Rivierplaas
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

DEUR ALBA BOUWER (TAFELBERG, R249*)

Die kinderboek­skrywer Alba Bouwer sou vanjaar 100 jaar oud geword het, en om dit te vier, is ’n beperkte oplaag van Rivierplaas heruitgegee. Hierin is Stories van Rivierplaas, Nuwe Stories van Rivierplaas en Stories van Ruyswyck.

Ironies genoeg het sy, wat kinders se verbeelding so kon gaande maak met haar stories, nooit self kinders gehad nie, wel sewe stiefkinders.

Sy was self ’n stiefkind, en as jy hieroor nalees, kom jy af op ’n baie hartseer stuk geskiedenis: Haar lewe het goed en interessant begin toe sy te vroeg gebore is op haar ouers se plaas op Vredefort in die Vrystaat.

Almal het kom kyk hoe haar pa, Adriaan Bouwer, sy trouring oor die piepklein babatjie se armpie sit en dit op en af trek. Hy het later hiermee opgehou, want hy het gevoel die mense mors met sy kind. Alba het vroeg leer loop en praat en soggens sou hy haar kappie opsit en haar saamneem veld toe op die bokkiekar.

Een oggend was hulle skaars weg toe hy terugdraai en haar by die huis gaan aflaai met die verskoning dat dit te warm is. Hulle het hom later die dag onder ’n boom gekry waar hy ’n beroerte gehad het. Alba was net ’n jaar en nege maande oud.

Haar ma het weer getrou, maar Alba se stiefpa is oorlede toe sy 12 was. Met haar eerste man, Hubert Coetzee, was sy net ses jaar getroud toe hy dood is. Sy het ook haar tweede man, Jan Hofmeyr, oorleef.

’n Mens kon wel wonder watter invloed al die teëspoed op ’n sensitiewe skrywer gehad het. Sy antwoord die vraag laat in haar lewe in ’n onderhoud met ’n joernalis:

“Ek moes in my stuk lewe wat agter lê heelwat diep driwwe deur, maar daar was altyd die wonderlike genade waarvan ek bewus was. Daarby was my lewe nog altyd so ryk aan vriend­skap en liefde dat ek nooit daarvoor sal kan vergoed nie, al lewe ek nog 75 jaar.

“Nee, rede om sinies te word, was daar nooit nie, rede om meer te probeer gee aan die ewemens, dit bly daar.”

Haar loopbaan as skrywer het begin met stories vir Landbouweekblad wat toe deur ­Sarie vir ’n kinderrubriek “gesteel” is. Sy het eers skoolgehou voor sy in die joernalistiek beland het deur ’n blaadjie genaamd Die Huishouding.

In 1950 val sy in by Sarie Marais, en net twee jaar later word sy die adjunkredakteur. Prof. Lizette Rabe vertel Alba was ’n buitengewone joernalis en skrywer.

Toe sy in 1952 as adjunkredakteur aangestel is, was dit weens “suiwer diskriminasie deur die direksie van die Nasionale Pers” dat sy nie as redakteur aangestel is nie. Hierdie soort onreg is eers in 1994 reggestel toe Lizette as die eerste vroulike redakteur van die tydskrif aangestel is.

Alba se kinderboeke is met al die belangrikste pryse bekroon. Selfs die digter W.E.G. Louw het in Die Burger geskryf dat hy “Abdoltjie”, haar storie van die Maleise seuntjie van die Bo-Kaap, hardop vir sy kinders voorlees omdat dit soos verse klink waarvan jy elke klank moet hoor en elke woord moet proe.

Sy broer NP van Wyk Louw het geskryf oor die “taalgevoelige Alba Bouwer”. Hy het gesê sy het met haar vertalings van klassieke kinderverhale en religieuse werke gewys dat ons klein taal meer kan doen as om net die eenvoudigste dinge te beskryf.

Nou kan ’n nuwe generasie kinders vir Alie en Lulu, ou-Melitie, klein-­Melitie en Sanna leer ken. Die eenvoud en onskuld van die stories is vandag nog ook vir grootmense aantreklik.

Grilgrypers
De Wet Hugo. Foto verskaf
De Wet Hugo. Foto verskaf

Deur De Wet Hugo (Human & Rousseau, R125*)

Sy doel is om kinders aan die lees te kry, nie bang te maak nie, hoewel hy hierdie boekeredakteur bang geskryf het.

“Ek geniet dit altyd om te hoor ek het iemand bang ?geskryf, want dit beteken dan ek het dit reg gedoen,” verkneukel De Wet Hugo hom. Die sesde boek in sy Grilgryper-reeks, Die geheim van die spookwerf, verskyn dié winter.

“Ek dink vandag se kinders is wêreldwys genoeg om te weet wat fantasie en wat werklikheid is, so hulle gaan nie sommer nagmerries kry oor vampiere en mummies nie. Hulle geniet wel die hoendervel en hul hare wat regop staan.

“Dis juis daardie sterk spanningslyn wat maak dat die grilgenre wêreldwyd die gewildste genre vir die ouderdom­s­groep 9-12 is.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

De Wet is al 10 jaar lank ’n laerskoolonderwyser by ’n Britse internasionale skool in Saoedi-Arabië. Hy het nog altyd self van grilstories gehou.

“Toe ek eindelik die durfmoed het om my eerste vollengte-manuskrip aan te pak, was dit ’n natuurlike keuse om ’n grilboek te probeer skryf.”

Later vanjaar verskyn ook iets heel anders uit sy pen. “Die Kies jou avontuur-reeks is avontuurverhale waar die lesers hul eie avontuur skep deur aan die einde van elke hoofstuk keuses te maak.

“Daar is meer as 20 eindes in hierdie boeke, so die boek kan oor en oor gelees word. Die eerste boek, Die gevaarlikste speletjie op aarde, gaan oor ’n seun wat gekies is om op ’n tog na die sewe wonders van die antieke wêreld te gaan en ’n raaisel op te los.

Hy moet na 250 v.C. terugreis. Dít gee die storie nie net hope avontuur nie; dit gee dit ook fantasie, aksie en natuurlik ook so ’n klein bietjie grillerigheid.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET  DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.