Dit verbaas haar altyd dat die spelling van haar van soveel aandag trek, vertel dr. Meg Vandermerwe.

“Dit is kleintyd verander toe ons in Switserland gewoon het. My ouers het die wêreld vol gereis en lug­rederye en maatskappye het hulle gereeld bespreek onder V(an) of M(erwe) of selfs D(er).”

Sy was sewe toe die gesin na Switserland emigreer en het 22 jaar later besluit om terug te keer na Suid-Afrika, waar sy nou skeppende skryfwerk doseer aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Meg vertel haar Afrikaans is nie goed genoeg dat sy die vertaling van The Woman of the Stone Sea kon nagaan nie. Haar roman het tegelykertyd in albei tale verskyn.

’n Afrikaanse skrywersvriendin het haar hier geadviseer en al twee was dit eens dat Kirby van der Merwe, ook ’n skrywer, se vertaling puik is.

Dis die verhaal van Hendrik, ’n kreefsmous aan die Weskus, wat ’n beseerde meermin uit die see red.

Dit gaan nie goed met hom nie, want nadat sy vrou, Rebekkah, vyf jaar tevore verdwyn het, het hy hom teruggetrek in sy huisie, waar wyn sy enigste metgesel word.

Maar Sara en die meermin dwing hom uit sy (on)gemaksone.

Meg beantwoord drie vrae

Hoe ken jy die Weskus en sy mense en die manier waarop hulle praat so goed?

Ons gesin het ’n strandhuis op Paternoster gehad, maar dis nie die dorpie in die storie nie. Ek het ook ander bruin vissersgemeenskappe aan die Weskus besoek en beluister en uitgevra en dopgehou.

Al is my Afrikaans nie wonderlik nie, kry ek dit blykbaar reg om die melodie of geur van mense se spraak en hul spesifieke frases raak te hoor.

Ek het dieselfde gedoen vir my vorige roman, Zebra Crossing, wat vertel word deur ’n Zimbabwiese vlugteling met albinisme. Ek gee altyd die manuskrip vir mense van die gemeenskap of mense wat met hulle te doen het om te kyk of die stemme eg klink.

Jou hoofkarakter is ’n bruin man. Hoe het jy as wit vrou dit reg­gekry om jou in sy skoene in te dink?

Ek weet daar is tradisionele postkoloniale denkrigtings wat baie krities is oor dié soort ding. Ek kan dit begryp aangesien daar in die verlede dikwels na “die ander” op ’n neerbuigende en stereotiepe manier verwys is. Maar ons is nooit presies een van ons karakters nie.

Gender, klas, ouderdom, sek­sua­liteit, persoonlikheid, tyd en plek vereis alles van ’n skrywer om verbeeldingspronge te maak. Ek dink as jy dit vanuit ’n posisie van nederigheid doen, keer dit dat jy die karakter se eie stem en identiteit uitdoof.

Van watter toneel in die boek hou jy die meeste?

Daar op die strand waar Sara en Hendrik gaan vis en tjips eet op hul anti-Valentynsdag-piekniek. Dis ietwat van ’n ramp, want Hendrik is koppig en omgesukkel, maar ek bewonder Sara omdat sy soveel geduld en deernis met hom het.

Dis wat iemand wat regtig vir ons lief is, doen wanneer ons aaklig is.

’n Uittreksel uit Die Vrou Van Die Klippesee

Ja, sy lewe nog. Hy was nie seker of sy nog gelewe het toe hy haar, toegewikkel in ’n stuk seil, soos ’n bruid in die maanlig oor die huis se drumpel gedra het nie.

Maar nou, in die bad, nadat hy die seil eenkant toe gegooi het en terwyl Jakkals daaraan krap, sien hy haar borskas op en af dein, al maak sy nog nie haar oë oop nie.

Hulle het sowaar harte en borste, nes Rebekkah gesê het. Nes gewone vroue, ondanks die groot visstert. Nogal lekker stywe tieties ook.

Sy was bewusteloos toe hy haar tussen die rotse gekry het, stokstyf, en hy het gedink as sy nie klaar dood is nie, is sy vinnig op pad soontoe as hy nie gou iets doen nie.

Hy het haar met see­water natgespat, haar in die seil toegedraai en in die bakkie weg­gesteek en huis toe gehardloop om die Toyota te kom haal.

Die hele pad huis toe het sy hart in sy keel geklop. Het sy gewag vir Rebekkah om huis toe te kom hom uiteindelik mal gemaak? Sy gumboots het in die sand gegly sodat hy probeer het om op die harde stroke nat sand te hou.

By die huis gekom, gryp hy die Toyota se sleutels van die tafel af en jaag reguit terug om ’n ogie oor die watervrou te gaan hou. Die aand, in die donker, sal hy haar veilig na sy huis toe kan bring. Dan slaap die bure en is daar net enkele rygoed op die pad.

Later laai hy die slap skepsel op die agtersitplek van sy kar met nog ’n stuk seil onder haar om die stoffering te beskerm.

Hy weet die kreatuur hou op een of ander manier verband met sy vrou.

Rebekkah het stories oor sulke wesens vertel. Sy sou in die donker langs hom gelê het en dan dromerig sê: “As ’n kind op die plaas het Ouma my stories oor watermeide vertel. Toe ek klein was . . . ­ later as ’n jong meisie, was dit wat ek wou wees. Mooi en vry in die water soos hulle.”

Dan het hy op sy sy gedraai en sy hand op haar maag gesit. Eendag gaan dit swel van sy saad. Hy stel hom voor hoe dit gaan voel om sy kind se hart deur haar vel te voel klop, onder die litteken op sy gewrig waar hy dit eenkeer in die visnet gehaak het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.