Seuns sonder pa’s
Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Deur Julian Jansen (Lux Verbi, R230)

“As ek aan ons huis in Twaalfde- en Noltestraat dink, kom woorde op soos ‘ysere dissipline’ en ‘lyfstraf’, wat ingevolge vandag se kinderbeskermingswette maklik op blote aanranding en mishandeling sou neerkom. Na buite was ons ’n liefdevolle gesin.

“Daar is dikwels met bewondering na die ‘lang man’ en ‘juffrou se ses kinders’ verwys. My pa was ’n diaken en ouderling in die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk en Sondae het ons ouers met ons ses orrelpypies in die kerk gesit.”

So skryf die Rapport-joernalis Julian Jansen in sy aangrypende boek Seuns sonder pa’s.

Toe verdwyn Donald Jansen op ’n dag eenvoudig uit sy vrou en kinders se lewe. Byna soos Ivor Swartz in sy boek, Die verlore seun vannie Gaatjie, skryf: “Die Gaatjie (’n buurt by Grabouw) met die baie rondloperhonde en min teenwoordige pa’s.

Die meeste se pa’s het ‘gaan brood koop’. Woorde wat jy gereeld sal hoor as ’n grap op straat. Dis my mense se manier om te sê sekere pa’s maak net kinders en vat die pad.”

Ek vra vir Julian of dit regtig kan wees dat meer as 60% van Suid-Afrika se kinders sonder ’n pa grootword.

“Jip, so sê die syfers van Statistieke Suid-Afrika se 2016-’17-peiling. Een van die redes is dat pappa nog vanmiddag vir die onder-19-rugbyspan speel.

“Baie pa’s is so jonk as 15, en daarom speel tienerswangerskappe ’n beduidende rol in die hoë syfer.”

’n Ander faktor is die ver­skynsel van trekarbeid. “Histories het baie pa’s uit die Oos-Kaap op die Hoëveld se goudmyne gaan werk en was hulle vir maande, selfs jare nooit tuis nie. Baie kinders het nie ’n pa geken nie, of net gesien as hy soms kom kuier het,” sê hy.

Julian Jansen. Foto: Deon Gurling
Julian Jansen. Foto: Deon Gurling

Julian se pa was wel tuis. Aanvanklik.

“My pa was ’n majoor in die weermag. Niks was aantrekliker vir my en het my trotser ge­maak as ek die geel sterretjies en later die kasteel op die skouers van sy bruin uniform gesien het nie.

“Hy was lenig, groot en sterk, het Afrikaans met die adelheid van ’n Engelse hertog gepraat. Hy was my held, my rolmodel. Ek het letterlik en figuurlik na hom opgekyk.

“Hy was vir ons vier broers en twee susters emosioneel afwesig. Ons, wel die drie ouer sibbes, het onder sy hande deurgeloop. Daar was huishoudelike geweld, aanranding van ons ma, ­dronk­ episodes, buite-egtelike verhoudings, irrasionele gedrag wat ’n baie negatiewe impak op die ontwikkelende psige van ons ses sibbes gehad het,” vertel hy.

Sy einde was tragies en absoluut hartver­skeurend: van trotse regop soldaat tot ’n hawe­lose tot ’n parapleeg nadat skollies hom uit ’n gebou in ’n Kaapse voorstad gegooi het.


“Oor die impak op my ma, wil ek nie eens praat nie – behalwe om te sê dat dit ’n mens baie emosioneel laat.

“Ja, my pa was ook vir ons lief en het ons geleerdheid gegee. Daar was tye van geluk, maar dit was gekompartementaliseer in dae of beperk tot kwalik ’n week,” sê hy.

“Toe hy die laaste twee kinders op universiteit of kollege sou of moes sit, het hy van sy gesin weggeloop.

“Sy einde was tragies en absoluut hartver­skeurend: van trotse regop soldaat tot ’n hawe­lose tot ’n parapleeg nadat skollies hom uit ’n gebou in ’n Kaapse voorstad gegooi het.

“By sy hospitaalbed het ek – ek was al 38 – my pa, vir wie ek ’n heilige vrees gehad het, oor sy grys kop en maer gesig gevryf. Dit was die tweede keer dat ek uit my eie aan hom geraak het.”

Daar was positiewe manlike rolmodelle van ooms en ouer vriende, die buurman en sy vrou.

Julian voel baie sterk oor mentors wat ’n positiewe rol in veral seuns se lewe kan speel.

“Mentors het ons vier seuns se lewe gered en juis, ironies genoeg, deur my pa se aanvanklike inisiatief. Ons het aan sportklubs behoort: ek liggaamsbou, my broers is padvinders toe, het karate gedoen.

“Die Sondagskool en Kinderbond het ’n enorme rol gespeel. Ons het hier veerkragtig geword, glo ek. Daar was positiewe manlike rolmodelle van ooms en ouer vriende, die buurman en sy vrou. Moenie fout maak nie, ook die Suider-Strand-biblioteek het, soos die skool, ’n positiewe rol gespeel.”

Maar ’n pa kan blywend seermaak, sê hy.

“Die toksiese verhouding wat my pa met ons ses kinders en sy vrou gehad het, het feitlik onuitwisbare sielkundige letsels op ons gelaat, en vandag sal ek onbevange sê dat ons nie van alles herstel het nie.

“Dít is die somtotaal wat ’n pa se toksiese verhouding op sy kinders, meisies of seuns, kan hê. Dis ’n lewenslange erfporsie wat verwerk moet word. Ás mense dit wil of kan verwerk.

“So, dink nou indien nog sulke toksiese verhoudings met rolmodelle jou lewenspad kruis.

“Vermenigvuldig dié scenario met die getalle in ’n gemeenskap en jy kry dalk nie ’n baie goeie prentjie van hoe verwond ’n samelewing regtig kan wees nie.”

5 dinge wat Julian verstom
  • Hoe relatief onbelangrik en betekenisloos histories groot sportgebeure geword het vir die publiek, met die pandemie op sy felste.
  • Hoe die land van ’n pandemie gered word deur “gewone” mense: jou voorsteliniewerkers.
  • Hoe die betekenis van familie weer belangrik geword het tydens die pandemie.
  • Die skielike eindes van ’n geliefde of kennis se lewe weens covid. Dit het naby en hard geslaan.
  • Dat bendegeweld en daaglikse bendeverwante sterftes van jong mans lyk asof dit nie deur die pandemie geraak word nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe