Die storie van sterre en planete

DEUR PETER ALLEN (PROTEA, R225)

"In Antieke China het mense geglo ’n sonsverduistering vind plaas omdat ’n yslike draak die son probeer eet.

Hulle het dan op potte en panne en tromme geslaan om die honger monster te verwilder.

Aangesien die son altyd weer teruggekom het, het hulle waarskynlik geglo hulle het dit reggekry,” word in Die Storie van Sterre en Planete vertel.

Vandag weet ons van beter, want ons wetenskap het al baie ver ontwikkel. As ’n mens dus saans buite op jou rug lê en na die sterre kyk wat soos diamante teen die swart lug skitter, hoef jy nie te wonder nie; jy kan weet.

Maar as jy nog nie genoeg weet na jou sin nie, kan dié boek vir jou ’n sleutel wees wat ’n skatkis vol kennis oopsluit. Wonder jy of daar lewe in die ruimte is?

Iemand wat net so nuuskierig soos jy is, is Elon Musk, die Suid-Afrikaans gebore Amerikaanse uitvinder wat net nou die dag ’n sportmotor op ’n vuurpyl die ruimte in geskiet het.

Daar was niemand in die motor nie, maar in die hoofstuk ’n Resies Ruimte Toe kan jy lees van mense wat wel die onbekende ingeskiet word. “Vandag word ruimtevaarders van oor die wêreld heen die ruimte in gestuur. Party bly selfs maande lank daar.

"Baie hedendaagse ruimtevaarders is opgeleide wetenskaplikes wat tyd in die ruimte deurbring om eksperimente te doen op ruimtestasies wat permanent om die aarde wentel.”

In die hoofstuk oor tegnologie kan jy lees oor die “vlieënde teleskoop so groot soos ’n skoolbus” wat al van 1990 in ’n wentelbaan is. Dis die Hubble wat van die aarde af beheer word deur wetenskaplikes wat boodskappe na die rekenaar aan boord stuur en opdragte gee waarheen dit moet draai.

“Hubble se kameras stuur beelde as data terug, wat die wetenskaplikes dan weer na foto’s omskakel.” Dié kragtige teleskoop kan kyk waar nog nooit gekyk is nie en het in 2006 byvoorbeeld 16 nuwe planete ontdek “wat rondom sterre in die verre uithoeke van ons sonnestelsels wentel”.

Lees in dié hoofstuk oor robotverkenners, die soektog na groen mannetjies en ruimtespioenasie.

Die ander hoofstukke gaan oor sterre, yslike vuurballe, ruimteswerwers, sterrekunde se geskiedenis en die storie van die heelal.

Ja-nee, dié boek is vol interessante stories wat jy sal opslurp.

Hoe supercool goed werk

DEUR IAN GRAHAM & TOM JACKSON (LAPA, R280)

Het jy al ’n groot TV-skerm gesien wat so dun is soos ’n kredietkaart, so lig dat dit soos ’n skildery teen die muur kan hang en so buigsaam dat die oppervlak geboë is?

Dis OLED-TV. ’n Organiese laag is gevoeg by tradisionele LED-TV’s wat gekleurde lig met beelde vervaardig met beter kleur wat vinniger verander.

En het jy al gehoor wat binne-in die Xbox One aangaan dat hy sulke ingewikkelde, realistiese grafika lewer? Indien nie, lees en bekyk dit in Hoe Supercool Goed Werk, nog een van Dorling Kindersley se fantastiese ensiklopedieë.

Dit gaan oor van die verstommendste tegnologiese uitvindings wat ons lewe in die toekoms interessanter en beslis makliker gaan maak. Een groep mense wie se lewe byvoorbeeld makliker gemaak gaan word, is die arme brandbestryders wat in brandende geboue moet inhardloop waar hulle deur rook oorval kan word.

Die C-Thru-helm wat nou ontwikkel word, klink soos iets uit ’n wetenskapsfiksiefliek.

Net een van sy wonderlikhede is ’n termiese kamera vooraan wat data van die situasie opneem, dit na die spanleier buite stuur, waar dit verwerk word, en nie net teruggestuur word na die helm nie, maar op die brandbestryder se gesigskerm geprojekteer word.

Jy sal nie glo wat jy alles hier lees nie, maar dis die reine waarheid.

My eerste 100 woorde

DEUR DAWN SIRETT  (LAPA, R134*)

Illustrasies: Charlotte Milner

Dié boekie is alles wat nodig is om ’n nuuskierige baba te prikkel en te leer – en haar grypende handjies te oorleef, want die bladsye is van stewige karton.

Dit het 100 kleurryke prentjies met die beskrywende woord by. Dit is bekende dinge waarin kleintjies belangstel soos speelgoed, troeteldiere, etenstyd en slaaptyd. Dan word die wêreld ’n bietjie groter oopgemaak en leer die kind byvoorbeeld ook ’n graafmasjien, brandweerwa en swart-en-wit panda ken.

Kleure is daar ook, soos ’n blou vlinder, pienk roomys, bruin koekies, ensovoorts.

Die oulike wys-en-sê-boek help woordeskat bou op ’n speel-speel-manier, en omdat die beskrywende byskrifte so groot gedruk is, kan dit beslis help met vroeë woordherkenning en dus leesgereedheid.

Gaan ontdek aanlyn nog duisende dinge
Dié boek word gesteun deur die Usborne Quicklinks-webtuiste propvol skakels wat jou na ’n wonderwêreld van video’s, klankopnames, speletjies en animasies neem.

Hier is ’n voorbeeld: Jy gaan na usborne.com, tik die Engelse titel van dié boek in (The Story of Astronomy and Space) en kies om eerste te gaan kyk na die lewe in die ruimte.

Onder Life in Space kies jy die tweede van die vyf webtuistes, want jy het nog altyd gewonder hoe dit sou wees om in die ruimte te leef en te werk. Nou klik jy op Morning Routine, want jy is nuuskierig oor die badkamersake.

Hier vertel Nasa se mense vir jou hoe ’n ruimtevaarder die toilet gebruik. Jy gaan sit op die toilet en haak jou bene in sodat jy nie dalk opstyg weens gewigloosheid nie. Jy doen jou ding en jou ontlasting word met iets soos ’n stofsuier dadelik weggesuig.

Die verduideliking oor wat jy moet doen as jy wil urineer, klink of dit net vir mans ontwerp is, maar gaan lees verder en besluit self wat vroue in die ruimte sal moet doen.
BESKIKBAAR TEEN DIé PRYS BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.