Die vertes in

Deur Zirk van den Berg (Kwela, R249*)

Zirk van den Berg
Foto: Zirk van den Berg. Foto: Simone Scholtz, Marche Media

“Hulle ry ooswaarts deur die Namib, in hierdie wye, droë land in. Dit is ’n plek vir pioniers en krygers, dink Siegfried, onherbergsaam, ’n plek vir stories, waar manne hul staal kan wys.”

Zirk van den Berg dra sy jongste roman, Die Vertes In, wat in 1905 in Duits-Suidwes-Afrika afspeel, aan sy oupas, Zirk van den Berg en Andries Bredenkamp, op.

“Dis oor my oupas dat ons familie in Namibië beland het, en dis iets waarvoor ek hulle dankbaar is. Ek kom hopeloos te min daar, maar dit voel na my hartsgrond. Ek kan nie wag om in Februarie weer daar te wees nie,” vertel die skrywer wat van Nieu-Seeland na Suid-Afrika kom om onder meer by die Woordfees op Stellenbosch oor dié roman te kom praat.

“My oupa Zirk was deel van die Suid-Afrikaanse inval in Duitswes in die Eerste Wêreldoorlog en het in 1928 daarheen getrek. Hy het hom in die Kalahari gevestig, in ’n omgewing wat in die boek figureer. In dieselfde jaar het my oupa Andries die Dorslandtrekkers help terugtrek uit Angola. Hy het later op die plaas Chaibis gewoon, wat ’n belangrike rol in die storie speel.”

Foto: Verskaf

Zirk wou juis die storie hier laat afspeel “omdat die land en sy geskiedenis my so ontroer."


“Ek wou ’n misdaadverhaal skryf met ’n ingetoë held. Daar is al oorgenoeg speurders in boeke en flieks wat tawwe dronkaards is. En ek wou die storie in Namibië laat afspeel."

“Omdat ek nie Namibië se moderne milieu ken nie, besluit ek toe op ’n historiese agtergrond. Die Duitse koloniale tyd het my aanvanklik aangetrek oor ’n sekere romantiek, maar toe beland ek natuurlik pens en pootjies in ’n politieke moeras. Iewers het ek die idee gekry van vier mense wat saam op ’n trein klim in Swakopmund en wie se paaie mekaar kruis en herkruis. Van daar af het dinge maar organies met die skryf en herskryf ontplooi.”

Jy woon al 20 jaar lank in Nieu-Seeland. Hoe het jy dit reggekry om die Suidweslandskap so helder te beskryf?

“Toe ek in 2014 Kaap toe kom vir die kykNET-Rapportprys (wat hy vir sy boek ’n Ander Mens in die filmkategorie gewen het) het ek die feit dat ek daar is plus die prysgeld aangegryp en Namibië toe gegaan spesifiek om die omgewing vir hierdie storie te verken. Ek het in die betrokke omgewing rondgery, foto’s geneem en aantekeninge gemaak. En dan ken ek ook van die plekke uit vakansies in my kinderdae.”

Foto: Verskaf

Die soort eksperimente wat die karakter Albert Pitzer gedoen het deur lede van die inheemse bevolking letterlik op te meet om sy teorieë oor ras te staaf – het dit werklik gebeur?

Daardie soort wetenskaplike rassisme was indertyd aan die orde van die dag. Mense wat in die konsentrasiekampe in Duitswes dood is, se koppe is byvoorbeeld vir navorsing Europa toe gestuur. En dr. Eugen Fischer het (kort ná die fiktiewe dokter Pitzer!) in Namibië soortgelyke rassenavorsing gedoen wat later die Nazi’s se denkwyse gestuur het.

Daar is selfs aanduidings dat Hendrik Verwoerd deur Fischer se werk beïnvloed is.

Siegfried Bock wat “elke winter van sy lewe by die dood omgedraai het” en dus weet hoe weerloos hy is, kom Afrika toe en word ’n onwaarskynlike held. Gee hy die leser ’n kykie na die skrywer se weerloosheid?

“Siegfried Bock is nie noodwendig die karakter met wie ek die sterkste identifiseer nie. Mordegai Guruseb lê my baie na aan die hart. “Weerloosheid is wel ’n eienskap wat ek dink mense geringskat. Dit verdiep jou selfkennis en verbreed jou empatie. Dis mense wat seerkry nie aan die bas voel nie, wat ander mense die maklikste seermaak. Ek het net soveel van Mordegai, ’n ander held in die storie, gehou. Dit voel half vir my hy en Siegfried (en ook die vroue Lisbeth en Eva) verdien nog ’n boek. Wat dink jy?

“Ek het inderdaad van meet af ’n minireeks met dieselfde agtergrond en karakters in gedagte gehad. Daar lê reeds ’n tweede boek by die uitgewers, meer van ’n speurverhaal. Of hy gaan uitkom, sal ons nog moet sien. Ek vorder intussen goed met ’n derde boek wat drade van die eerste twee saambind en nuwe perspektiewe bied. Maar hy soek nog sy pad.”

Foto: Verskaf

In watter taal het jy die boek eerste geskryf?

“Ek het dit in Engels geskryf en voorgelê, en vertaal nadat die uitgewer dit aanvaar het. Maar, soos altyd, verander dinge maar tydens die vertaling, en dan vertaal ek ten dele weer terug van die Afrikaans na die Engels.

“Met die baie vertalery wat ek doen – ’n miljoen woorde oor die afgelope ses jaar – raak die twee tale vir my ál meer om’t ewe om mee te werk. Ek het in 2017 die eerste keer in 20 jaar ’n boek van meet af in Afrikaans geskryf. Dit lê ook nog by die uitgewers. Met die boek wat ek tans skryf (die derde Hochnamibstorie), kyk ek soms op en besef ek skryf nou hierdie toneel in Afrikaans terwyl die res van die boek Engels is. En so aan.”

* Teen dié prys beskikbaar by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Zirk gesels op 8 Maart by die Woordfees op Stellenbosch oor sy navorsing vir dié roman, maar ook oor sy nuwe voorstedelike sprokie, Ek Wens, Ek Wens, wat op pad is en die heruitgawe van sy misdaadroman ’n Ander Mens, wat met die uitreiking van die fliekweergawe saamval.

Dié rolprent, met Quentin Krog as regisseur en met onder andere Bennie Fourie, Marlee van der Merwe, James Borthwick, Frank Opperman, Laudo Liebenberg en An- dré Weideman in die rolverdeling, begin in April by Nu Metro wys. 


Bennie Fourie het 15 kg aangesit vir sy hoofrol in ’n Ander Mens. Hy het in ’n kykNET-onderhoud vertel: “My dieet was om alles te eet, op te hou oefen en altyd bier te drink.”