Jean-Pierre de Kock 

’n B.Mus. Honneurs en bestuurder van ’n houtverwerkingsfabriek. Waar val jy met ’n roman uit?

Ek was nog altyd ’n ywerige leser en het van kleins af skribbelboekies vir digpogings en stories saamgesleep. Vandat ek kan onthou, wou ek in ’n boekwinkel instap en my eie boek daar sien.

Nadat ek studeer het en nie meer ure agter die klavier hoef te gesit het nie, het ek skielik meer tyd gehad om aan dié ideaal te werk.

Ek het by ’n paar skryfskole betrokke geraak, waarvan die een onder leiding van die skrywer Rachelle Greeff vir my van groot waarde was. Ek probeer steeds om die perfekte kortverhaal te skryf.

Jean-Pierre de Kock. Foto: Stephen Fourie

Lennet woon alleen in ’n woonwa buite Baardskeerdersbos waar hy met groente en dagga boer. Hy was ’n rekenmeester, het ’n meisie gehad, het ’n pa wat aan alzheimersiekte ly wat hy nie besoek nie en ’n broer wat hom hiervoor en vir baie ander dinge nie kan vergewe nie. Dink jy baie mense sou ook eerder alleen in ’n woonwa woon as om hul drake in die oë te kyk?

Hunker ons nie almal soms na iewers stiller, rustiger en afgesonder van teerpaaie en jou eie malende gedagtes nie? Die vonk vir die roman was toe ek hoor van iemand wat besluit het om in soortgelyke isolasie as Lennet te lewe.

Ek kan my indink daar is ander mense wat om watter rede ook al dieselfde leefstyl sou wou koester, dalk sonder die wete hoe om alles op te pak en dit aan te pak.

Vir Lennet was dit eenvoudiger; hy het ’n keerpunt bereik, een wat hom so geruk het dat hy nie anders kon as om sy lewensuitkyk drasties te verander nie. Dit is in persoonlike drake se aard om jou op te spoor waar jy ook al wegkruip.

Die Daggaboer Deur Jean-Pierre de Kock (Human & Rousseau, R225*).

Die boek het lieflike fynbosbe-skrywings waarvoor jy ’n bron gee, maar jy weerhou die naam van die mens wat jou al die inligting oor die kweek van dagga gegee het. Jy kan mos nou maar sê wie dit is aangesien dagga gewettig is!

Ongelukkig het ek nie die boer se toestemming nie. Boonop vermoed ek die hoeveelhede wat hy verbou, sal nie gou gewettig word nie, met of sonder die hofuitspraak.

Sou die nuwe regswending Lennet verbly het? Moontlik. Maar soos my daggadeskundige sou hy ook eers wou sien hoeveel die wetgewer gaan besluit in “privaat besit” gekweek mag word voor hy die vreugdespyp aansteek.

Dankie vir daardie dramatiese slot. Ek het dit nie verwag nie.

Sonder twyfel is dit die hoofstuk waaraan ek die meeste geskaaf het. Veral om daardie ikoniese laaste beweging van Dvorák se Negende Simfonie min of meer met die teks geïntegreer te kry.

Ek het aanvanklik nie geweet hoe die boek sou eindig nie, maar dit was werklik bevredigend om te sien hoe die drade in die laaste paar bladsye bymekaartrek.

Irma Venter

Dit wat met die skatryk Van Zyl-gesin gebeur het, onder meer die bloed oral in hul weelderige huis op ’n sekuriteitslandgoed, laat ’n mens aan ’n bekende onlangse moordsaak dink. Sê jou lesers soms vir jou sulke dinge? Kry jy inspirasie uit werklike sake?

Soms sê lesers dit, en ja, dis ook reg so. Ek put inspirasie uit die nuus; ek is verslaaf aan nuus en kan nie anders as om die alledaagse Suid-Afrika by my teks in te werk nie.

Irma Venter. Foto: Rudi de Beer

In Sondag is eggo’s van die De Zalze- en Griekwastad-moorde en in my volgende boek sal lesers iets van die Steinhoff-debakel herken. Ek probeer altyd onthou dat dit nie bloot nuus is nie.

Regte mense het werklike verliese gely en as skrywer het ek respek daarvoor.

Ranna, die konflikjoernalis en fotograaf, haar kêrel, Alex, ook ’n joernalis, Sarah, wat op 17 al vir ’n ruk tronk toe was omdat sy effens te suksesvol was as kuberkraker, en AJ, die speurder – almal geliefde karakters wat in al jou romans terugkeer. Wie is jou gunsteling?

Ek is mal oor almal, maar ja, ek het ’n sagte plekkie vir Alex, wat tussen dié sterk vroue moet leef, en vir Adriana, wat lesers in die vorige boek, Sirkus, sou raaklees.

In Sondag het ’n newekarakter my hart – of sê ’n mens pen? – gesteel. Sers.Faradien Josephs se vat-nie-nonsens-nie-houding verdien dalk ’n boek van haar eie.

Sarah moet jy altyd ’n bietjie in toom hou, want as jy weer sien, kan sy ’n saak te maklik en vinnig oplos. Ek moet altyd vir haar hindernisse skep sodat sy nie binne 10 bladyse al die antwoorde het nie.

“Ek weet wat hy sien: besigheidsboeke aan die deurmekaar kant, liefdesverhale en Afrikaanse en Engelse letterkunde aan die ander kant. Kate Atkinson, Breyten Breytenbach, Helene de Kock, Zadie Smith.” Dis wat AJ en Alex in die Van Zyls se hoofslaapkamer sien. Wat is op jou bedkassie?

Ek lees meer as een boek op ’n slag.

Op my bedkassie lê Die Dao van Daan van der Walt, Spertyd, Kantelpunt, en twee wetenskapsfiksieboeke, Snapshot en The Fifth Season.

Sondag deur Irma Venter (Human & Rousseau, R235*)

Ek hoop om in die Desembervakansie meer leestyd te hê.

Sondag is jou sesde roman (waarvan die titels almal met ’n S begin). Oorweeg jy dit om voltyds te skryf?

Elke Maandag wanneer ek kwart voor ses die snelweg (wat ’n ironiese woord!) van Pretoria na Johannesburg aanpak, dink ek hoe lekker dit sal wees om voltyds te skryf. Maar boekverkope in Suid-Afrika laat dit nie toe nie; dus sal ek moet aanhou oorsese uitgewers soek.

Maar, bygesê, ek is mal oor my werk as joernalis by Engineering News.

Joernalistiek bly een van die lekkerste maniere om geld te verdien. Ek ontmoet fassinerende mense en skryf oor interessante gebeure.

Wanneer kry jy tyd om te skryf?

Ek skryf baie vroeg voor ek en die N1 mekaar takel. Ek het ook al geleer om op enige plek te skryf, solank ek 45 minute aanmekaar kan las.

Dit is hoekom omtrent 50% van my boeke in koffiekroeë, vliegtuie, busse en treine geskryf is.

’n Hele paar mense het so in my boeke beland sonder dat hulle weet. ’n Voormalige model wat gereeld by ’n koffiekroeg ingestap het waar ek skryf, was byvoorbeeld my inspirasie vir Ranna.

* Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.