There goes English teacher Deur Karin Cronje (Modjaji Books, R259*)

Dit is Karin Cronje se relaas van haar drie jaar as Engels-onderwyseres op ’n Koreaanse dorpie en later aan ’n universiteit.

boek,Karin Cronje
Voorblad van 'There Goes English Teacher'. Foto: Verskaf

Hoekom het jy die boek nie in Afrikaans ook geskryf nie?

My Afrikaanse en Engelse “stemme” verskil, en ek moes op een fokus. Die ongekende wêrelde van Engels was stimulerend. Ek sal dit wel nou graag in Afrikaans wil skryf – nie ’n direkte vertaling nie, maar ’n herskryf.

Ek voel onvas op my Afrikaanse skrywersvoete ná jare se skryf in Engels – ’n goeie ding, want die herontdekking sal moeilik wees, en ek sal nie in geykte dele van myself kan verval nie. Ek sal wil sien hoe die twee stories van mekaar verskil.

Jy skryf die kultuurskok in Korea het nooit opgehou nie. Maar ook jou tuisland se kultuur skok jou. Wat bly oor vir ’n mens?

Wat oorbly, is ’n wese wat jy nie ken nie, ’n ander jy. Dit is ’n ongemaklike situasie, maar dit bring die moontlikheid van vernuwing: om ongekende eienskappe in jouself te ontdek.

Stagnasie is ’n lelike ding, en kultuurskok raak ontslae van alle sufgetrapte paaie in jou. Jy is soos ’n slang wat vervel. Wel net met meer afgryse. Maar ek het weer aangepas, of liewer, ’n ander “ek” het aangepas. Dis dalk weer tyd vir ’n skok!

Wat was die pynlikste van jou ervarings waaroor jy in hierdie boek skryf?

Die lang proses wat gelei het tot die besef dat daar nie een vaste en durende “ek” is nie. Ek moes eers alle sekerheid verloor en daarmee saam die vasklou aan ’n identiteit, voor ek kon besef dat die wese hier nie iets konkreets is nie; dat ek maar net uit indrukke bestaan wat deurgaans verander. Eers het ek so geglo en gedink en nou so. Watter een van die weergawes van myself was die werklike een? Ons is soos wolke. Vlieg daardeur en jy besef jy het deur niks gegaan. Dit is vryheid.

Jy sê jy sal aanhou skryf sodat jy kan aanhou bestaan. Waaraan skryf jy dus nou?

André P. Brink het eenmaal gesê hy weet nie wat die moeilikste is nie – die skryf van die boek of die uitgee daarvan.

Teen die tyd dat jy publiseer, is jy so verlig dat die isolasie van die skryfproses op ’n einde is, dat jy nie op die uitkyk is na die volgende sarsie aanvalle nie.

Publikasie bring allerhande onwelkome emosies mee. Darem ook hoogtepunte en blydskap.

Dit is ’n intense proses wat jou in sy greep kry en geen ruimte vir iets anders laat nie. Gister nog het ek gesweer ek gaan nooit weer skryf nie. Maar ek was lanklaas so wakker soos ek nou is met die skryf van hierdie antwoorde. Die wêreld maak weer sin.

  • Karin gesels op 4 Maart by die Woordfees op Stellenbosch.

’n Skerfie glas Deur Erika Murray-Theron (Protea Boekhuis, R179*)

Die ondertitel van Erika Murray-Theron se nuwe boek is Elke Familie Het ’n Storie.

'n Skerfie van Glas
Voorvlad van ''n Skerfie Glas'. Foto: Verskaf

Ja, verduidelik sy aan ons: “Elke familie se waardes, tradisies, hebbelikhede, gebruike, letsels, hang-ups en maniere om konflik en uitdagings te hanteer, word geraak deur sowel hul eie geskiedenis as groter geskiedkundige gebeurtenisse buite hulself.

Hoe dit mense se besluite en optrede beïnvloed, fassineer my.

’n Skerfie Glas gaan nie oor denkbeeldige karakters nie, wel oor ’n werklike familie – my eie. Maar soms kan een familie se storie ook iets sinvols namens, oor en vír ander families vertel.”

Erika het op die spoor van haar ouma Isabella Malherbe gaan loop en deur “opdrifsels papier” gewaad. Haar beginpunt kry sy hier: “Issie het ligte hare. ‘My pa het my Belle genoem.’ ”

  • Erika gesels op 2 Maart by die Woordfees op Stellenbosch.

Sala Kahle, District Six Deur Nomvuyo Ngcelwane (Kwela, R159*)

Bladsy vir bladsy wag ek om te lees van die dag toe die stootskrapers gekom het, maar Nomvuyo Ngcelwane skryf nie hieroor nie. Sy skryf oor die wanopvatting dat Distrik Ses eksklusief deur bruin mense bewoon is.

distrikses
Voorblad van 'Sala Kahle, District Six'. Foto: Verskaf

“Daar word dikwels vergeet dat ons dieselfde sentimente oor die plek het as hulle. Hoe op aarde kan van my verwag word om 20 jaar van my lewe te vergeet?” vra die skrywer in haar voorwoord.

Agterin die boek, wat nou heruitgegee is nadat dit in 1998 die eerste keer verskyn het, gee sy dan ook ’n lys van die swart families en die strate waarin hulle gewoon het.

Die Ngcelwane-gesin – ma, pa en vier kinders – het in ’n kamer in Cross-straat gewoon en was deel van ’n lewendige en geordende gemeenskap waar mense ondanks armoede nie sommer honger gely het nie.

Sy skryf baie van die ouers het by die vars vrugte-en-groentemark in Sir Lowryweg gewerk en Vrydagmiddae gesorg dat die sakke gereed staan wanneer die kinders kom: “Ek weet nie of hulle as werknemers toegelaat is om vrugte en groente gratis te kry nie, al wat ek onthou is dat ons by verskillende mense langs is."

"Bhut’Gosa het vir ons vrugte gegee, Tat’uGaba het vir ons kool en wortels gegee en by Bhut’Michael het ons aartappels en uie gekry.”

Ondanks armoede het mense nie sommer honger gaan slaap nie

Die kruidenierswinkeltjies het aan Indiërs en Moslems behoort.

“Hierdie mense het presies geweet wie hul klante is en selfs die armstes in die gemeenskap kon bekostig om by hulle te koop.”

So is konfyt per eetlepel verkoop en vir ’n tiekie kon jy ’n drinkglas visolie koop. Die kinders was verstom om van mekaar se kultuur te leer: ’n Bruin bruidegom sou by sy skoonouers intrek terwyl net die teenoorgestelde in ’n swart huishouding gebeur.

Die besnydenis van Moslemseuns en die “bostoeganery” van 18-jarige swart seuns was ewe verstommend.

Nomvuyo skryf die kinders sou mekaar spottenderwys vra: “En hoeveel is een plus een in julle skool?”

Haar lieflike herinnerings aan ’n gelukkige kindertyd sluit sy af met net ’n bondige beskrywing van die gebeure in 1963 toe haar pa die brief ontvang het wat sou lei tot hul gedwonge uitsetting uit Distrik Ses en die skuif na ’n township waar almal ver van hul werk, skole en kerke was. 

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.