Kom hier dat ek jou soen
Beskikbaar by Protea Boekwinkel
Beskikbaar by Protea Boekwinkel

Deur Griet op de Beeck; vertaal deur Christine Barkhuizen-Le Roux ­(Protea Boekhuis, R305)

Misleidendste voorblad en titel. Dis die prys wat dié boek moet kry, maar glad nie verdien nie. Ek moes my dwing om dit oop te maak en te begin lees, want ek was nie in die bui vir ’n tienerliefdesverhaal oor eerste soene en moontlik ander eerstes nie.

Kom hier dat ek jou soen is egter nié ’n tienerliefdesverhaal nie. Dit is Mona se storie as kind, 24-jarige en 35-­jarige.

Dit begin waar sy as negejarige dogtertjie in hul pikdonker kelder sit en haarself vertel dat sy nie bang is nie. “Mamma sal nou-nou ondertoe kom en my laat uitkom. Ek sal sê ek is jammer en belowe om dit nooit weer te doen nie.”

Toe die ma kort daarna in ’n motorongeluk sterf, kan ’n mens vergewe word dat jy verlig is. Maar so maklik is dit nie, want mense is mense en emosies kan morsige dinge wees.

Mona se tandarts-pa trou taamlik vinnig weer en sy verfyn die kuns ­verder om “ ’n soet dogtertjie” te wees.

Op 24 begin sy haar vestig as ’n dramaturg en verskaf sy ’n behaaglike bladsy lange lys van “irrasionele dinge wat ek ­verpes”.

Dit sluit in driekwartbeddens, opgooi (“die geluid én die reuk”), gemeenplasies, geregis­treerde posstukke, manne uit één stuk, vroue wat altyd weet wat hulle wil hê, haar eie wankelmoedigheid en haar eie niesbuie.

Wanneer jy Mona op 35 meemaak, sien jy daarna uit om te weet of sy die soet dogtertjie gebly het.

Christine Barkhuizen-Le Roux se vlot vertaling het daartoe bygedra dat ek dié roman baie geniet het.

Veronika besluit om te sterf
Beskikbaar by Protea Boekwinkel
Beskikbaar by Protea Boekwinkel.

Deur Paulo Coelho; vertaal deur Kobus Geldenhuys (Protea Boekhuis, R225)

Veronika lees ’n tydskrif­artikel terwyl sy wag om te sterf van die vier pakkies slaappille wat sy gedrink het. Sy is ’n jong bibliotekaresse met skoonheid, werk, vriende, kêrels, maar sy vrees haar lewenspad kan van hierdie punt af net afdraand loop; daarom wil sy dit beëindig.

Die joernalis begin sy artikel met “Waar is Slowenië?” – en dit grief Veronika so dat niemand ooit weet waar haar land is nie dat sy besluit haar laaste taak sal wees om ’n brief aan die tydskrif te skryf. Tot haar spyt kom sy later by in ’n psigiatriese inrigting.

Coelho het Veronika besluit om te sterf deels gegrond op sy eie ervarings van sulke inrigtings soos hy hier in ’n bloginskrywing van Oktober 2019 verduidelik:

“Toe ek jonk was, het my ouers my drie maal na ’n psigiatriese inrigting gestuur. Volgens my verslae was ek geïsoleer, vyandig en miserabel by die skool.

“Ek was nie mal nie; ek was net ’n 17-jarige wat graag ’n skrywer wou word. Die terapie het hoofsaaklik bestaan uit elektriese skokke.

“Ek het myself belowe ek sou eendag hieroor skryf sodat jong mense kan verstaan dat ons van jongs af hard moet baklei vir ons eie drome.”

Swart swaan
Beskikbaar by loot.co.za
Beskikbaar by loot.co.za

Deur Wilken Calitz (Umuzi, R189 by loot.co.za)

Swart swaan handel in breë trekke oor die casino-­onderwêreld, verduidelik die skrywer Wilken Calitz.

“Ek het een aand ná ’n konsert by ’n casino aan die Oos-Rand gesien hoe mense met rooi oë hul pensioene wegdobbel. My hoofkarakter is ’n sekuriteitswag by ’n casino, en op ’n dag verskyn ’n monster / verwronge swaan in sy agterplaas. Dit simboliseer die donker kant van ’n samelewing wat finansiële welstand as maatskaplike utopie beskou. Gierigheid is ’n aaklige ‘ding’ met ’n absoluut ­dodelike aptyt.”


Fabian, die sekuriteitswag, droom van ’n vaart op die MSC Symphony saam met sy vrou, Merinda, om hul 25ste huweliksherdenking te vier. Sy het weens kanker ’n geskende gesig en kry die hulp om hiervan te vergeet op die bodem van wynbottels.

Die geld vir hul reis lê in ’n kis wat Fabian op die erf begrawe het, en dis juis hier waar die monster/swaan sy intrek kom neem.

Die surrealistiese amper-sprokie het sy beslag gekry tydens Wilken se M.-studie in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.

“Ek het van sesjarige ouderdom elke dag viool geoefen. Ná my M.Mus.-graad het ek besef ek moet nou ’n ander kreatiewe rigting inslaan. Om 25 jaar lank dieselfde ding te doen kan enigiemand oor die afgrond dryf,” sê Wilken.

“My paaie lei my toe na die dramawêreld. Ek het eers ’n paar klank­bane geskep vir toneelstukke, en iemand vra my toe om ’n teks te skryf.  Dit was hemels. Dit was asof musiek en stories mekaar eindelik in my brein ontmoet het. Die volgende stap was die M. in skryfwerk.”

Nou is hy besig om te slyp aan ’n paar nuwe karakters. “Ek sal egter by hulle moet hoor of hulle in ’n boek wil wees of op die verhoog!”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe