Blinde Gode
Dibi Breytenbach. Foto: Chantel Els
Dibi Breytenbach. Foto: Chantel Els

Deur DIBI BREYTENBACH (Lapa, R239*)

“Uit die aard van die saak is daar wisselende menings aangesien my boeke oor kontensieuse temas handel.” Dibi sê sy behou graag kontak met haar lesers, want as iemand die onkoste aangaan om haar te ondersteun, het sy die voorreg om behoorlik dankie te sê.

“Ek maak hoofsaaklik kontak met hulle via die sosiale media. Die verhouding tussen skrywer en leser is ’n wederkerige proses waarvoor ek groot waardering het,” vertel sy.

Sy antwoord drie van ons vrae.

Dowe gode, Blinde gode en Stom gode het renosterstropery as tema. Hoekom kies jy onderwerpe wat so na aan die waarheid is?

“Ek lees geweldig wyd. Koerant­berigte was die vonk vir al die ­boeke in die Gode-trilogie en ek het verkies om die stories ’n geur van die waarheid te gee om die aktualiteit van die onderwerp te belig.

“Skrywers en kunstenaars is ’n produk van hul omgewing en omstandighede, en ek vermoed dat daar in die toekoms baie meer geskryf gaan word oor hierdie temas.

Daar’s baie bloed en derms in jou boeke, en die emosionele kant van die karakters speel tweede viool. Is dit omdat jou dagtaak jou in aanraking bring met die ­misdaadwêreld?

“Aella, die hoofkarakter in die Gode-­trilogie, is ’n sensitiewe vroue­speurder wat moordsake ­ondersoek terwyl sy eintlik ’n pianis wil wees en die trauma van haar werk op die klavier uitspeel.

“Geweldsmisdryfondersoeke het ’n moordende pas wat nie veel ruimte laat vir emosionele progressie nie.

“Die Gode-boeke speel almal ­binne 48 uur af; die tydperk, soos wat almal weet wat CSI kyk, ­waarna die kans om die skuldige te vang met elke uur wat verbygaan ál ­kleiner raak.”

Jou gunstelingkarakter in Blinde gode?

“Nico Venter, ’n polisiekolonel. Hy’s ’n aweregse bykarakter wat ­iewers in die middel van die nag sy ontstaan gehad het. Ek het ’n groot swakheid vir aweregse karakters.

Noem vyf dinge wat jou in 2019 verstom het
  • Daar is baie meer as net vyf – ek is in ’n konstante toestand van verbasing.
  • Dat #iamstaying nie lankal gebeur het nie.
  • Hoe de hel iemand homself die reg kan aanmatig om iemand anders te vermoor of te beroof.
  • Hoe die kerke leegloop en die NG Kerk steeds derms uitryg oor gay mense. Regtig.
  • Hoe ’n land in bankrotskap in besteel kan word.
  • Rugby.

’n Uittreksel uit Blinde gode
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

“Liewe magtig, Kolonel. Dit stink.”

Aella kyk om toe kaptein Cedric Afrika se Kaapse aksent deur die dik stilte klief.

Haar kollega se kort, ronde figuur staan ­afgeëts op die skeidslyn tussen lig en skadu, op die kaplyn tussen twee onversoenbare landskappe. Agter hom blink die PKRS se wit Avanza langs die Hilux in die son. Ntanzi en Dlamini staan in die klipperige grondpad en rook.

Afrika stap met knarsende voetstappe ­nader.

“Kyk waar jy trap,” sê Aella. “Daar’s glas en gemors op die grond.”

“Ons gaan spreiligte nodig hê.” Afrika haal sy selfoon uit, sleutel ’n nommer in en druk die ­instrument teen sy oor.

“Daar’s nie opvangs hier nie,” sê Aella.

“Dêmmit.” Afrika druk die selfoon terug in sy hempsak. “Gelukkig is Masuku en Mngomezulu op pad. Hulle moet maar weer terugry.”

Hy vroetel in sy broeksak. Die volgende oomblik sny helder halogeen soos ’n lem deur die skemerdonker.

“Mini Maglite. Dis ’n handige dingetjie dié.” Hy draai stadig in die rondte. Die wit ligstraal gly oor die pentagram en die gebruikte kondoom. “Siesa.” Hy snuif. “Wat ’n varkhok. Wie sal nou hier wil spyker?”

Afrika draai na die BMW. Die koue lig baai die koeëlgate in sinistere klaarheid.

“Iemand was die hel in vir hom,” sê hy toe die straal op Meyer Walters se bebloede profiel tot stilstand kom. Sy woorde verdwyn in die skemer. ’n Bries roer die onderwêreldse detritus deurmekaar.

“Is dit wie ek dink dit is?” vra hy ná ’n kort stilte. “Daardie outoppie van die hof?”

Aella knik.

“Wat de hel maak hy hier?” vra Afrika.

“Ek het geen idee nie.”

Saam staar hulle na die landdros in sy duur kar. Afrika trek sy asem in. Dit sis deur sy tande.

“Wie sou nou ’n landdros wou skiet? Dis stupid. Elke kroek weet landdroste en aanklaers is ten a penny. Daar’s altyd nog een. En wat het hy hier kom soek?”
 
Aella antwoord nie. Sy knaag aan die epiteel van haar onderlip totdat sy bloed proe.

Afrika stap tot voor die BMW se neus. “Natty kar.” Sy rubberbedekte vinger beweeg op en af, van koeëlgat na koeëlgat. “Dalk wou iemand die kar rampok.”

“Die kar is nog hier.” Aella proe steeds die bloed in haar mond.

“True.” Hy sak steunend op sy hurke terwyl hy met die Maglite eers langs en toe onder die hoë voertuig lig. Hy hyg asmaties. “Fokkit, ek word te oud vir sulke dinge.”

’n Ligte pyn klop tussen Aella se oë. Haar hand gly in haar baadjiesak en haar vingers streel oor die verpakking. Miskien. Dalk net een.

*TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.