Pieksel

Deur Fanie Viljoen (Lapa-uitgewers, R145)

“Die liedjie ‘Sprokie vir ’n stadskind’ het my van kleins af betower. Ek het gewonder hoe so ’n sprokie sou klink. Waaroor dit sou handel?” vertel die jeugskrywer Fanie Viljoen.

“My nuutste boek, Pieksel, het my sprokie vir ’n stadskind geword. Dis geskryf vir ons kinders wat so alleen grootword agter hoë mure en veiligheidshekke.

“Vossie de Vos is so verskriklik alleen; daarom bou hy vir homself ’n vriend – die robot Pieksel. Saam beleef hulle wonderlike avonture, maar dit kom alles tot ’n einde toe sy ouers van die robot uitvind.”

Fanie het nou al sowat 80 boeke agter sy naam plus ’n hele gerf pryse.

Hiervan is die belangrikste die goue Sanlam-prys vir jeuglektuur en die M.E.R.-prys vir jeuglektuur vir Breinbliksem; die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke vir Geraamte in die klas; die silwer-­Sanlam-prys vir jeuglektuur vir Onderwêreld, en die ATKV-kinderboekprys vir die teks en die illustrasies van Slym en die goggasirkus. Hy het ook die IBBY-­ererol gehaal vir Uit, sy tiener­roman oor ’n rugbyspelende seun wat begin besef hy is gay.

Fanie vertel skryf was ná skool bloot ’n stokperdjie – tot hy by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging aangesluit het.

“Hulle het my met die skryfwerk aangemoedig. My eerste skryfsuksesse met kortverhale en ’n radiodrama het die vonk toe behoorlik aangesteek.

“Sedertdien skryf ek hoof­saaklik vir kinders van so tussen agt en 12, maar daar is ook boeke vir jonger en ouer tieners. My eerste volwasse roman was Prooi.”

Hy bly in voeling met sy jong lesers se leefwêreld en taalgebruik deur sy kontak met hulle tydens skoolbesoeke en op Facebook.

“Ek luister na hul musiek en probeer ook lees wat hulle lees. My uit­gewer help natuurlik baie as ek die pot mis sit.”

Hy skryf al byna 12 jaar voltyds nadat hy tevore 16 jaar by Sanlam gewerk het.

“Ek is gewoonlik so sesuur soggens voor die rekenaar, eers om die koerant te lees voor ek begin skryf. Ek skryf so twee tot drie uur aan nuwe werk.

“Daarna doen ek my administrasie, lees proewe of her­skryf dalk ander manuskripte. Teen die middag is my kop behoorlik suf van al die woorde – dan gaan ek gim toe.

“Die gim help ’n mens om stories verder uit te pluis of nuwes uit te dink.”

En watter soort reaksie kry hy van sy lesers?

“A, die kinders se reaksie is wonderlik, wonderlik! Om te sien hoe hulle hulle in stories inleef maak ’n mens warm om die hart. Én om ná ’n skoolbesoek te sien hoe kinders wat nie wou lees nie nou pouses met boeke op die skoolterrein sit. Hulle stop ook soms briefies in my hand tydens skoolbesoeke of kontak my in die sosiale media.”

En hoewel hy graag grillerige verhale skryf, lees hy glad nie self rillers nie.

“Ek hou van boeke wat menseverhoudings belig. Ek het onlangs die boeke Less en The Boy Who Steals Houses gelees. Ek lees ook soms outobiografieë of boeke met ’n sielkundige aanslag soos Man’s Search for Meaning en The Man Who Mistook His Wife for a Hat.

Fanie is baie lief vir musiek – “dans-, wêreld-, opera- en Indiese musiek” – en vertel hy maak deesdae ook speellyste vir die nuwe boeke waaraan hy werk.

“Dit word soos die boek se klankbaan en plaas my dadelik terug in die storie en die karakters se kop.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Vyf dinge wat Fanie die afgelope tyd verstom het
  • Die mensdom se domheid.
  • Die mensdom se slimheid.
  • Die mensdom se selfsug.
  • Die mensdom se vrygewigheid.
  • Hoe die wêreld in ’n bitter kort tyd heeltemal kan verander.

Fanie gesels oor sy kuns

'Om te skilder is vir my soos meditasie; jy kan jo
'Om te skilder is vir my soos meditasie; jy kan jou kop skoonmaak terwyl jy skilder.'

“Ek het op skool al in kuns belanggestel en het dit selfs as vak in matriek gehad. Ná skool het ek ’n diploma in grafiese ontwerp verwerf. Om te skilder is vir my soos meditasie; jy kan jou kop skoonmaak terwyl jy skilder.

“Sedert Slym illustreer ek nog af en toe my eie boeke, maar nie almal nie. Dit is lekker om te sien hoe ander kunstenaars ’n storie sien. So het die talentvolle Elsbeth Eksteen byvoorbeeld lewe in die Lulu-­reeks geblaas met haar verbeeldingryke waterverfillustrasies.

“Ek bewonder telkens Suid-Afrika se wonderlike illustreerders, want ek weet hoeveel werk kos daardie mooi kleurryke boeke.”