Liewe Heksie en Die Helikopter

Gegrond op die oorspronklike verhaal deur Verna Vels; illustrasies: Vian Oelofsen (Human & Rousseau, R115*)

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en ek ken al die stories.

Hier in my tonnelhuisie diep onder die grond het ek rakke en rakke vol storieboeke.

O, dié week se storie is vir my so mooi. Dis Liewe Heksie en die Helikopter. Weet julle wat? Baie van die maatjies se mammas en pappas ken die boek.

Maar dis nie al nie, baie van die oumas en oupas het oor die radio na Liewe Heksie se stories geluister toe hulle nog klein was.

Nou’s dit julle beurt.

Karel Kat kom kuier gereeld met sy helikopter by Liewe Heksie en Blommie Kabouter.

Dan maak hulle beurte om saam met hom te vlieg. Maar o aarde, eendag wil koning Rosekrans ook saamvlieg en ’n vreeslike ding gebeur!

Gelukkig kan Heksie op haar besem spring om die meuliekopter te gaan help.

Laat iemand vir jou die storie lees sodat jy kan uitvind wat sy met die tou gedoen het en wat ’n meuliekopter met ’n skroewedraaier is. O goue blaar, my storie is klaar.

– Bennie Boekwurm

Wen

Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar van Liewe Heksie en die Helikopter wen.

Wat is die koning se naam?

  • SMS jou antwoord, naam, van en adres voor 12 Julie om 17:00 na 35407.


Die Apies Se Dieretrein

Deur Rosamund Haden; illustrasies: Tony Pinchuck (Tafelberg, R165*)

Die kleurryke avontuur begin met ’n poskaart wat teen Olifant se plooipote vaswaai: Die apies nooi al die diere na Hotel Aai-Aai in Kokosneutbaai vir ’n heerlike uitstappie.

Die datum en tyd is “sodra julle aankom” en die drag is “deftig, doodgewoon, nes jy wil”. Man en muis vertrek op die dieretrein, want vir so ’n uitnodiging sê ’n mens nie nee nie.

Die dag van lawwe plesier begin met Leeu wat vir Luiperd sê hy moet in die swembad spring.

Die storie is ondergeskik aan die pragtige illustrasies.

Die kinders kan hulle verkyk aan al die verskillende diere en ouers sal hul storie moet ken om ’n paar minder bekendes te identifiseer.

Die Besoeker

Teks en illustrasies: Antje Damm (Protea Boekhuis, R150).

Vertaal uit Duits.Die arme Elise is so alleen en bang (vir alles onder die son van mense tot bome) dat al die illustrasies sonder kleur is.

Tot op ’n dag toe ’n papiervliegtuigie by die venster invlieg. Dit was per ongeluk, want Elise maak net soms haar vensters ’n klein bietjie oop.

Sy gooi die vliegtuigie in die vuur sodat haar huisie netjies kan bly. Maar die volgende dag kom klop ’n seuntjie aan haar deur.

Hy is op soek na sy vliegtuigie. Toe wil hy eers ’n draai loop en oral waar hy in haar huisie stap, spoel die kleur in die illustrasies in.

Die Dapper Muis

Deur Betty Misheiker; illustrasies: Chris Venter, Karen Ahlschlager en Johann Strauss (Lapa, R99*)

Die Lappop, Die Eensame Krokodil, Die Dapper Muis – daardie liedjies weergalm nog deur baie mense se geheue. Dit is deur Betty Misheiker geskryf en Doris Brasch en Dawie Couzyn het dit gesing.

Betty is in 1919 in Pretoria gebore en het deur ’n sameloop van omstandighede onder meer liedjies begin skryf (lees nog by bettymisheiker.com).

Sy was Afrikaans ook magtig. Betty en haar gesin het in 1979 na Israel verhuis, waar sy in 2015 oorlede is.

Nou is drie van haar beroemdste kinderliedjies in boekvorm uitgegee met oulike illustrasies wat wys wat al die “goeters” is wat saam met Lappop op die ashoop is, wat die kat en die valletjie wys waarvoor Muis so bang is en hoe die krokodil lyk vir wie die mense so gril.

’n Mens wens iemand wil die liedjies weer opneem vir vandag se kinders.

Baas Baba Se Baas

Teks en illustrasies: Marla Frazee (Protea Boekhuis, R155*). Vertaal uit Engels.

Dit is ’n snaakse storie van ’n boetie wat vir lief moet neem met die koms van ’n babasussie. Baas baba word na ’n laer posvlak verskuif toe die baba haar tot die HUB (hoof uitvoerende beampte) bevorder.

Baie ou dingetjies steek die voormalige baas dwars in die krop, want die HUB geniet voordele wat hy nie ken nie, onder meer ’n organiese spysenieringsdiens (mens weet nie waarom hy nie ook geborsvoed is nie).

Later gee hy moed op en loop sit in die hoek. Gelukkig het dit ’n gelukkige einde, want die HUB is nie so selfsugtig soos sy aanvanklik gelyk het nie.

Dis ’n ideale boek vir jaloerse ouboetas.

  • Beskikbaar teen dié pryse by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.