The Last Elephants
Die idee vir die boek het oor ’n koppie koffie ont
Die idee vir die boek het oor ’n koppie koffie ontstaan nadat die uitslag bekendgemaak is van die Olifante Sonder Grense-sensus onder savanna-olifante

Saamgestel deur Don Pinnock & Colin Bell (Struik Nature, R375*)

“Toe ek gebore is, was daar ’n miljoen olifante in Afrika. Toe my dogter, Charlotte, in 2015 gebore is, het die getal savanna-olifante tot net 350 000 gedaal. Gemeet aan die huidige tempo waarteen stropery plaasvind, sal die Afrika-olifant teen haar 25ste verjaardag uit die wildernis verdwyn het.”

So skryf prins William, die hertog van Cambridge, in sy voorwoord tot die boek The Last Elephants.

Die titel word nie as ’n feit gestel nie; eintlik kort ’n vraagteken, want die skrywers, Don Pinnock en Colin Bell, spreek die wens uit dat dit nie profeties sal wees nie.

“Ons hoop nie so nie, maar die tekens is kommer­wekkend.”

Die idee vir die boek het oor ’n koppie koffie ontstaan nadat die uitslag bekendgemaak is van die Olifante Sonder Grense-sensus onder savanna-olifante. Hiervolgens word drie olifante elke uur êrens in Afrika doodgemaak.

Pinnock en Bell het gewonder of hulle mense se hulp kon vra vir ’n boek wat olifante se storie sou vertel.

“Sou hulle bereid wees om hul tyd, woorde en foto’s te skenk? Ons het ’n e-pos geskryf, dit gerig aan mense oral ter wêreld wat ons geweet het by olifante betrokke is en die stuurknoppie gedruk. Die reaksie was aangrypend.”

Skryfstukke het ingestroom, ook foto’s deur topwildfotograwe wat almal hul werk gratis aangebied het.

Die eindresultaat is ’n pragtige, dik boek op glanspapier gedruk met besonderse foto’s en skryfwerk deur meer as 40 navorsers, natuurbewaarders, digters, aktiviste en veldwagters oor die lot van olifante, maar ook die sukses met hul bewaring.

Hier is enkele aanhalings

“Die generasie wat die omgewing verwoes, is nie die generasie wat die prys betaal nie. Dit is die probleem.” – Wangari Maathai

“Olifante is ’n aanduider-spesie, groot, grys spieëls van die lot van alle ander wilde spesies. As ons nie so ’n groot dier kan beskerm nie, hoe kan van ons verwag word om die klein goedjies te beskerm?” – Dr. Ian McCallum

“Ek wil nie oordryf nie, maar troppe van 500 tot 600 olifante was gedurende die twee laaste droë seisoene ’n algemene gesig by Horseshoe Bend in die voormalige Caprivi-­strook. Asemrowend.” – Dr. Paul Funston

Stuarts’ Field Guide to National Parks & Nature Reserves of South Africa
Verwag meer as 900 volkleurfoto’s, plantegroeikaar
Verwag meer as 900 volkleurfoto’s, plantegroeikaarte, diere, geologie en veel meer

Deur Chris & Mathilde Stuart (Struik Nature, R279*)

Chris, ’n ekoloog, en Mathilde, ’n dokter, reis die wêreld vol. Hulle het al ver­skeie boeke agter hul naam, onder meer die gewilde Field Guide to the Mammals of Southern Africa.

In dié bygewerkte weer­gawe van hul boek oor parke en natuurreservate behandel hulle 43 plekke wat hulle volgens provinsie indeel.

Verwag meer as 900 volkleurfoto’s, plantegroeikaarte, diere, geologie en veel meer.

Een van die minder bekende reservate in die boek is die Goegapreservaat naby Springbok. Gaan hierheen vir ’n skouspel van lenteblomme.

Die Witsand-­natuurreservaat is in die omgewing van Postmasburg en Groblershoop. Hier kan jy jou verlustig in ’n afgeleë sandduinstelsel wat ryk lewe huisves.

Baie waardevol is die identifikasiegids agterin die boek waar foto’s en name van voëls, soogdiere, amfibieë, reptiele, blomme en bome aangegee word.

Field Guide to Wild Flowers of South Africa
John Manning het sy gewilde gids bygewerk en dek m
John Manning het sy gewilde gids bygewerk en dek meer as 1 100 floraspesies

Deur John Manning (Struik Nature, R339*)

Wil jy meer weet van die stompie en sy maat, die rooistompie? Of is dit die geelmagriet en haar tante, die grootbergmagriet, wat jou verwonder? Dalk die perskalkoentjie en die suiker­kannetjie?

Of as jy nie weet hoe om jou troeteldier te doop nie, kan dié boek help met voorstelle soos geeltjienk, sent­kannetjie of skietpit.

John Manning, ’n gerekende botanis verbonde aan die SA Nasionale Biodiversiteitsinstituut in Kaapstad, het sy gewilde gids bygewerk en dek meer as 1 100 floraspesies. Sy fokus is hier op die algemeenste plante van die streke wat hy bespreek.

Hy verduidelik hoe ’n mens die boek moet gebruik om ’n plant te identifiseer, van die groep waartoe dit behoort (bl. 25) en die fotogids (van bl. 26) tot die beskrywings van families (van bl. 32), en dan kan jy na die relevante familie in die hoofdeel van die boek blaai.

Lesotho en Swaziland se veldblomme is ook in die boek ingesluit.

Field Guide to Succulents in Southern Africa
In die boek is meer as 1 700 kleurfoto’s van meer
In die boek is meer as 1 700 kleurfoto’s van meer as 700 van die algemeenste vetplante wat in Suider-­Afrika voorkom

Deur Gideon F. Smith, Neil R. Crouch en Estrela Figueiredo (Struik Nature, R329*)

Dié boek het reeds in 2017 verskyn, maar is nou in die kol vir ons almal wat anders moet begin tuinmaak met droogte wat deel van ons lewe word.

Vetplante kom voor in baie vorms en groottes; van bome soos die kremetart wat langer as 20 m kan word tot die kleinste miniature op die grond wat soos klein klippies lyk.

In die boek is meer as 1 700 kleurfoto’s van meer as 700 van die algemeenste vetplante wat in Suider-­Afrika voorkom.

Om een voorbeeld uit te lig: Die Scaevola plu­mieri is iets wat die meeste van ons al gesien het – die strandplakkie, nie die een wat jy aan jou voete dra nie; die een wat so welig op seeduine groei.

Hy sal nie tuis voel in jou tuin nie, want hy het spesifieke maritieme toestande nodig. Sy blare is immuun teen die strawwe kuswinde, die see se soutsproei en die son wat op die blootgestelde duine brand.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.