Ná maande van inperking weet dié top­verkoperskrywer dis veel makliker om oor ’n pandemie te skryf as om ’n regte een te beleef.

Sy beklemtoon egter dat Afterland, haar nuwe roman, nie oor ’n pandemie gaan nie, maar oor die nadraai. Deon Meyer het dieselfde gesê van sy eie “pandemieroman”, Koors, toe dit in 2016 ver­skyn het, naamlik dat dit eerder gaan oor hoe mense die gevolge van so ’n globale ramp hanteer.

Ons het haar uitgevra oor haar nuwe roman en hoe sy in haar huis in Kaapstad hierdie vreemde tyd ervaar.

Waarmee is jy die afgelope paar maande besig?

Wel, eerstens het ek verhuis! Andersins versorg ek my kind (ek hou ook skool vir haar hier by die huis), ek kyk na myself en my psigiese gesondheid, reik uit na vriende, maak kos, doen onderhoude, lees, fuifkyk televisie en ek het met ’n nuwe roman begin.

Daar’s helaas nog net so 10 000 woorde neergeskryf.

Maar hoofsaaklik probeer ek om nie te veel druk op myself te plaas nie. Ons beleef ’n tyd soos geen ander nie, en dis oorweldigend en mense gaan dood en kry swaar en ly honger en verloor hul werk.

Dis in die haak om oorweldig te voel en dis ook in die haak om te rou oor ons ou lewe.

Hoe hou jy jou kop bymekaar?

My kind hou my nederig, soos altyd. Sy sorg dat ek ’n verstandige, nugter mens bly.
My groot geluk is dat ons langs goeie vriende van ons ingetrek het, so ons is saam in isolasie. Dis soos twee woonstelle, maar een huishouding.

Ek het vinnig agtergekom ek is nie een vir Zoom-byeenkomste nie.

Gee my eerder meer intieme kontak, soos saam kos maak en gesels, of, my nuwe gunstelingding, om die baie oulike maar mistroostige videospeletjie Don’t Starve Together te speel.

’n Mens moet probeer om bronne bymekaar te maak teen die koue en die monsters terwyl jy op Discord (’n kitsboodskap-app) gesels. Dis baie sosiaal.

Benewens die speletjie, het jy enige ­ander vreemde gewoontes aangekweek oor die afgelope paar maande?

Tel dit om jou te bekommer oor ons kollektiewe toekoms en ons angswekkende hede?

Google jy ooit swartgallige nuus?

O, heeltyd. Maar ek kyk altyd wat die bronne is – of dit betroubare nuusbronne en wetenskaplikes is. En ek is darem altyd op die uitkyk vir goeie nuus ook.

Ek hertwiet ook snaakse, vrolike dinge soos die TikTokker Kashira Whiteley wat kommentaar lewer op mans wat ’n vis vashou op die maatsoek-app Tinder.

Wat is jou geheime plesiertjie in dié dae?

Ek luister na gruwelboeke om my aan die slaap te sus, soos Paul Tremblay se Head Full of Ghosts en Adam Nevill se Last Days. Miskien is dit purgerend.

Ons leef nou wel met ’n dodelike virus, maar ten minste is daar nie demone uit ’n ander dimensie wat deur my plafon sypel nie.

As jy op vlug sou moes slaan of in ’n bunker moes gaan skuil, watter twee mense sou jy by jou wou hê?

My kind en seker my redakteur, Helen Moffett, wat die afgelope drie maande al allerhande ­covid-19-simptome die hoof bied – nie omdat sy immuun is nie (die jongste navorsing wys blykbaar die teenliggaampies hou net ’n paar maande), maar omdat sy die mees parate mense is wat ek ken.

Sy kan ’n boek skryf oor hoe om waterslim te wees (en hét ook), weet alles van herwinning, kan naaldwerk doen en allerhande dinge regmaak.

Ek sal egter ’n noodhulpkursus of drie moet loop en seker basiese meganika moet leer. My kind sal die humor verskaf en ons moed hoog hou.

Watter vyf items sal jy saamneem na jul bunker?

Tel katte? Ek gaan ’n volledige mediese stel saamvat met toerusting vir doen-dit-self-operasies, ’n watersuiweraar vir die reënwatertenks, petrol vir die kragopwekker, genoeg kos (ek weet nie hoe nie, want geblikte kos kan ook sleg word en chemikalieë in die verpakking begin lek) en ’n baie kragtige veselmodem wat deur vyf lae beton kan dring om my foon verbind te hou met Netflix en Kindle.

Lauren gesels oor haar virusriller

Waar het jy aan die idee vir Afterland gekom?

My skrywervriendin Sarah Lotz het met die idee gekom vir ’n verhaal oor ’n wêreld sonder mans. Dit het my aan die dink gesit oor hoe dit met die eerste oogopslag sou klink soos ’n baie gawer, sagter, minder gewelddadige wêreld.

Maar as vroue word ons ook deur die gemeenskap gevorm; daarom is ons net soveel in staat tot gierigheid, eiebelang, geweld en boosheid soos mans.

Hoewel die verhaal in Amerika afspeel, is die hoofkarakters Suid-Afrikaners. Waarom het jy so besluit?

Want hulle moes geïsoleerd wees. As ek in Suid-Afrika op die vlug slaan, sal ek ’n klomp vriende hê wat besorg sal wees oor my en my onderdak en hulp gee.

Dit was ook ’n lekker manier om te kyk hoe Amerika op so baie maniere nie meer die beloofde land is nie en dat Suid-Afrika in die afwesigheid van mans dalk ’n baie meer redelike en menslike plek sou kon wees.

Vertel iets oor jou navorsing.

Dít was nou lekker! Ek het ’n stuk van my karakters se padreis deur Amerika gedoen en gery van San Francisco deur Napa tot by Salt Lake City – dis ’n hele stuk van Colorado; en ek het Atlanta en Miami verken.

Ek het ook met ’n klomp kundiges onderhoude gedoen, van ekonome tot programmeerders, mynkonsultante, wetenskaplikes, kapteins van houerskepe en Ph.D.-studente in godsdiensstudie om agter te kom hoe die wêreld sal verander in die afwesigheid van mans, en hoe dié virus sal werk.

Dink jy mense gaan huiwerig wees om ’n boek oor ’n nagmerriepandemie te lees terwyl ’n regte virus hulle soveel rede tot kommer gee?

Ek sal heeltemal verstaan as dit vir party mense te veel is. Ek wil egter beklemtoon dat Afterland nie eintlik oor ’n pandemie gaan nie, maar oor die nadraai daarvan.

Het jy maklik geskryf hieraan, of was dit by tye maar ’n gesukkel?

Sommige dele was lekker; ander was ’n bliksem. Skryf is so ’n eensame in-jou-kop-werk waar jy probeer om ’n hele wêreld bymekaar te hou. Sommige dae voel dit of jy besig is met argeologiese opgrawings, so presies en inspannend . . . Ander kere voel dit asof jy asemloos afswiep in ’n waterglybaan.

Hoe voel dit om te hoor mense soos Stephen King, Gillian Flynn en George RR Martin is gaande oor jou boeke?

Surrealisties. Ek kan dit nie kleinkry nie. Dat hulle regtig positiewe dinge sê. Ontkenning voel gesonder; dit hou my ego in bedwang.

Kry jy enige terugvoer van Afrikaanse lesers?

Dikwels ja, en ek kry baie steun van die Afrikaanse media, wat ongelooflik is.

Is daar enige Afrikaanse skrywers wat jy bewonder?

Ek lees ongelukkig nie Afrikaans nie, want ek het Engels grootgeword en is nie vlot genoeg om die musikaliteit en nuanses te waardeer wanneer ek dit in my kop reël vir reël moet vertaal nie.

Ek het Deon Meyer se misdaadromans en André P. Brink en Etienne van Heerden se werk in vertaling gelees. Ek hou baie van Ingrid Jonker se poësie en ek het Triomf van Marlene van Niekerk op my rak tussen ander ongeleesdes wat geduldig wag dat ek hulle lees.

  • Lauren het pas ná ons onderhoud gehoor dat haar boek Shining Girls (2013) ’n TV-reeks gaan word met Elisabeth Moss in die hoofrol en Leonardo DiCaprio as medevervaardiger.
Afterland in ’n neutedop

Net soos in Deon Meyer se Koors is hier ’n enkelouer op vlug met ’n seun nadat ’n pandemie die wêreld getref het. In Afterland word die grootste deel van die manlike bevolking uitgewis, maar om die een of ander rede blyk die 12-jarige Miles immuun te wees.

Hy vlug aangetrek soos ’n meisie saam met sy ma, Cole. Op hul spoor is spermjagters, ’n vreemde groep nonne en die Departement van Mans.

Die skrywer Deborah Steinmair noem Afterland in ’n resensie “ ’n apokaliptiese nagmerrie met psigotiese vroue en neon­nonne”.

“Dis ’n onvergeetlike rit deur die woestynland van die Verenigde State in die nabye toekoms, ’n plek waar jy vryelik wapens en ammunisie oor die toonbank kan koop, maar nie pynmedikasie nie. ’n Toekoms wat toenemend waar­skynlik lyk.”