SLEEP NO MORE Deur P.D. James (Faber & Faber, R175*)

Phyllis Dorothy James, ’n doyenne van die Engelse krimi-roman, is in 2014 oorlede op die gevorderde ouderdom van 94. Sy was die beroemdste vir haar krimi’s waarin die digter-speurder Adam Dalgliesh voorgekom het.

Sleep No More is die tweede versameling “six murderous tales” wat nadoods uitgegee is – en dis onweerstaanbaar. James se moordenaars is nooit jou tipiese Bond-boef nie; hulle is eerder mense net soos ek en jy wat tot misdaad gedryf word deur die sameloop van alledaagse omstandighede.

In The Yo Yo word ’n jong seun betrek by ’n skokkende moord wat die res van sy lewe by hom sal spook. ’n Ander storie, The Victim, oor ’n stil bibliotekaris wat die man vermoor wat sy vrou afgevry het, het ’n wonderlike wending aan die einde.

En in Mr Millcroft’s Birthday maak ’n bejaarde man ’n slim plan om sy selfsugtige kinders ’n deel van hul erfporsie te laat prysgee sodat hy in ’n deftiger ouetehuis kan gaan woon. The Murder of Santa Claus sal so reg in die kraal val van Agatha Christie-aanhangers.

  • Sandy Cook

The Silent Corner Deur Dean Koontz (HarperCollins, R309*)

Toe haar man, Nick, in geheimsinnige omstandighede sterf, weier die FBI-agent Jane Hawk om te aanvaar dat dit selfdood was. Sy begin ondersoek instel en kom agter daar is ’n ontstellende nuwe neiging, naamlik dat selfdood oor Amerika heen aan die toeneem is.

Jane maak dit haar doel om uit te vind hoekom. En so begin ’n ondersoek wat haar en haar seuntjie se lewe in uiterse gevaar stel. Ek is al ’n Koontz-aanhanger sedert ek sy Whispers doer in 1980 gelees het.

Daardie roman was vir my ’n wonderlike mengsel van sielkundige spanning, raaiselagtighede en wetenskapsfiksie. Ek het gemeen Koontz hoef nie ’n tree terug te staan vir Stephen King nie, maar die laaste paar jaar was ek nie so beÏndruk met hom nie.

Tot my verbasing en vreugde blyk dit toe The Silent Corner is een van sy beste romans in jare. Dit gaan oor mense wat geprogrammeer word deurdat nanorobotte in hul brein ingeplant word en die resultaat is ’n verskriklike en angswekkend realistiese storie.

  • André J. Brink

The Last Tudor Deur Philippa Gregory (Simon & Schuster, R199*)

Dis al sedert The Other Boleyn Girl in 2001 dat Philippa Gregory, die koningin van die historiese roman, die lewe aan die Tudor-hof spin tot die meesleurendste verhale.

Nou gee sy haar lesers die laaste stuk van die legkaart met die storie van lady Jane Grey wie se ouers en bondgenote saamgesweer het om haar op die troon te kry ná die dood van koning Henry VIII se enigste seun, die sieklike koning Edward VI.

Tot haar afgryse is die vroom lady Jane, ’n niggie van Elizabeth, getroud, bed toe gesleep en gekroon – maar sy was net nege dae op die troon. Gregory weef ’n verwikkelde verhaal van geloof, liefde, mag en verraad.

Sy vul die gapings tussen historiese gebeure kleurryk in soos net sy kan. Ek is gewoond daaraan dat haar werk gewoonlik dig geweef is, maar The Last Tudor is veral besig en dit duur ’n ruk om ’n mens se lesery op dreef te kry.

En om die effens irriterende protagonis te aanvaar. Die storie word gered deur lady Jane se erfgename en susters, die flirterige, loskop Katherine en klein Mary, wat in die Tudor-hof as ’n dwerg beskou word, maar haarself bewys as die sterkste van hulle almal. Byt maar vas as jy ’n boek met iets om die lyf soek.

  • KIRSTIN BUICK

Goodbye, Vitamin Deur Rachel Khong (Simon & Schuster, R229*)

Almal wat ’n geliefde het of gehad het wat ’n Alzheimerlyer is of was, sal die soms verwarrende, soms hartverskeurende gevoelens wat in hierdie boek belig word maar te goed ken.

Ruth stem in om terug te trek huis toe om na haar pa te kyk. Hy is ’n professor wat stadig maar seker besig is om sy geheue te verloor en daarmee saam sy eens briljante verstand. Hy vind dit ondraaglik om in sy helder oomblikke te besef wat met hom aan die gebeur is.

Sy en haar ma probeer om die situasie na die beste van hul vermoë te bestuur. Wat dit egter bemoeilik, is Ruth se eie verhoudingsprobleme en haar ma se stille woede oor haar pa se gedrag in die verlede.

Die verhaal is ’n skrynende blik op hoe jou wêreld kan uitrafel sonder dat ander mense dit regtig agterkom, behalwe as hulle direk geraak word. Dis ’n storie van verlies, liefde en hoop – ten spyte van alles.

En dis so eenvoudig geskryf dat jy soms onkant gevang word deur die ingewikkelde emosies waarop dit alles berus.

Daar is heelwat knop-in-die-keel-oomblikke wanneer die gekneusde gesin kop bo water probeer hou. Maar dis lig genoeg dat jy dikwels ook sal glimlag, veral as jy die optrede herken van iemand wat jy liefhet. 

  • CHARLENE ROLLS
Let wel
* Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.