Sewe-en-veertig
Irma Venter. Foto: Eben Pienaar
Irma Venter. Foto: Eben Pienaar

Deur IRMA VENTER (Human & Rosseau, R285*)

Irma Venter se eerste misdaad­roman, Skoenlapper, verskyn in 2012. Hierna kom Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en nou Sewe-en-veertig.

Dié keer is Sarah die sentrale karakter, die kuberkraker wat op ?’n te jong ouderdom tronk toe gestuur is juis vir hierdie talent van haar. Sy is nou 26, ryk en steeds eksentriek.

Sy word Kaap toe ontbied deur ’n vriendin wat in die tronk na haar omgesien het.

Mosela is ’n “bibliotekaresse van die digitale era” en nou die skatryk grootbaas van ’n datawetenskaponderneming. ’n Patroon het opgeduik in haar stelsels, en dit voorspel dat ’n derde persoon binne die volgende 24 uur vermoor gaan word.

Sarah moet hierdie patroon  ontrafel.

Irma beantwoord drie vrae:

Die Jason wat ontken hy’s ’n sekswerker, het vir die verdagte ’n venik-mas­se­­­ring gegee. Waar kom jy aan dié soort massering?

Ek moes iets uitdink wat sou uitstaan in ’n datapatroon. Gelukkig is ek verslaaf aan die nuus en het ek ’n artikel oor venik-masserings onthou wat ek gelees het net voor ek met Sewe-en-veertig begin het. Ek bêre altyd interessante artikels wat ek dalk later kan gebruik.

Jy het van jou idees vir Sewe-en-veertig gekry deur die TV-­reeks Person of Interest. Wat daarin het jou aan die dink gesit?

Die alomteenwoordige masjien, die digitale god wat kan sien wat ons doen en saam met wie. Die ­verlies aan privaatheid in die naam van wins en sekuriteit.

Die joernalis Jeanmarie Fouché, met haar meestersgraad in Afrikaans en ’n M.B.A. op pad en wat maklik haar lyf verkoop om ’n storie te kry, is ’n interessante karakter. Ken jy so iemand?

Die suggestie dat Jeanmarie haar lyf verkoop, word nooit ge­­verifieer nie. Ken ek ambisieuse mans en vroue wat alles in hul arsenaal gebruik om bo uit te kom? Absoluut!

Maar die saam­gestelde karakter van Jeanmarie Fouché is op niemand gegrond nie. Dís wat fiksie so lekker maak.

5 dinge wat Irma in 2019 verstom het

  • Hoeveel geld onder Zuma en kie gesteel is
  • Die droogte
  • Jane Harper se boeke
  • Die buurmanskap van gewone Suid-Afrikaners
  • Cheslin Kolbe
’n Uittreksel uit Sewe-en-veertig
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

“Hier,” sê hy oplaas. Hy steek sy linkerhand uit, ’n USB drive tussen sy vingers.

Ek vra nie wat dit is nie, neem dit bloot. Wonder hoe ek die stilte om hom kan oopbreek.
Hy lag effens, draai om en loop terug soos hy gekom het.

“Brits!” roep ek. “Hoekom?”

Hy gaan staan, kyk terug. “Die skietery vanmiddag in Manenberg is groot nuus. Kolonel Alberts is oortuig dit het iets met Derick, ­Samuels en die Vic te doen.”

“Hoekom dink sy so?”

Hy glimlag skeef. “Ek weet nie. Sy en Moegamat is op Samuels se spoor om uit te vind. Hy het verdwyn. Alberts dink jou Tatoe­vrou is een van Samuels se mense.”

“Samuels sê dan sy is verantwoordelik vir die eerste hit op hom.”

“Hoe weet jy dit?”

Ek trek my skouers op.

Hy skud sy kop ongelowig, ­amper seergemaak.

Ek loop nader, vat aan sy arm. Weet dis ’n fout. Dis laat en ek is moeg en moedeloos.

“Brits. Daar is meer hier, meer as wat ons sien.”

“Hoekom sê jy dit? Dink jy regtig nog steeds Derick het hierdie vrou gehuur?”

“Ek weet nie wat om te dink nie.” Ek hou die USB op. “Wat is hierdie?”

“CCTV van die Fandango. Voor en ná 17 Junie.”

“Wat wys dit?”

“Jy sal moet kyk. Dis al wat ek het . . . al manier hoe ek Derick kan help. Dit voel asof dinge besig is om skeef te loop. Sonder Samuels is Derick so te sê agter tralies. Alberts wil julle hieruit hou, maar ek stem nie saam nie. Ek dink jy’s reg. Iewers kyk ons iets mis, een of ander legkaartstuk. Maar ek dink nie Alberts wíl dit sien nie. Sy het ’n obsessie oor Samuels. Dalk kan julle iets oopkrap.”

“En as ons daai iets kry? As jou pa wel betrokke is?”

“Dan kan ek niks daaraan doen nie. Ek het genoeg gedoen. Hoeveel moet mens . . . Los dit.”

Ek hou op dink. Leun vorentoe en soen hom. Sy mond is koud.

Ek maak die boonste knoop van sy jas los, skuif my hand oor sy bors. Voel die hitte van sy lyf deur die katoen van sy hemp. Hy ruik na sigare, drank en reën.

Volgende knoop. Nog een, tot die jas los is. Deur die hemp kan ek voel hoe sy vel saamtrek.

“Sarah.”
Ek wil nie hoor nie. Druk hom met my hand teen sy bors terug. Twee, drie treë tot teen die naaste pilaar.

“Sarah, wat doen . . .”

Ek antwoord nie. Ek is moeg gepraat. Sy rug tref die sement. Hy grom iets, skiet vorentoe, swaai my om sodat ek teen die pilaar staan.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.