterieë met puisies te make het nie . . .)
  • Wanneer jy nies, help dit om kieme uit te werp.
  • Bakterieë kan baie hard baklei om te oorleef. Hulle sal selfs gewoond raak aan die antibiotika wat jou ma vir jou koop, en dan bly jy siek.
  • Daar is meer bakterieë in jou mond as wat daar mense in die wêreld is. Ga!*

  • Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.