Die kind se naam is Anneke
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Juliana Coetzer (Human & Rousseau, R209*)

Wanneer ’n mens ’n roman lees wat vir jou te erg is, kan jy bloot die boek toemaak en wegstap. By jouself dink jy dan, ag nee wat, die skrywer gaan darem te ver.

Dit kan jy nie van Juliana Coetzer, ’n sielkundige, sê nie. Sy vertel net die verhaal van haar en Fanus se jongste kind en enigste dogter, Anneke, wie se lewe vir altyd verander is deur ’n waterpokkievirus wat haar brein aangetas het.

Anneke was ’n besonderse kind, soos blyk uit ’n terugflits waaroor Juliana skryf. Sy was sewe toe die gesin by ’n warmwaterbron gekuier het en Juliana haar laat die aand alleen op die supertube betrap het.

“Met groot oë het sy stadig, klouende aan die rand, afgegly. ‘Hoekom doen jy dit as jy so bang is vir hoogtes, en dít terwyl jy siek voel?’ het ek gevra. ‘Omdat ek nie ’n bang mens wil wees nie,’ het sy gesê. Met bewondering het ek na die woorde geluister. ’n Kind van sewe wat haar vrese in die oë kyk en oorwin.”

Dit is die toneel waarmee Bloedvreemd begin, die boek oor waar dit alles begin het en Anneke se geleidelike agteruitgang.

Omdat lesers graag wou weet wat van die gesin geword het en of hulle oukei is, het Juliana die opvolgboek geskryf.

“I love you forever now” is ’n skrynende sêding tussen ma en haar nou volwasse gestremde ­dogter.

“Ek moet die erkenning hiervoor gee vir my skoonsuster, Hendrien, wat dit die eerste keer gesê het,” vertel Juliana op my vraag waar dit vandaan kom.

“Dit beteken op hierdie oomblik het ek jou vir ewig lief, maar dit kan binnekort verander. Met Anneke is dit veral baie toepaslik. Ons ken dit al: ‘Ek is so lief vir Mamma.’ Kort voor lank: ‘Ma is ’n monster.’ ”

Anneke, wat vanjaar 31 word, se woedebuie het die lewe moeilik gemaak, om dit sagkens te stel.

Juliana beskryf hierdie uitbarstings met ’n eerlikheid waarvoor jy jou oë wil toedruk. Ek vra of lesers al negatief gereageer het.

“Werklik nog nooit. Met Bloedvreemd het ek gedink mense gaan my kruisig, maar daar was nooit enige negatiewe terugvoer nie. Inteendeel, mense se begrip en liefde het my oorweldig.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

“Ek wag met ingehoue asem op terugvoer op Die kind se naam is Anneke en hoop die lesers is my genadig. Hierdie boek wys my donker oomblikke baie meer intens en beskryf situasies wat die potensiaal het om my in die spervuur te plaas. Maar ek hoop mense sien die hele prentjie, nie net die donkerte nie, maar ook die boodskap van liefde vir my kind.

Juliana Coetzer. Foto: Verskaf
Juliana Coetzer. Foto: Verskaf

“Daar word dikwels melding gemaak van my eerlikheid. Ek voel daar is geen sin daarin om ’n boek oor die pad met ’n siek en eindelik gestremde kind te stap as die vertelling nie die volledige prent skets nie,” sê Juliana.

“Eindelik glo ek dit gaan nie oor die eerlikheid nie, maar oor die moed om openhartig oor jou gedagtes en gevoelens te praat. Mense is so bang wat ander van hulle dink – ek het met daardie vrees binne my geskryf tydens elke sin in Bloedvreemd. Dit was ’n vrees wat ek oorwin het. Daarom was dit makliker in die nuwe boek.”

Die boek eindig met ’n kragtige droom, en ek vra of drome ’n rol speel in haar lewe.

“Ek is ’n getroue Jung-navolger; daarom speel drome ’n rol in my lewe, hoewel ek moet erken dit is deesdae nie meer so allerbelangrik nie. Jare gelede was drome ’n belangrike rigtingwyser. Ek het die ‘groot drome’, soos Jung dit beskryf, almal neergeskryf. En wanneer daar ’n verandering in my lewe plaasgevind het, het die droom dit beklemtoon,” verduidelik sy.

Ek moet die geluk self skep. Daarna was dit ’n bewustelike besluit om blydskap te behou en die genot in die lewe te ervaar.

“Die droom wat ek in die boek beskryf, was van deurslaggewende waarde omdat dit my getroos het. Dit was die waterskeiding-oomblik. Daarna kon ek die situasie met Anneke aanvaar.”

Juliana sê mense hoef nie te dink haar en Fanus se lewe is swaar nie. Sy vertel van ’n keer waar sy in Nigerië kinders langs stofstrate sien sing en dans het.

“Ek het my verwonder. Daar moet meer wees aan die lewe as hartseer en kwaad, het ek vir myself gesê. Ek het vreugde begeer. En toe besef ek, as dit van my omstandighede afhang, sal ek nooit gelukkig wees nie. Ek moet die geluk self skep. Daarna was dit ’n bewustelike besluit om blydskap te behou en die genot in die lewe te ervaar.

“Gelukkig het ons ook twee seuns vir wie ons die lewe wou goed en lekker maak. Vriendskap is vir my ontsettend belangrik en ek kuier graag saam met my vriendinne. Ek behoort aan ’n boekklub wat my baie plesier verskaf, en ek en Fanus verken nuwe plekke.

Ons kan ons nie met nonsens ophou nie en verwonder ons aan mense wat van klein dingetjies ’n drama maak.

“Ek het al elke emosie onder die son ervaar. Maar steeds kies ek blydskap.”