Ek onthou: ’n outistiese seun se lewensreis
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Anton Müller (Flyleaf, R286*)

Anton Müller op sy fiets is ’n bekende gesig in Stellenbosch se strate, maar meer nog in die dorpsbiblioteek waar hy al langer as 40 jaar werk. Hy is as sy ouers, Bethel en ­Helen, se eersteling gebore.

Anton was “in sy eerste lewensjare ’n soet en oënskynlik normaal aangepaste kind en opvallend slim. Ons pa en ma het hom net een keer ’n ding gewys en hy het dit verstaan,” skryf sy drie jonger broers in die voorwoord.

Maar op drie verander alles toe Anton se wêreld in duie stort.

“Skielik kon hy nie meer beheer word nie. Niemand kon verklaar wat aan die gebeur was nie.” Kort daarna kom die diagnose: outisme. In daardie jare was kennis hieroor nog nie so algemeen beskikbaar nie en blykbaar was daar familie en vriende wat gemeen het Anton moet net met ’n stewiger hand gedissiplineer word.

In sy outobiografie, Ek onthou: ’n Outistiese seun
In sy outobiografie, Ek onthou: ’n Outistiese seun se lewensreis, deel Anton Müller sy reis met outisme. Foto: Verskaf

“Ons ma het egter dié gedisoriënteerde bondeltjie van ’n mens geneem en besluit om hom ’n waardige lewe te probeer gee. Anton moes op sy eie bene kon staan en leer om onafhanklik te wees. Bowenal moes hy ’n aanwins vir sy gemeenskap word.”

En daarin het Ma-Helen, soos hy na haar verwys, so goed geslaag dat hy ’n normale matriek geslaag het en as volwassene op sy eie kan woon en ’n salaris in die biblioteek verdien.

Ek het die boek in een sitting gelees, maar het ná ’n paar bladsye gewonder hoeveel hiervan is Anton se skryfwerk, en hoeveel het ander mense hieraan gekarring.

Ek kry die antwoord in ’n ander voorwoord, dié een geskryf deur Bun Booyens, ’n ou skoolmaat van Anton en teks­redakteur van sy outobiografie.

So verduidelik hy: “Ons rol was om ­Anton se teks tot ’n geheel saam te voeg, ekstra inligting by vriende en familie te kry en dan opsy te staan sodat hy sy verhaal in sy eie woorde kan vertel. En hy doen dit op ’n manier wat my vandag laat skaam voel oor die mate waartoe ek en waar­skynlik talle ander deur die jare die kleurryke innerlike lewe van ’n outistiese kind soos Anton onderskat het.”

Bun verduidelik ook die ouwêreldse “Anton-dialek” wat gevorm is deur jare se lees van NG Kerk-­jaarboeke. En dan die argaïese boekwoorde wat hulle as skoolmaats grappenderwys gebruik het, byvoorbeeld “doneer” vir “skenk” en “trawante” vir “maats”.

Ek was nie goed in wiskunde nie, maar ek is weer goed om datums te onthou, wat hy nie kan doen nie. Hy het nie my talente gekry nie, wat my laat besef het dat ek ook dan slim is.

Anton kan alle belangrike datums onthou en kan ook sê op watter dag van die week enige datum val.

Hieroor skryf hy: “Ek het al twee keer na die film Rain Man gekyk. Die eerste keer was die 19de April 1989. Ek het baie geleer en ek is trots om my te vereenselwig met Rain Man. Ek kan sien dat ek nie sy gawes in die lewe gekry het nie. Hy was slim en hy was byvoorbeeld goed in wiskunde.

“Ek was nie goed in wiskunde nie, maar ek is weer goed om datums te onthou, wat hy nie kan doen nie. Hy het nie my talente gekry nie, wat my laat besef het dat ek ook dan slim is.”

Anton se lewensverhaal in sy eie woorde moenie misgeloop word nie.

Op pad deur Betlehem
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Engela Linde (Lux Verbi, R159*)

“Met die skryf van hierdie stiltetye hoop ek om van my eie verdiepte insigte te deel. Onder meer: Hoe kon die verbondsvolk se woestynreis so lank duur? Hoe kon Simson 300 ­jakkalse vang? Waarom het Hosea so ’n tragiese liefdeslewe gehad? Waar presies was die ‘oorkant’ waarvan ons lees in die eerste wonder­spysiging?”

One does not love a place less for having suffered in it.

So skryf Engela Linde in haar voorwoord tot Op pad deur Betlehem.

Hierin is 66 stiltetydoordenkings wat strek van Genesis tot Openbaring. Haar skrywes is deurspek met vertellings uit haar eie lewe, historiese inligting en ander interessante verwysings soos in die geval waar sy oor Filippense 4:13 skryf: Sy vertel van haar eie aanneming toenterjare en gaan draai by die tronk waar Paulus en Silas ge­gesel is en wat vandag ’n Unesco-­wêrelderfenisgebied is.

Hier haal sy Jane Austen aan wat geskryf het: “One does not love a place less for having suffered in it.”

Ware spookverhale van Suid-Afrika
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Daniël Lötter (Protea Boekhuis, R250*)

“Opgedra aan die geheimsinnige krulkopdogtertjie met die geruite rompie en die rooi ferweelbaadjie wat by die Polisiekollege op Oudtshoorn dwaal. Sy was my eerste besoeker uit die skemerland. Ek weet tot vandag toe nie wat sy vir my wou sê nie.”

Hiermee maak Daniël Lötter seker dat almal met ’n belangstelling in spookstories dadelik wil induik in sy boek waarin hy ’n klomp “ware” ­Afrikaanse verhale opgeteken het – bekendes, minder bekendes en onbekendes.

Dis ideale leesstof vir donker, maanlose aande.

Hy het drie dekades lank hieraan bymekaargemaak – stories wat mense hom vertel het, dié wat hy self deur navorsing opgediep het en dié van “inwoners van die skemerland” wat self aan hom verskyn het.

Van die karakters is mev. Van As en haar goëlgees, Anita en haar blou trui, Koos Arangies en die ontmoeting in die woestyn, die dokter met die mooi oë en prof. P.J. Nienaber en sy afkopspook.

Dis ideale leesstof vir donker, maanlose aande.

* DIE PRYSE WAS KORREK TEEN DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe