Tebatso gaan see toe

Deur MAYA FOWLER (Protea Boekhuis, R190)

“In my grootwordtyd, in my milieu, was dit alledaags om voltydse huis- of tuinwerkers te hê. Wanneer ’n mens deur fotoalbums blaai, sien jy hierdie mense gedeeltelik, soms op die agtergrond en soms as net ’n hand wat jou as klein kindjie vashou,” vertel Maya Fowler.

“Een Saterdagmiddag in die Kaap (sy woon deesdae in Kanada) het ek gaan lê vir ’n middagslapie, en net voor ek insluimer, het ek gewonder hoe dit sou wees om die verhaal van ’n vakansie by die see deur die oë van so ’n huiswerker te sien. Ek het die idee in my dagboek neergeskryf en weer gaan lê.”

Die idee het Maya se nuutste roerende roman, Tebatso Gaan See Toe, geword.

’n Uittreksel uit Tebatso Gaan See Toe

“Maar kyk nog die son, ’Batso,” kla klein Lennie toe sy hom uit die bad het. Die groot blou oë is nog baie wakker. Hoe gaan sy maak?

Sy kry hom in sy slaapklere in en dra hom sitkamer toe, waar sy voor badtyd die slaapsakke oopgerol het sodat dié wat kom slaap darem nog naby aan die geselskap kan wees.

Daar gekom, trek sy die stokies van die pienk voetjies af en sit hulle netjies eenkant.

“Hoekom net ek slapies?” vra hy terwyl sy hom in die slaapsak neerlê. “Is nie reg nie!” Sy stem saam, want gewoonlik is dit hy en kleinmies Engela al twee wat vroeg moet slaap, maar dié het heeltemal te lank geslaap vanmiddag – en klein Lennie glad nie.

Sy sê maar net “Ai, ou klein seuntjie”, rits die slaap-sak toe en plaas die teddie wat Vader Krismis gebring het in sy arms.

Dan streel sy oor die kind se voorkop en die bruin haartjies, en dit laat darem die oë knip, daardie welige wimpers, so donker en lank, dis eintlik ’n vermorsing aan ’n seunskind.

Sy sal ’n storie vertel. “Luister,” sê sy, en bly die haartjies streel. Sy maak haar oë toe en verbeel haar dis ’n ander kindjie, die een met die gladste velletjie in die hele wêreld, die een wat soos kaneel en seep ruik.

Wat maak sy vanaand? Is sy ook al in die bed? En wat gaan Phuleng maak met die malvalekkers en panties wat mies Sandra toegedraai het: Vanaand laat oopmaak of môreoggend?

En sy begin: “Ver, ver van hier, in die ou Vrystaat, is daar ’n klein huisietjie met ’n strooidak.” “Die Vrystaat,” herhaal hy. “Die drie kindertjies wat daar woon, is twee seuntjies en ’n klein ou dogtertjie. En hulle name is Sidi en Nkwenkwe en Momo. En hulle was baie gelukkige kindertjies, en nooit alleen nie.”

Die kind se asemhaling is al klaar langer en stadiger. Hy knip sy oë.

“Maar eendag, toe kom daar ’n baie sterk wind, en die wind wil hulle mamma sommer wegblaas. En toe sê hulle mamma ’nee, Wind, nee, vir my moet jy nie skep nie!’ En die mamma het gehuil, en klein Momo het gehuil. Maar Sidi en Nkwenkwe, hulle was al amper groot seuns, en hulle was baie slim.” Knip-knip die ogies.

“Die wind het bly trek, en hulle mamma het bly vasklou: aan die bome en die deurkosyn en die hoenderhok. Hulle het geweet hulle moet wag vir die aand. Daardie hele dag lank het hulle ’n tou gevleg. Dit was ’n towertou, die langste tou in die hele wêreld, lank genoeg om in die hemel in te gaan.”

Sy skep asem. Die kind lê stil.

“En toe hulle hom lank genoeg het om twee keer om die maan te gaan, toe weet hulle die tou is reg. En daardie aand, toe die sterre uitkom, kies hulle die mooiste en die blinkste een vir hulle mamma. En toe gooi Nkwenkwe die tou, want hy het ’n baie lekker krieketarm, en die tou toor homself vas aan die ster, nes hulle hom gesê het hy moet. En toe gaan kry hulle hulle mamma waar sy aan ’n hek vasklou teen die nare wind, en die towertou bind hulle aan haar hart vas.”

So vinnig. Die ogies is nou heel toe, maar sy gaan voort. “En van daardie dag af weet hulle, al skep die wind hulle mamma en neem haar waar ook al, haar hart is altyd by hulle, want hy is vas aan daardie ster bokant hulle drie kinders se koppe.”

’n Hele paar minute sit sy daar. Klein Lennie se arm hang al lankal slap langs die beertjie, maar sy bly sit.

Twee kortes

Briewe Uit Brielshoop

Deur HELENE OLIVIER (Protea Boekehuis, R205*)

“Ek is ’n mens van papier, ek verkeer makliker op papier in die nanag in my kantoortjie as in enige sitkamer. Daar word ek onhandig en onkapabel om die minste te sê. Beeste is makliker as mense.”

Dié heerlike boek bestaan uit briewe wat Henna aan haar ou universiteitsvriendin Ida, ’n joernalis, skryf. Henna en haar man droom van ’n rustige plaaslewe, maar toe Henna onverwags ’n plaas erf, is sy die een wat stokalleen moet begin boer.

Haar man, Stone, is ’n suksesvolle ginekoloog in die stad en kry selde kans om hand by te sit. Tussen vee koop en versorg, filosofeer Henna saans in haar briewe oor diepsinnighede, onder meer hebsug: “Aag, ons het klaar ons siele aan die duiwel verruil.”

Sy skryf dat die Mercedes ons ikoon geword het terwyl ons kunstenaars en digters – “die laaste profete van die moderne tyd” – sterf van honger. Mag dié skrywer genoeg te ete hê.

Retoer

Deur MARITA VAN DER VYVER (Lapa, R149*)

“Kom ons sê maar die rubrieke en essays en herinneringe wat meestal die afgelope paar jaar in tydskrifte, koerante of op die internet verskyn het, is vingeroefeninge vir die ‘regte memoires’ wat ek nog eendag wil skryf,” sê Marita van der Vyver in haar voorwoord.

Dis nie ’n amptelike outobiografie nie, want “daarvoor voel ek steeds te jonk!” sê die skryfster wat onlangs 60 geword het. Die leser stap saam met haar van haar jeug, haar studentedae en later tot sy en haar seun Frankryk toe verhuis waar sy trou met haar geliefde Alain en hulle saam ’n huis vol seuns en een dogter grootmaak.

Dis egter veel meer as Marita se lewensverhaal; dis ook mymeringe oor dinge wat ’n vrou oorkom, wat haar hart breek of haar hoop gee. 

* Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. 

Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.