Een dronk aand lei tot ’n wonderlike verhaal wat oor 366 bladsye strek.

Tertius de Klerk is jou tipiese verstrooide professor. Behalwe dat hy nie ’n professor is nie. Dis juis dié ontglippende titel wat help aanleiding gee tot ’n onbesonne nag saam met ’n student wat tot ’n Facebook-skandaal lei en die doktor se stert-tussen-die-bene-vlug na Patagonië.

Die skrywer van dié meesleurende storie, Maya Fowler, beantwoord ons vrae:

Hoekom Patagonië?

Vandat my pa my kleintyd vertel het van ’n familievriendin, Annette Stander, wat in Argentinië gebore is en Spaans praat, maar in die Vrystaat woon.

Die idee het my geboei. Patagonië is die streek in Argentinië waar die Boere hulle tussen 1902 en 1905 gevestig het.

Die tannie is as ’n Van den Berg in Argentinië gebore, maar die gesin het in 1938 na Suid-Afrika teruggekeer. Die NG Kerk het daardie jaar hard daaraan gewerk om die Boere terug te bring.

Jy sê die storie het lank in jou geklop. Wat was die impetus?

In 2010 het ek vir die eerste Jan Rabie/Marjorie Wallace-beurs aansoek gedoen met dié idee.

Ek het nie die beurs gekry nie, maar dit het my meer vasbeslote gemaak om wel my storie te skryf. Toe, in 2013, het ek die lokprent gesien van Richard Finn Gregory se dokumentêr Boere op die Aardsdrempel.

Dit het vir my gevoel die storie broei al so lank, nou moet ek daarvan werk maak voor iemand anders uit dieselfde idee ’n roman probeer skryf.

Volgens jou helder beskrywings het jy die land beslis besoek. Reg?

Ja, dit was in 2014, en ek is oneindig dankbaar ek kon gaan.

Dit is vir my baie belangrik om die landskap goed te kan beskryf, maar ook, dit was eers in Patagonië dat ek bewus geword het van die “heiliges” (folk saints) Gauchito Gil en La Difunta Correa, wat ’n belangrike rol in die roman speel.

Dis ’n vreemde Afrikaans wat die mense daar praat.

Ek het die Afrikaans wat ek daar gehoor het noukeurig gedokumenteer.

Baie van die woorde en sinsbou kon ek net so gebruik, en ander taalverskynsels kon ek toepas op wat ek skryf. Byvoorbeeld, in ons Afrikaans sê ons mos “toe ek 14 was”, maar in Argentinië sê hulle “toe ek 14 gewees het”.

Ek het ook Rhoda van Schalkwyk se werk gelees. Haar meesterstesis aan die destydse RAU was vir my ter groot ondersteuning.

Patagonië deur Maya Fowler (Umuzi, R220).

Ek het nie eintlik simpatie vir jou een hoofkarakter nie; die verstrooide nieprofessor. Dis nie oor die wilde nag wat hy saam met ’n student deurbring nie, maar sommer oor die geheel. Hy klink vir my na ’n narcis wat verwag mense moet hom vergewe omdat hy so geniaal is. Kon jy hom nie maar ’n paar aantreklike karaktertrekke gegee het nie?

O jinne!

Siestog, ek dink weer hy’s ’n ou teddiebeer, hoewel hy natuurlik groot foute maak.

My bedoeling was nie dat hy ’n narcis is nie. Inteendeel, hy’s ongelooflik sag en sy selfvertroue is nul. Maar ek hou daarvan dat lesers die karakters na hul eie mening interpreteer. Dis goed so; so kry fiksie lewe.

Daar is baie fyn detail oor die dele waar jy die Anglo-Boereoorlog byhaal, byvoorbeeld waar plase afgebrand word. Vertel.

Die meeste van die Boere wat ná die Anglo-Boereoolog Patagonië toe is, het gegaan juis omdat hulle nie meer huis of haard gehad het nie, meestal as gevolg van lord Kitchener se verskroeide-aarde-beleid.

En die Basjan-karakter moet vlug weens iets vreesliks wat hy aangevang het, maar dié daad sou hy nooit sonder die oorlog-gegewe kon gepleeg het nie. (En natuurlik kies hy Patagonië om heen te vlug.)

Vertel hoekom jy die storie ’n fuga noem.

Die fuga is eintlik ’n musiekvorm waarin verskillende stemme dieselfde stukkie melodie herhaal.

Dié melodie noem ’n mens in musiekteorie die tema. Een stem gee die tema, dan gee ’n ander stem die antwoord. Dan kom die derde stem weer in met die tema, en dan antwoord ’n vierde stem.

In dié geval is die tema “Hier moet ek weg” en die antwoord is “Vir my laat jy nie so maklik agter nie”.

Die mans Tertius en Basjan gee vir ons die tema voor hulle vlug. En dan antwoord die vroue, Alta en Salome: “Vir my laat jy nie so maklik agter nie!”

In Latyn beteken “fugare” om te vlug én om te jaag. Dis waar die musikale vorm sy naam kry, en die vlug-en-jaag is presies wat in dié boek gebeur.

Die karakters se name begin met S, A, T en B omdat dit ooreenstem met sopraan, alt, tenoor en bas.”

Wie is Maya Fowler?
  • Sy het aan die Union High School op Graaff-Reinet gematrikuleer en ’n M.A. in linguistiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
  • Sy het as koerantverslaggewer by die Graaff-Reinet Advertiser begin werk, was daarna vertaler by Die Burger en toe teksredakteur by verskeie tydskrifte.
  • Sy woon tans in Vancouver, Kanada, waar dit “net so vyf grade kouer as die Karoo is”, sê Maya. “Wanneer ek nie skryf nie, doen ek vertaal- of redigeerwerk, en ek gee ook klas in kreatiewe skryfwerk vir privaat studente, en met tye Engels vir internasionale studente.”