Jungu Josh: Die goue kalbas en Die kryger van Aboemondja
Constant van Graan. Foto: Wihan Bester
Constant van Graan. Foto: Wihan Bester

Deur Constant van Graan (Tafelberg, R200* elk)

Die tou is steeds te kort. Hy pluk verwoed daaraan, maar dit help nie. Dan onthou hy van die knoop om sy middel. Met desperate hande probeer hy die tou losmaak.

Hy maak sy mond oop en met bultende nekare gee hy ’n klanklose gil van frustrasie. Uitasem hang hy soos ’n hulpelose hoender wat gereed is om verkoop te word by die Bodonga-mark. Ná ’n ruk sê hy saggies vir homself: “Jy is Joshua McGreer, seun van Silvia McGreer. Jy het ’n woedende buffel in die grond in gestoei, die gevreesde Mabandiberge aangedurf en gehelp om die bose heks te vang. Jy is tot enigiets in staat—”

Sy toespraak aan homself word deur ’n skraapgeluid onderbreek. Hy loer onderdeur sy kieliebak. Reg bo hom, op die tak, sit Njeri en maak haar panga se lem skerp met ’n klip. As hy nie onderstebo gehang het nie, het hy sy tong ingesluk.

“Njeri, asseblief, moenie!” Josh is 13 en koning van Kalimbula. Njeri is een van sy drie vertrouelinge – nie dat ’n mens dit kan glo as jy verder lees hoe sy met haar panga sy tou deurkap sodat hy hom winduit op die grond val nie!

Waar kom ’n dosent in forensiese rekeningkunde aan die Noordwes-universiteit aan so ’n eksotiese verhaal?

Constant van Graan vertel: “Ek wil net sê ek gee darem nie net klas nie! Ek het ook ’n deeltydse musiekprojek, Pelican State, en ons tree gereeld by feeste op. Die Josh-stories is ’n kombinasie van herinneringe aan vakansies in die Krugerwildtuin en Etosha, my liefde vir magiese kinderverhale en heelwat eienaardige gedagtes in my onderbewussyn.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

“Maar dit was eindelik ’n hewige familiedebat aan etenstafel een Desembervakansie wat die openingstoneel van Jungu Josh geïnspireer het. Vandaar het die storie natuurlik gekom.

“My besluit om die verhaal in Oos-Afrika te laat afspeel, het baie te doen met ’n Keniaanse vriendin van my. Sy behoort aan die Kikuyu-stam, en haar stories oor Oos-Afrika en die mense het my meegevoer.

“Ek het daarna baie navorsing oor die verskillende stamme, diere en plekke gedoen, maar omdat die verhaal magiese realisme is, kon ek baie van my eie idees bywerk. Die hoofstam van die boek praat byvoorbeeld Magani – ’n taal wat ek self geskep het.”

Jungu Josh is ’n trilogie, en Constant skryf op die oomblik aan nommer drie. Hy vertel hy het hom nog altyd aan stories “oorgegee”.

“Ek onthou, pleks van slaap het ek my oë toegemaak, gewag dat my dagmoeder weg is en dan rondgerol en nuwe stories uitgedink om die middagslapietyd om te kry. Later het ek kortverhale begin skryf, en as jong werkende het skryf my ontvlugting geword.”

Hy was as kind ’n boekwurm.

“Ek het ure aan Cor Dirks se Die Uile gelees en later Roald Dahl se kortverhale en Neil Gaiman se fabels begin versamel. Dan het Reza de Wet se stories my meegevoer: Ek het Drif oor en oor in gr. 7 gelees, en Nag, Generaal is een van my gunstelinge.”

Hy sê hy skryf Jungo Josh vir alle 10- tot 14-jarige seuns en meisies wat avontuurstories gebruik om van die alledaagse, vervelige verantwoordelikhede te ontsnap.

“En kom ons wees eerlik – daai verantwoordelikhede begin ophoop!”

View this post on Instagram

Jungu Josh: Die Goue Kalbas

A post shared by Constant van Graan (@constant_van_graan) on

Die Elle-reeks Omnibus 2
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Christien Neser (Lapa Uitgewers, R269*)

Die volgende drie boeke van Christien Neser se gewilde Elle-reeks is nou beskikbaar in ’n omnibus. Hierdie titels is: Rocksusters, Duinebesies en Franse vlegsel.

In Rocksusters sien Elle uit na die Musikanto-fees wat Oktober in Parys plaasvind – al is dit Parys aan die Vaalrivier. In Duinebesies moet sy die Desembervakansie saam met haar oom Eddie en sy navorsingspan Namibië toe gaan terwyl hulle goggas vang.

In Franse vlegsel leer die gr. 11’s hoe om hul hare in Franse chignons te dra. En twee uitruilstudente uit België stuur skokgolwe deur die skool.

Thomas@-omnibus
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Carina Diedericks-Hugo (Lapa Uitgewers, R269*)

Hier is vier van die gewilde Thomas@-stories in een dik boek uitgegee. In Thomas@geraamte.net sien hy uit na ’n skooltoer na Namibië, maar ’n telefoongesprek wat hy hoor, kan sake laat ontspoor.

In Thomas@rock-ster.net begin sy vriende ’n band sonder hom, en hy voel natuurlik goor verby.

In Thomas@vrees.net moet sy gesin ekstra beskerming kry teen “die gevaarlike Rus” en in Thomas@skaduwee.net los Thomas se meisie, Alex, hom – plus die skoolhoof en twee boelies vergal sy lewe.