Bloedsteen

(Tafelberg, R245*)

Londen, Antwerpen, PortNolloth – Irna van Zyl het ver gereis om navorsing te doen vir haar derde misdaadroman, Bloedsteen.

“Ek en my lewensmaat het so baie stasies besoek – Paddington, natuurlik, maar ook King’s Cross en St. Pancras – dat my partner later gesê het dit raak darem nou regtig te veel. Hoe lank kan ons nou nóg na treine sit en staar!” vertel Irna.

Sy beantwoord ons vrae

Agterin jou boek bedank jy jou lewensmaat en sê jy ook jy is bly sy het jare gelede die val onder ’n trein oorleef. Is Rowena se val dus op die werklikheid gegrond?

“Ja, so by die 25 jaar gelede terwyl Bridget in Londen gewoon het, is sy een middag in spitsverkeer onder ’n trein op Paddingtonstasie gestamp deur ’n haastige pendelaar wat niks ontsien het om op die trein te kom nie.

“Gelukkig het sy lankuit reg langs die spoor beland. Die fluitjie het reeds geblaas, en voor sy kon orent kom, het die trein vertrek. Dit was net genade dat sy dit oorleef het.

“Ek het natuurlik nou, amper meer as sy, ’n fobie oor treine.”

Hoekom het die hoofkarakter, speuradjudant Storm van der Merwe, se klerekas ’n makeover gekry?

“Storm het nou ’n nuwe baas, ’n ou skoolvriendin, Amber Cloete, met wie sy ’n ongemaklike verhouding het. Almal in die kantoor wil die nuwe hoof beïndruk, ook Storm, wat besluit dis tyd dat sy ’n meer ‘korporatiewe’ voorkoms kry.

“Haar bonte mengelmoes word dus nou vervang met swart broeke, wit hemde en netjiese leerskoene.”

Op wie het jy die gek pastoor se karakter geskoei?

“In ons politiek is daar baie karakters wat neigings het tot grootheidswaan; ek kon nie help om aan hulle te dink nie, veral een spesifieke openbare figuur wat in die vorige verkiesing ook ’n politieke party gestig het.

Ek het ook na ’n Amerikaanse dokumentêre fliek met die naam Wild Wild Country gekyk. Dit gaan oor ’n Indiese kultusleier wat ’n hele dorpie, kompleet met vliegvelde en ’n weermag, op die platteland begin en wilde partytjies gehou het. Hy het ook ophou praat, nes die pastoor in Bloedsteen.”

Vertel van jou gunsteling­toneel.

“Dis waar Witvoet en Grootman in laasgenoemde se kantoor vergadering hou.

“Witvoet sit met ’n swart albaster en speel, wat dan uit sy hand uit val, oor die mat rol en deur Grootman opgetel word. Daar is vir my iets vreeslik ­onheilspellends aan wat hier gebeur.”

Kommissaris Lewis Witvoet (Storm se biologiese pa) straf of beloon homself met swart of wit albasters na gelang van sy eie gedrag.

Storm weet dit nog nie toe sy ’n swart albaster op ’n verdagte plek optel nie . . .

Vier dinge wat Irna onlangs verstom het

  • Dat iets die hele wêreld so vinnig kan verlam asof ons in ’n nuwe soort oorlogsone beland het.
  • Dat mense oor toiletpapier kan baklei.
  • Ook dat daar terselfdertyd so baie omgee in die wêreld kan wees en dat daardie “kindness” iets is wat ook helder en duidelik deurkom ondanks die verstaanbare histerie. Dit maak my diep dankbaar.
  • Dat ’n mens virtueel ’n boekbekendstelling kan hou soos wat ek en die skrywer Mike Nicol op Twitter gedoen het nadat al my bekendstellings gekanselleer is.
’n Uittreksel uit Bloedsteen
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Speuradjudant Storm van der Merwe se ma val nie per ongeluk onder ’n trein op Londen se Paddington-stasie nie. Sy word gestamp.

Deur ’n kleinerige maer man wat so rats in die middag se gedrang van pendelaars verdwyn dat slegs enkele van die omstanders ’n flerts groen, ’n glimp van sy pet of ’n skraapsel ink teen sy keel onthou.

Net een ou kon agterna sy rugsak as ’n middelmatige, kleinerige een beskryf. ’n Swart sak argeloos oor sy een skouer, tipies van so baie manlike pendelaars in Londen. ’n Skootrekenaarsak met miskien wit strepe aan die kante en platterig asof daar nie eintlik veel boeke, klere, dokumente of selfs ’n klein rekenaar in is nie.

Storm se ma, Rowena, val sonder gil of geluid netjies in die gaping tussen die laaste wa en die tiende perron. Die perron waar die bogrondse trein van Twyford af gewoonlik inkom. Reg langs die brons standbeeldjie van Paddington-beer skuins op sy tas, groot hoed en al.

Rowena val met ’n slag reguit langs die spoor, parallel onder die trein in. Haar arms, verstommend genoeg, styf langs haar lyf. Haar bene goddank ook lankuit gestrek. In haar sjiekste someruitrusting.

Gegroom vir ’n uitgelese Engelse gehoor van kundige modemense. Rooibont rok van ligte somerstof, kitten heels, sonbruin bene en met ’n stylvolle trench coat oor haar arm. Daarby ’n bypassende beige handsak en aktetas van sagte leer oor haar skouer.

In haar val verbeel sy haar sy onthou ’n jong man skuins agter haar, sy hand amper om haar lyf, asof ook hy steun soek in die drukte voor die oop deur van die trein. Háár hand op die lang blink handvatsel om haar op en in te hys.

Dis toe dat hy haar stewiger om die lyf beetkry. En met sy skouer ferm kant toe stamp. Snel en flink.

Verniet probeer sy weer na die handvatsel gryp, want sy’s van balans af. Sy val. Haar knie kap teen die perron, haar hande raap na die sementrand.

Sy val onomkeerbaar langs die trein in.

Die dun somerrok bied geen beskerming teen die meter of wat ondertoe nie, die gruis hier pynlik hard onder haar kaal arms. Haar handsak tussen die spore oopgesper. Die inhoud van lipstiek, sleutels, tissues, spieëltjie en beursie saam met een rooi kitten heel tot niet op die klippers.

Haar vroulike aktetas en die somerjas verlate op die perron.

Weens skok bly sy eers net so lê. En toe, verdwaas oor wat met haar gebeur, gretig om weg te kom van die spoor af, probeer sy op haar elmboë orent kom. Net om die volgende oomblik met volle geweld deur die takelwerk van die vertrekkende trein teen die kop getref te word.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.