Jaco Jacobs is die skrywer van meer as 140 boeke vir kinders en tieners, en byna 1 miljoen eksemplare is al verkoop.

Hy ryg die pryse in, maar ’n hoogtepunt was die benoeming vir die Carnegiemedalje, Brittanje se oudste en prestigerykste literêre prys vir kinderboeke.

“Ek was ook baie dankbaar toe ’n Goeie Dag vir Boomklim die internasionale In Other Words-prys wen, want dit het eindelik daartoe gelei dat Engelse en Italiaanse vertaalregte vir die boek verkoop is,” sê die Bloemfonteinse skrywer.

Ek kon my verbeelding vrye teuels gee – ’n ruimtewese in iemand se swembad laat val, my ouma in ’n rockster verander, uitvind wat gebeur as jy ’n skaap by ’n kerkbasaar ontvoer.

Hy het in Junie vir die eerste keer voltyds begin skryf nadat hy 13 jaar lank ’n uitgewer was by Lapa-uitgewers. Sy belangstelling in boeke vir jonges kom van ver af.

“Aan die einde van matriek het ek die eerste keer ’n tienerboek aangepak – en onmiddellik het dit gevoel asof iets in posisie val. Ek kon my verbeelding vrye teuels gee – ’n ruimtewese in iemand se swembad laat val, my ouma in ’n rockster verander, uitvind wat gebeur as jy ’n skaap by ’n kerkbasaar ontvoer.”

En hoe bly ’n skrywer in hierdie genre in ’n kind se kop om nie soos ’n grootmens te klink nie?

“Ek skryf in die eerste plek vir die boekverslaafde kind wat ek self was,” sê Jaco.

“Ek kan my kinderdae baie goed onthou, en veral die soort boeke wat ek kleintyd verslind het, die troos en die betowering wat ek in boeke gekry het. En dan glo ek ’n mens hanteer dié genre altyd met die respek wat dit verdien. Jy mag hulle nooit, nooit, ooit onderskat nie.”

Jaco is ook ’n vertaler wat onder meer al die Elsabe Steenberg-prys vir vertaalde kinderliteratuur ontvang het.

“Wanneer ek vertaal, probeer ek vergeet dat ek self ’n skrywer is. Ek probeer die skrywer se stem, dit wat die storie uniek maak, so goed as wat ek kan in Afrikaans weergee.

“Dit is egter wel vir my baie belangrik dat ’n vertaalde boek op die ou end nie vir die leser soos ’n vertaling klink nie. Daarom doen ek tydens die redigeerproses baie moeite om die storie so leesbaar en so Afrikaans moontlik op die oor te laat val.”

Popkultuur

Pez versamelin
Sy Pez versameling. Foto: Verskaf

“So vier jaar gelede was ek saam met my kinders in ’n speelgoedwinkel, en by die betaalpunt het iets my oog getref: ’n Superman-Pez. As kind het ek en my sussie elkeen ’n Pez gehad waaroor ons mal was. Myne was Bugs Bunny as ek reg onthou.

“Ek het uit skone nostalgie vir my die Superman gekoop. By die huis gekom, het ek ’n bietjie gegoogle en uitgevind daar is wêreldwyd duisende mense wat Pez versamel. Dit het vir my na ’n prettige stokperdjie geklink, en ek het stadig maar seker ’n versameling begin opbou. Ek het nou ’n raps oor 300.

“Ek was nog altyd geïnteresseerd in strokiesprentkarakters en popkultuur, en Pez vang iets daarvan treffend vas – van Super Mario tot Hello Kitty, die Simpsons, Looney Tunes en Disney.”

Die boeke en karakters naaste aan Jaco se hart

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie
Dinge wat ek nie van skape geweet het nie
Goeie dag vir boomklim
Goeie dag vir boomklim
Moenie hierdie boek eet nie
Moenie hierdie boek eet nie

“Dis regtig moeilik om te kies. Marnus en Leila in ’n Goeie Dag vir Boomklim en Luan in Dinge Wat Ek Nie van Skape Geweet Het Nie is karakters vir wie ek altyd ’n sagte plek sal hê. Daar is iets van myself in almal van hulle.

“Ek is ook baie trots op die rympieboek Moenie Hierdie Boek Eet Nie met illustrasies deur Zinelda McDonald. Ek het ongelooflik hard gewerk aan die 366 rympies daarin.”

Hy kan draf ook

Jaco Jacobs. Foto: Jetline Action Photo

“So drie jaar gelede was ek ongelooflik onfiks, en my dokter het dit oorweeg om my op cholesterolmedikasie te sit. Daar en dan het ek begin draf – eers letterlik net blaas-blaas om die blok tot ek later my eerste 5 km lange Parkrun kon baasraak.

“Ná ’n paar maande het ek my eerste halfmarathon (21,1 km) aangepak, vroeg verlede jaar het ek my eerste marathon (42,2 km) voltooi, en vanjaar my eerste Comrades (90,1 km).

“Deesdae het draf vir my ’n soort stiltetyd geword waartydens ek kans kry om my gedagtes agtermekaar te kry. Deur die paar marathons en twee ultramarathons wat ek tot dusver voltooi het, het ek myself op nuwe maniere leer uitdaag en baie oor uithouvermoë en vasbyt geleer.”