VROUE VAN ATLANTIS

Saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason; foto’s: Izak de Vries (Lapa, R145*)

Vroue van Atlantis.

“Noem die naam Atlantis en jy hoor van werkloosheid, misdaad, nood in al sy menslike vorme, morele verval en tot baie onlangs ’n haas onuitwisbare klad op die naam van veral die land se politici.”

So skryf Anastasia de Vries in haar voorwoord van dié boek wat gewy word aan die storie se ligkant: “Twaalf vroue wat in 2016 deur die ATKV as fakkeldraers en baanbrekers in hul gemeenskap vereer is.”

Hier is vier van hulle.

SYLVIA LOSPER

Sylvia Losper. Foto: Izak de Vries.

“Suster Sonskyn” is Atlantis se eerste geregistreerde verpleegkundige en het al langer as 15 jaar ’n kliniek daar.

“Ek moedig altyd jong mense aan om verpleegkunde te doen. Dit is die beste beroep wat daar is.”

Sy is nou 67, nog lank nie reg vir aftree nie, en niemand stap by haar kliniek uit sonder ’n voorskrif “en balsem vir die siel” nie.

SILLENE OPPEL

Sillene Oppel. Foto: Izak de Vries.

Sillene verstaan nie hoekom sy as een van Atlantis se baanbrekersvroue gekies is oor haar “gehollery” nie.

“Sy is ’n mededingende drawwer en fietsryer. Sy het al tien keer die Argus (Kaapstad-fietstoer) gedoen en hope marathons, ook oorsee.”

Wanneer sy aftree, wil sy ’n draf-en-stapgroepie begin. En ten spyte van die dwelms en misdaad het sy nog nie moed verloor met Atlantis nie.

CHRISSIE CLOETE

Chrissie Cloete. Foto: Izak de Vries.

Sy is ’n redder van flentersiele; daarom noem sy haarself ’n “troostannie”. Chrissie sal ’n mens wat in maande geen seep of water gesien het nie teen haar bors vastrek.

Sy is veral betrokke by die nauurse beskerming van kinders en noem een ding van al die projekte waarby sy betrokke is: “Jy hoor en sien nie mooi verhale nie.”

CAROL MULLER

Carol Muller. Foto: Izak de Vries.

“Geen woorde kan my passie vir my beroep beskryf nie,” sê Carol. Dié onderwyseres se “hele menswees” is verander toe sy eendag op die speelterrein sien hoe ’n meisietjie die korsies van haar toebroodjie afbreek en op die grond gooi.

Toe niemand kyk nie, het haar maatjie dit opgetel en om ’n hoekie gehardloop om dit te verslind.

WARE MENSE

Deur Bart de Graaff; foto’s: Geert Snoeijer; uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis, R250)

Ware mense

“Stella Vleermuis is ’n Nama. Sy woon op ’n klein dorpie in Namibië. Pauline Yzerbek woon op ’n effens groter dorpie in Suid-Afrika.

"Dié twee jong vroue het mekaar nog nooit ontmoet nie. Hulle weet nie eens van mekaar se bestaan nie. Tog het hulle ’n paar dinge gemeen.

“Hulle praat Afrikaans. Hulle het Nederlands klinkende vanne. En hulle behoort albei tot ’n Khoi-Khoin-volk, die ‘ware mense’ van suidelike Afrika.”

So skryf Bart de Graaff in sy voorwoord van Ware Mense. Hy is ’n Nederlandse historikus en joernalis wat in 2015 en 2016 hier gereis het om die nasate van die Khoi-Khoin op te spoor en aan die woord te stel.

John MacNab, Rehoboth-kaptein. Foto: Geert Snoeijer.

Tydens sy reis het hy baie mense soos Stella en Pauline ontmoet, maar ook die hoofmanne en -vroue van dié groep.

Raymond Beddy, die ongekroonde hoofman van die Regshande-familie, het byvoorbeeld ’n grondeis ingedien om 18 000 ha voorvaderlike grond in die Vrystaat terug te kry.

Beddy is oud en sy opvolger is Harold Beck, ’n jong onderwyser wat hom vir die herlewing van die Korannas se taal beywer.

“Ek vra hom waarom. Hy sê die taal brand in hom.”

In Delft, “een van die onveiligste voorstede van Kaapstad”, ontmoet Bart en die 18-jarige Coleusia mekaar. “Sy woon haar hele lewe in Delft en dra die tekens daarvan.”

Die laagtepunt van haar lewe was toe sy op drie seksueel gemolesteer is. Die hoogtepunt? Toe sy met ballroom dancing kennismaak.

Bernelee Farao van Rietfontein, Namibië. Geert Snoeijer.

Dis haar hartstog en terapie. Haar ouers is bruin en een van haar oupas was wit.

Rassisme en politiek speel geen rol in haar lewe nie. “Net die geweld.”

Sy en haar vriendinne wil wegkom, sommige uit die land uit, maar almal beslis uit Delft uit.

Ware Mense is ’n verslag van ’n reis en gesprekke deur ’n buitelander en gee ’n interessante blik op die uiteengespatte Khoi-Khoin.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.