Brand

Deur PEET VENTER (Lapa, R245*)

“Ek wou wegkom van die stereotipe: die suipende, fuiwende speurder met huweliksprobleme,” vertel Peet Venter van Thys Krige, wat vir die vyfde keer die hoofrol vertolk in een van sy spanningsromans.

“Daarom het ek Thys ryk gemaak en hom uit die polisie gehaal. Sy metodes is onortodoks. Hy is ’n hanetreetjie weg daarvan om as ’n moordenaar te kwalifiseer, wat hom dikwels tot ernstige introspeksie dwing.”

In Brand raak Thys betrokke by komplotte op regeringsvlak, maar daar is ook drie vroue wat deel van sy lewe word. Een van hulle is Karen.

“Dis maklik om deure oop te breek en links en regs te skiet, skop en donner. Maar wat doen ’n man as jou suster, die enigste wat jy in jou lewe oorhet, agter een van daardie deure staan?” dink Thys.

Peet, wat al ’n groot groep getroue lesers opgebou het, sê hy het nooit ’n skryfkursus gedoen nie. “Ek skryf al van jongs af en het dit maar so deur die jare bly slyp, maar ’n mens bly jou lewe lank ’n vakleerling.

“Ek skryf meestal misdaadspanning, maar het ook al avontuur, misterie, geskiedenis, romanse en humor gepubliseer.” Hy werk nou aan ’n roman waarin ’n nuwe karakter sy verskyning gaan maak.

“Hy verskaf my baie plesier. Jaap ‘Boel’ Helberg. Die Boel is kort vir boerboel, wat selfverklarend is.

“Hy is ’n speurder en gesinsman wat op sy onhandige manier sy weg deur die lewe probeer vind. Een fout wat mense maak, is om te dink hy is dom omdat hy groot en lelik is.”

Peet, wat twee jaar musiek studeer het aan die PUK-konserwatorium, het later ontwerptegnikus by ’n ingenieursfirma in Pretoria geword. Hy is afgetree en skryf agt uur per dag – “langer wanneer ek navorsing moet doen”.

PEET SE GUNSTELING-KARAKTERS IN BRAND

“Dis moeilik om een te kies. Ek loop reeds ’n lang pad met ou Thys. Hy is al soos familie. Selfs die liewe, sagte Liesl. Maar in die geval van Brand is dit beslis Delaré Brand, die gebroke genie.

“Sy het van kleins af nie ’n kat se kans in die lewe gehad nie. Haar dominerende tweelingbroer het haar onderdruk. Haar ouers het nie gehelp nie. Sy leef met ’n selfverwyt oor haar broer se dood en probeer hom in haar lewend hou – wat beteken sy onderdruk haarself.

“Eindelik wen haar broer. Delaré leef nog, maar is nie meer Delaré nie. Dis moeilik, selfs gewaagd, vir ’n man om ’n vrouekarakter te pak. Maar ek dink met Delaré het ek iets reggekry wat ek nie weer maklik sal nie.”

JOHANNA

Deur CAS WEPENER (Protea Boekhuis, R195)

Wie sou eerste gekom het? Het Cas Wepener eers die karakter Johanna uitgedink of het hy na Irma Stern se skildery Eternal Child gekyk en toe besluit om ’n verhaal te versin?

“Johanna was eerste, maar terwyl ek al ’n ent weg was met die storie, het Stern se skildery, waarvoor ek besonder lief is, na my gekom – daardie onpeilbare meisiekind met haar groot oë, skewe strik en die blomme op haar skoot. En daarna was daar ’n soort wederkerigheid tussen die twee deurdat ek voortdurend tussen Johanna en die ewige kind beweeg het,” vertel Cas.

Die professor, wat hoof is van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, het begin met drama, toe oorgeslaan na teologie en later akademikus en skrywer geword.

Van sy nieakademiese skryfwerk is Kookpunt, niefiksie oor woede in Suid-Afrika; Die Reis Gaan Inwaarts oor Karel Schoeman; Dubbelfoto, ’n bundel kortverhale, en Syferfontein, ’n roman.

“Ek het van kleins af geweet ek wil skryf. Ek glo nie daar is enige aspek van die pad wat my lewe tot op hede gevolg het – die plekke waar ek gewoon het, die kursusse wat ek gevolg of aangebied het, die navorsing wat ek gedoen het, die mense wat ek ontmoet het – wat nie my kreatiewe skryfwerk beïnvloed nie.

“Tans bring ek in my akademiese werk teologie en letterkunde met mekaar in gesprek. Ons kan so baie van romans leer; hulle help ons om ons menswees op diep vlakke te verken terwyl daar aan die kompleksiteit van die lewe vasgehou word.”

In sy aangrypende verhaal sterf Johanna op bl. 9: “Dat sy genoeg gehad het, weet sy al lank, maar dat vanaand alreeds die einde is, was nie vanoggend aan haar bekend nie.”

Dan leer ken ons haar waar elke hoofstuk aan ’n ander karakter gegee word om Johanna faset vir faset aan die leser bekend te stel. Cas se gunsteling onder hulle is Nonna.

“Ek hou van hulle almal, maar my gunsteling is ongetwyfeld Nonna. Nonna vat nie nonsens nie. Sy is sterk, en al is sy vasgevang in onderdrukkende strukture, is sy die een wat die ander bemagtig.

“Sy is die een wat Johanna en die ander karakters oor grense neem – na die verlede, na Afrika, na geregtigheid, na hul lyf, en sodoende na heling.

“Nonna waai deur die boek nes daai lastige bergwind, maar dis die einste wind wat die reën bring.”

CAS SE BINNEPRET MET TITELS

Toe Willie ná sy tante se dood gaan boeke haal in haar woonstel, kom hy af op 46 “papiersendelinge” – populêre Christelike lektuur wat sy blykbaar nooit gelees het nie.

Hier is van die titels: Vrolike Vrouwees: 365 Dagstukkies vir Spesiale Dames, Gebedeboekie vir Gebrokenes, Hoop Lê Oop: Juwele vir ’n Vriendin, Geloof sonder Grense.

“Toegegee, ek het pret gehad,” sê Cas, “maar dis ook ’n baie belangrike gegewe in die verhaal. Johanna en haar lewe skreeu teen enige boeke met allitererende titels en pastelkleurige stofomslae. Daarom dink ek Hanli Deysel het ’n besonder goeie stofomslag ontwerp en kan die titel van die boek ook niks anders as net Johanna wees nie.” 

Foto’s: Andrea Venter, Clara Wepener
* Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.