Die vlerke van naaldekokers


Die vlerke van naaldekokers deur Cecilia Steyn
Die vlerke van naaldekokers deur Cecilia Steyn.

Deur Cecilia Steyn (Human & Rousseau, R185)

Kylie verloor in haar matriekjaar haar linkerhand in die motorongeluk waarin haar jongste suster sterf. Toe dinge op hul slegste gaan, kom kuier haar oupa in ’n gehuurde pienk Cadillac. Sonder om haar ouers te sê vertrek sy saam met hom en sy jong assistent op ’n road trip van Bloemfontein af Kaap toe.

Die skrywer van Die vlerke van naaldekokers, Cecilia Steyn van Orkney, vertel sy het in 2014 met die aanmoediging van haar broer, die jeugskrywer Fanie Viljoen, ­begin skryf.

Oor wat haar goue reël is wanneer sy vir tieners skryf, sê sy: “Vir my is ’n gelukkige einde ononderhandelbaar, want ek glo dis wat kinders en tieners wil hê. Die wete dat dinge tog goed kan uitwerk, is my manier om vir hulle hoop vir hierdie wêreld te gee.”

Sy vertel waar sy aan die idee vir dié storie gekom het.

“So ’n jaar of twee voor ek die verhaal begin skryf het, het my man op ’n ongeluk afgekom. Ek onthou nog hoe ontsteld hy was omdat die jong vrou se hand apart van haar lyf op die teer gelê het.

“As ouer raak so iets aan ’n mens. Ek het net geweet ek wil graag ’n reisverhaal skryf oor ’n meisie met ’n amputasie wat haar sus ook verloor het. Ek het net ál meer jong mense met amputasies begin raaksien.” ­

Vier dinge wat Cecilia die afgelope tyd ­verstom het

  • Menslike kreatiwiteit tydens die pandemie, soos die virtuele konserte, oefen- en dansklasse wat oral op die internet opskiet.
  • Die weergalose skaal waarop mense saamstaan, soos met die maak van maskers en hulp­verlening aan dié wat dit nodig het.
  • Menslike aanpasbaarheid; almal kook nou by die huis en hulle geniet dit.
  • Die intense meelewing wat ons as mensdom tans met mekaar het.
'n Uittreksel

Ná die kateter en die dreineringspype uitgehaal is, was om bad­kamer toe te gaan met die drupstaander en een hand ’n nag­­merrie. Net daar in die bad­kamer het die besef my getref. My lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie.

“Here’s a decent swell,” ruk ­Justin se stem my terug na die branders. Ek kyk om. Decent swell se voet. Skrikwekkende muur van water is ’n beter beskrywing. “Now!” skree Justin langs my.

As ek vandag versuip, sal Ma en Pa my nooit vergewe nie. Vir arme Oupa ook nie. Dis hoekom ek alles doen wat ek geleer het.

Eers kom ek in ’n hurkende posisie. Linkervoet voor. Regtervoet agter. My arms wil my van balans af dwing, maar dié keer sal ek dit nie toelaat nie. Bewerig kom ek regop op die bord. Met my skouers gedraai en meer gewig op my agtervoet laat ek die bord reageer. As ek sekondes laat is, kan die brander my afdruk ondertoe. Maar dis nie wat gebeur nie.

Uiteindelik voel ek die eufo­riese oorlading waarvan almal praat. Die wind in my gesig. Die spoed, angswekkend, maar lekker. Sout op my lippe. Gedruis van die branders om my. Hoe die water die stertkant van my plank lig sodat dit voel of ek soos ’n dolfyn deur die water klief. Hoe die krag van die brander my vorentoe stoot. Met ’n draai van my lyf en afdruk van my bene kan ek my plank laat draai.

Dis wat ek doen. “Yeah baby, bottom turn!” roep Justin langs my. “Lekker, Kylie!” roep Lee, wat klaar weer van sy plank afgegooi is. Sekondes voel skielik soos ure. In my gesigsveld soek ek na Justin vir nog instruksies, maar water spat in my oë.

Die volgende oomblik trek ek deur die lug. Asof ek in ’n wasmasjien se spinsiklus vasgevang is, tol ek in die rondte. Sand, water, sand, water.

Toe die see klaar sy mond met my uitgespoel het, spoeg hy my uiteindelik in die vlakwater uit. My vel en oë brand. Daar is skaafplekke op my bene waar die sand en bord my vel geskuur het. Net daar in die vlak branders bly ek lê.

Ek kyk na die son. Hoog bo my draai en duik seemeeue. En toe, skielik, voel alles vreedsaam. Ek is veilig. Ek het gesurf. Die aarde voel of dit stadiger draai. My gedagtes hardloop vir die eerste keer in vyf maande nie weg nie.

“Jy het dit geslay!” sê Lee opgewonde.

Ek hou my hand oor my oë sodat ek Lee beter kan sien. My oupa se assistent op ’n road trip. Hy hou sy hand na my om my op te trek. Sy wimpers is mooi en lank. Langer as wat ’n ou s’n mag wees. Sy oë is so blou soos die hemel agter hom. .

“Hei. Is jy oukei?” vra hy weer. Sy uitdrukking is bekommerd. Tussen sy dik wenkbroue is ’n fyn plooi. Ek wens ek kan dit wegvee. Die laaste vyf maande het ek genoeg bekommerde fronse gesien om my ’n leeftyd te hou.

Toe begin ek lag. Hardop lag. Maagvashoulag. My lyf ruk asof ek kouekoors het. Op my wange is skielik iets nats en warms. Die besef slaan my om soos nog ’n fratsgolf. Trane! My lyf ruk nie meer van lag nie, maar van hartseer.

“Vervlaks,” sê Lee nou. Hy kniel langs my. “Ek weet nie wat om te doen nie. Moet ek ’n ambulans bel?”

“Omdat ek huil?” vra ek verstom. Deur die trane borrel ’n lag weer uit my keel. Trane stroom steeds oor my wange.


A is vir aanmekaaralfabetwoorde


A is vir aanmekaaralfabetwoorde deur Werner du Toi
A is vir aanmekaaralfabetwoorde deur Werner du Toit.

Deur Werner du Toit; illustrasies: Aurora Creative Studio, Lize-Marie Dreyer en Sonia Dearling

Dié oulike boek vir kinders óf vir grootmense se koffietafels waaroor ons ’n ruk gelede geskryf het, is nou ook as inkleurboek beskikbaar – heeltemal gratis!

Werner du Toit, die skrywer en uitgewer van A is vir aanmekaaralfabetwoorde, sê dis sy bydrae om mense te help red van verveling in die inperkingstyd.

Van die karakters wat jy kan help kleur gee, is die 26-jarige Sizani Shabalala, die terneergedrukte Theresa Taljaard en die uitruil­student Ulrich von Ulmenstein. En kom beleef die plaasjapiepajamapiekniek, die koshuis-?karnavalkaskarkampioenskap, die dinamietdemonstrasiedebakel en alles en nog wat.

  • Gaan na aanmekaar.co.za en laai die inkleurboek af, druk dit uit en deel die bladsye uit ­sodat almal kan help inkleur. Die volkleurboek is ook hier te koop (R225) en dit word gratis in Suid-Afrika afgelewer. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.