Medusa

Deur Rudie van Rensburg (Queillerie, R219*)

Medusa

Deel 1 begin heel onskuldig met Lila wat in die st. 5-klas aandagtig na ’n geskiedenisles sit en luister.

Dit is ’n welkome wegbreek van die proloog, waar ’n ma van Durbanville en haar twee kinders ontvoer word deur ’n man wat aanlyn met haar seuntjie kontak gemaak het oor speelgoed wat hy goedkoop verkoop.

Maar einste lelike Lila Liebenberg word die spil waarom die verhaal van ’n pedofielnetwerk draai. ’n Mens sien die persoonlikheidskrake gebeur toe sy wraak neem op haar grootste twee boelies wat onder meer altyd haar toebroodjies steel.

Die dag kom dat sy rotgif deur die konfyt meng voor sy dit op haar broodjies smeer.

Rudie van Rensburg
Rudie van Rensburg

Rudie kies een toneel: “Omdat Medusa ’n donker tema het, was dit moeilik om ’n toneel te kies. ’n Toneel wat my plesier verskaf het, was om kapt. Kassie Kasselman se uitsonderlike speurvernuf ten toon te stel toe hy sy bevelvoerder moes oortuig dat ’n magtige man, vir wie sy die grootste respek het, lid van ’n pedofielsindikaat is. Ten spyte van Kassie se goed gemotiveerde gevolgtrekkings kon hy nie haar kop swaai nie. Sy laaste troefkaart was egter ’n uitklophou.”

Soos ’n Diep Waterkuil

Deur Peet Venter (Lapa, R155*)

Soos ’n Diep Waterkuil
Soos ’n Diep Waterkuil

Boel Helberg soek ’n reeksmoordenaar wat direk met hom praat en hom in kennis stel waar hy na sy slagoffers kan gaan soek. Toe nommer vier verdwyn, lê Boel juis in die hospitaal waar hy by die dood omgedraai het nadat die moordenaar op hom geskiet het.

Boel is vir my die verkwiklikste polisieman in die wêreld van Afrikaanse misdaadromans, onder meer omdat hy rasend gelukkig getroud is met ’n slim aanklaer.

Hy is ook skreeulelik, maar “sommige nadele het ook hul voordele. Mense is geneig om te dink hy is dom omdat hy so groot en lelik is.”

Peet Venter
Peet Venter

Peet kies een toneel:

“Die respek en deernis waarmee Boel Helberg Natalie Dixon se lyk uit die water haal. Sy is nie net nog ’n slagoffer nie; sy’s die gevalle dogter van ’n pa. Het haar pa haar in die steek gelaat? Hy, Boel, is al oor die 40 en die pa van ’n vierjarige dogtertjie. Hy het nie ondervinding van ouerskap nie. Is hy bevoeg om haar groot te maak? Wanneer sy volwasse is, sal hy al ’n ou man wees. Gaan hy nog daar wees sodat sy op hom kan steun?”

Wrok

Deur Beyers de Vos (Penguin, R165*)

Wrok
Wrok

In Beyers de Vos se sterk debuut bederf hy sy leser met sterk karakters. Een van hulle is sers. Nolwazi Mngadi, wat om persoonlike redes ’n oorplasing uit Mamelodi na Brooklyn gevra het en nou berou sy dit.

Niemand het vir haar gesê dié polisiekantoor is net ’n blok van die Universiteit van Pretoria se hoofkampus nie.

“Oral studente. Dom, dronk studente wat hulle snags in alkohol versuip. In Mamelodi is sy ten minste met respek behandel. Maar hier. Hier is net suur gesigte. En slegte koffie.”

Sy ondersoek die moord op Ben Rust, die tweelingbroer van die 21-jarige kunsstudent Freya. Wrok is ook in Engels as Talion beskikbaar.

 Beyers de Vos
Beyers de Vos

Beyers kies een toneel:

“Hoewel Wrok ’n realistiese roman is, begin elke afdeling van die boek met ’n hoofstuk wat uit die perspektief van die stad self geskryf is. “In een van dié tonele sien ons hoe die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein lewend word voor die hawelose skare wat elke aand daar slaap. Hy dans vir hulle. Ná die opvoering hou hy sy hoed uit vir ’n geldjie, en wanneer niemand vir hom munte het nie, sny hy almal in die gehoor se keel af. Kerkplein loop oor van hul bloed. Dis ’n brutale, vreemde toneel.”

Bos

Deur Jaco Wolmarans (Tafelberg, R239*)

Bos
Bos

“Carlos, my buddy, die rots. Ek stoei met die gedagte dat hy oor is na die dark side. Ek ontleed ons destydse operasies deur ’n bril van wantroue.”

Carlos en Tex was bloedbroers in die Bosoorlog. Nou, jare later, is Carlos ’n renosterstroper, en dit bring vertwyfeling vir Tex.

“Bos het in my gedagtes begin vorm aanneem op ’n vlug na Mosambiek met ’n eksemplaar van Koos Stadler se uitstekende Recce in die hand,” verduidelik Jaco Wolmarans agter in sy boek.

“Die operateurs daarin se dapperheid en koelkop vaardighede was aangrypend.

“Dit het gesmeek vir ’n storie waarin die mense agter die kamoeflering vlees en gees gegee is.”

Jaco Wolmarans
Jaco Wolmarans

Jaco kies een toneel:

“Die hoofkarakter, Tex, en sy makkers bevind hulle kort voor sonop ’n drafstap voor ’n horde agtervolgende militia in Mosambiek met ’n helikopter op pad om hulle op te pik. Die tydsberekening is jammerlik uit en hulle moet hul pad oopskiet op ’n dekkinglose vlakte met ’n trop buffels sekondes weg van ’n moordende stormloop. Die noodwendige skietgeveg ontaard in ’n chaos van stof, bloed en skietgate, en eindig in ’n surrealistiese dagbreek van warm koffie en koue lyke. Dis van die kragtigste tonele uit Bos danksy die onstuitbaarheid van die aksie en die onverwagte, apokaliptiese einde.”

Foto's: Brenda Veldtman, Izak de Vries, Joanne Olivier, Verskaf
*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com.
Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.